Die Vereensame Venters
78. Poets
Die Reineckes van Zagreb het by ons kom kuier. Ons het hulle einde 2019 laas gesien...voor hulle Kroasië toe is. Ons weet presies die uitdagings waardeur hulle moes gaan en steeds moet verduur. Taal, kultuur en opnuut nesskrop in 'n land waar jou bure se denkbeeldige vriendskapsmure agt voet hoog staan. Dit was soos die ou dae. Lag, braai, UNO, en diep gesels...ons het besef...hulle is steeds ons hartsvrinne, al is hulle ver.
Ek het een van my beste tjommies op Veldskool ontmoet. Johann Prinsloo. Sy bynaam was Priester…seker omdat sy pa ‘n dominee was. As ek reg onthou was daar ‘n Omgewingstoer na die Laeveld in standard 4 en Veldskool in standard 8. Ek dink ons kamp was in die Baberton omgewing. Seuns en meisies apart natuurlik. Dit was blykbaar ‘n goeie geleentheid om die leiers in jou skool te identifiseer. So het ons verstaan maar ek dink dis sommer ‘n bogstorie. As al ons prefekte gekies was gebasseer op hul braafheid, veldkunde en oorlewingsvermoëens, sou ons in ‘n skool gewees het waar spanwerk, deernis, hulpvaardigheid, broederskap en uitnemendheid aan die orde van die dag was. Maar nee…dit was eerder “Wie is jou pappie en mammie en hoeveel A’s kan jy in matriek kry.” Veldskool het die kaf van die koring geskei wanneer dit nodig was maar ongelukkig was selfs daai skool polities nie korrek nie.
Op sulke kampe is die eerste aand gewoonlik chaos. Dis skeerroom en hare net waar jy kyk…tot laat. Saans is almal engelsman maar smorens is hulle smoors boesman. Niemand kan uit die katels kom nie. Ons het Veldskool met ‘n ander skool gedeel. Dink dit was ouens van Middelburg af. Daar was ‘n paar rowwe Jacks en die Kampkommandant het nie tjol geduld nie. Een outjie, ek kan nog onthou, ‘n luidrugtige knaap, was kort-kort deur die KK aangespreek en omdat hy elke keer sy hoed afgehaal het as die KK met hom gepraat het, het hy ‘n pluimpie by sy skool gekry vir goeie maniere. Meeste van ons het nie eers hoed gedra nie. Hy was seker hoofseun later. Terug by Priester…ons het een dag gaan stap met sulke swaer seil-en-staal stapsakke en uitgeslaap in hout rondawels. Ek en Priester het mekaar op dié stap raakgeloop. Daai aand moes ons wagstaan en ons tydgleuf was tussen 2 en 3 die oggend. Johann was altyd honger. So hy het in die kombuis gaan aas en ek het waggestaan by die deur…te bang ons gaan gevang word. So het ons vriendskap gegroei en gegroei. Hy was die waaghalsige een en ek was weer beter om risiko te bereken. As ek dit kon bereken…het ek dit geneem. My drempel was net nie so hoog soos Johann sin nie.
Ons het bike gery, saam vakansie gehou, by meisies gekuier…dinge van ‘n jong man het ons saam gedoen. Ek het selfs sy kar gesteel…wel eintlik sy pa maar ek moes die val vat. Dit het so gegaan. ‘n Paar dae voor Johann se 21ste verjaarsdag bel oom dominee Hennie my. Hy sê: “Attie, ek het ‘n plan. Ons gaan Johann se kar steel en dan moet jy op ‘n stadium verby ons ry sodat ons jou moet jaag en van die pad af druk.” Stilte. “Hoe nou dominee?” vra ek verbaas. “Ja…jy moet aantrek soos ‘n boef en dan op ‘n Saterdagoggend op Zambesi rylaan verby ons kom as ons polisiestasie toe gaan…en dan gaan ons jou jaag. As daar ‘n rooilig is, moet jy mooi kyk en laat wiel, hoor. Dit moet eg lyk.” Stilte. “Dominee! Ek is in… kom ons doen dit!” antwoord ek bewerig. Ek het geweet wat kom. Ek gaan ‘n vreeslike pakslae by Johann moet verwag maar dis al hoe hierdie poets gebak gaan word. So gebeur dit ook. Ek ry in Johann se Jetta CSX 1.8 met ‘n mus op die kop, donkerbrille, en ‘n jas. Johann, John Welch (nog ‘n vriend van Namibië) en die dominee, ry in ‘n BMW 325i…met ‘n hele paar meer perde onder die bonnet. Ek gaan hul toe verby op die ooreengekome plek op Zambesi Rylaan en hou toe my truspieël dop. Met ‘n gejuig kom daai Beemer uit sy laan uit…sommer intimiderend terwyl hulle toet en ligte flits. Dis daar toe ek my beste tjommie se kar diep in die rooi druk. Straatjies in en uit. Ek ry amper vir die beemer weg…en toe moet ek weer by die afgesproke “drop zone” uitkom. Soos ek met Dr. Swanepoelweg afry Wonderboomlughawe se rigting toe…begin die Jetta sluk. Wat kan tog fout wees. Ek verander die gêrs en gee vet…dan versnel hy en dan sluk hy. Daar is dit toe…die petrolliggie verblind my sommer. Enige student se vrees. Dis asof die Jetta vir my sê : “Asseblief meneer, ek is kapoet.” Ek trek van die pad af en met eens is die BMW by my. Dis nou hier waar ek veronderstel was om uit te spring en te hardloop…maar die blerrie jas wat ek aangehad het, het die veiligheidsgordel verdoesel. Johann en John spring uit…Boos…reg vir Boks. Johan gryp my deur die venster en op daardie stadium kom die gordel los. Hy tel my sommer uit die kar uit...arm klaar teruggetrek, die kneukels op sy vuis is spierwit…reg vir impak. “Johann , Johann…dis ek, dis ek..Attie!” Verbaas staan hy daar steeds reg om ‘n pothou te slaan. Dank Vader dominee het begin lag en die ys gebreek. Johann het besef…hierdie was net ‘n grappie…’n lawigheid. "Dis 'n prank"...giggel ek benoud saam. John het tot laat toe nog gewonder…"Hoekom sou Attie Johann se kar wou steel?”
Jos is ook vir twee weke na ‘n Veldskool. Eintlik maar ‘n Voortrekker-tipe-kamp maar ‘n Franse Scout-ene. Die Protestante soort. Die Katolieke Scouts is vreeslik gewild en georganiseerd. Die Flambeaux kampe is kleiner maar die fondasies praat meer met ons harte as die ander. Met sy slaapsak, matrassie, flits, tekkies en spaar klere, is hy hier weg. Ons het hom gaan aflaai…in Dordogne, so 75 kilometer van ons huis af. Toe ons groet was dit net trane en ‘n gehuil. Ek moes later ingryp, as hoof van hierdie huis, en leiding neem. Met my kalm maar tog ferm stem sê ek: “Vee af jou trane, maak mooi jou hare en laat die kind gaan…asseblief Lisa. Die mense kyk vir jou.” Jip dit was erger vir Lisa. Dis asof Lisa op ‘n twee weke-sonder-Jos kamp gaan. Ek en sy gaan mekaar weer ontdek. Ek sien uit. Lisa is ook al amper oor die heimweë…sy loer darem in by een van die mammas daar elke dag en nou en dan, stort sy ‘n traantjie of twee.
Hopelik maak hy ‘n lekker tjommie, nes ek.
Groetnis/ Salutations
Die Vereensame Venters
Comments
Post a Comment