Die Venter in die Familiêre Vreemde

74. Liewe Lisa

Ek skryf vandag vir jou ‘n brief, my Lisa. Ek mis julle twee vreeslik. Ek weet julle wens julle was saam met my hier. Dis al byna twee weke. My toer in Tanzanie was woelig maar my hart het laas Vrydag custard begin klop. Wetend dat ek Vrydag vir ‘n week in Suid-Afrika gaan deurbring, was die opgewondenheid so groot, ek kon nie slaap nie. Nie ‘n oog toegemaak nie. Daar is mos ‘n klompie van ons eie goeters wat moet aandag kry hier, maar Lisa, dit is nie wat my opgewonde gemaak het nie.

Toe daardie vliegtuig se deure oopmaak en ek die beamptes voor my sien, glimlag en knipoog ek sommer vir hulle. Voor ek my kon kry…knipoog ek, asof ons iets weet. Asof ons ‘n geheim in gemeen het. Waar kom dit vandaan? Ek sien baie Afrika-lande… baie kulture, kleure en mense maar hierdie mense is mos ons se mense. Ek herken die gange op OR Tambo lughawe. Ek weet waar om te draai. Die amptenaar agter die immigrasie toonbank vra nie vrae nie…sy stamp net die paspoort. Woops is ek deur.

Jurien het my opgetel. My eerste SA-drukkie was vir Jurien. Soos ons Pretoria nader, merk ek iets op. Lyfie, ons raak ouer. Jy kleur darem jou hare maar my grysbaard verklap die waarheid. Ons het meer plooie as voor ons hier weg is. Ons het die laaste byna twee jaar gestoei op ons manier. So ook Pretoria! Haar plooie verklap ook die waarheid. Sy sukkel om dit weg te steek…sy kan nie meer nie. Lyfie, onthou jy nog die outjie op John Vorster wat die golfballe verkoop. Die wittes en geeles in sakkies toegedraai. Hy is nog steeds daar. By sy boom staan daar draadflaminke en hang daar blikvinke. Die seuntjie met die rooi koppie in die hand wat sy blinde ouma aan die arm lei in Paul Krugerstraat, is ook nog daar. By die volgende robot soek ek vir ‘n groen- of rooilig wat werk. Dis vreemd. Selfs die pers e-tol ligte op die highway is af. Al ligte wat flits is die bloulig brigade op die R21. Al agt van hulle wat verby jaag.
Met Jessie gaan dit goed. Sy is so gelukkig soos ‘n varkhond in Palestina. Ek is seker sy het my herken maar tog, enige iemand wat haar ‘n vryfie gee is bekend aan haar. John dra nog steeds sy strooihoed. Sy overall is bleekblou maar sy glimlag helder almal se gemoed op. Hy sê ek moet groete stuur vir die antie en vir poppie. Ek ry met Francois se kar rond. Elke keer as ek die flikker aansit, kom die ruitveërs aan. Elke keer. Ek dink daar is fout met daai Ford se bedrading. Ek het net een keer ‘n koue koors by ‘n motoris veroorsaak toe ek aan die verkeerde kant gery het. Maar Liefie, soos ek noord op die N1 ry, ry ek verby Stormvoël. Heimweë pak my bietjie. Daar is mos nie meer ‘n rede om daar af te draai nie. Vele Pretorianers het die Kaap bestorm. Jou ouers is ook nou daar. Pretoria is armer…armer sê ek jou. Maar jy sal nie glo nie lief, soos ek Zambesi tolhek nader, haal ek my Franse bankkaartjie uit. Daar werk dit nie. “Asseblief meneer, ek is van Frankryk af en hierdie kaarte werk nie hier nie.” vra ek in my kamma-AfriFranse aksent. “No problem sir. Take my card. Just leave there.” sê die weldoener in die Chinese kar agter my. Hier is baie van hulle op die pad. Opmerklik meer as voorheen. Kan jy glo, sonder hmm of haa gee hy sy kaart. Tog kom Pretoria ontstoke voor. Vies vir iets. Lonte is kort. Ek dink hulle sleep sewe swaer sakke sout vir te lank al. Hulle is voos. By die skietbaan staan die bakkies geparkeer en die manne in khaki betree die teikens. Dinge is taai. Hulle praat oor skootplasing en papierbokke... ander is tjoepstil. Daar is ‘n gewig wat hul dra. Meer as ooit. Vreemd sou ek sê. Pretoria se harte loop oor van hoop.
Ai ek wens julle kon saam by die Potties gekuier het. Die seuns raak ysters en ysters moet gesmee word. Nes Jos. Dit was soos die ou dae…nie baie gesê nie. Ons wil net naby mekaar wees…armlengte. Die Bankies is altyd reg vir 'n lekker kuier en diep gesels. Ons is mos ou pêlle. Die Joostes, af in die straat, se sonneblomme het ‘n knou gekry dié jaar. Dit het nie gereën soos dit moes nie. Dit was te droog. Dorette se moed is nie gebreek nie. Volgende jaar plant sy weer. Die du Plooy oumense se arms was wa-wyd oop. Gretig vir geselskap en altyd beskikbaar, net soos ons hul ken en ou-oom en tannie Freeke is al te dankbaar. Oom Jan se Jesus-liedjie het my siel opnuut verkwik. 
“My God is so groot, so sterk en so magtig.
Daar is niks wat my God nie kan doen.
Die Here is wonderbaar en die Heilige Gees leef in my hart.”

My meisie, ek wou huil…oom Jan het my naam vergeet maar hy weet wie Jesus is. Is dit nie belangriker nie? Meisie, by die kerk sien kry ek ‘n klomp bekendes. Die Oldewages, Krugers, Ferreiras, Bornmanne, Lombaarde, Fouries (hul dogter leer ook Frans), die Greens, die Eloffs, en ‘n spul onbekende bekendes. “Bid net!” was die boodskap. “Bid is die beginpunt van ‘n herlewing. Bid aktiveer die engele” roep oom Pieter Coffee uit. Pretoria se oë traan, maar sy slaan hulle nog op na die berge. Op haar knieë roep sy uit: “Vader! Vader! Ontferm jou oor ons.” 
Maar vroutjie, die reaksie van pa en ma was kostelik toe ek hul verras. Gerrie en Marieks het dit so mooi gespeel. Die foto-bom het hul stom gehad vir ‘n oomblik en toe kom die besef. Dit moet tog waar wees. Hy moet hier wees. Ma se jubel toe sy my sien was intens…amper kinderlik uitbundig en pa sin was innig emosioneel. Die Wimpy brêkfis-menu is nog dieselfde maar dis nie meer veertig rand nie. Dit raak duur. Dis vreemd. 
Vrytjie, volgende week is dit Kenia en dan huiswaarts. Ek kan nie wag. Ek verlang om terug te kom. Home is not just where I hang my hat...it is where I will find you. Ek is lief vir julle twee.

Groetnis/ Salutations

Die Venter in die Familiêre Vreemde

Comments

Popular Posts