Die Vermaaklike Venters

 6. Tjek hierdie kar

Genade….nog ‘n week.

 

As ek geweet het Geskiedenis is so belangrik vir die Franse, sou ek dit as sewende vak op skool geneem het. Oral waar ek hierdie week aansoek gedoen het vir karversekering, het die agente dieselfde storie gespin…”You have no history”. Genugtig….weet hulle wie die Franse-Hugenote was? Ek het ‘n Geskiedenisprys in standard twee gekry, maggies! Hierdie geen-geskiedenis kom teen ‘n duur prys….ons eerste kwotasie vir ons motorversekering was net so kort van 300 euro per maand. DRIEHONDERD EURO per maand, net omdat ek nie geskiedenis gehad of het nie. Ek het darem ‘n ander makelaar opgespoor wat meer Wiskundig aangelê was, en ek kon daar regkom.

 

So gepraat van karre… julle kan mos onthou dat ons uit op ‘n karjag was die laaste paar weke. Ons het finaal besluit op ‘n 2019 Hyundai Tucson (TAKSAN….soos hulle sê). Hierdie Taksie het teen 'n billiker prys gekom as sy Franse konkurente…seker omdat baie Franse nog nie die onderskeid kon tref tussen Noord en Suid Korea nie. Dié is nie 'n swart-Taksie (die ouens hier hou van donkerkarre want dit lyk meer duursaam) nie en hy drink ook nie diesel (want hul gaan dieselkarre meer belas in die toekoms) nie. Ons het maar besluit op 'n Beidge petrolmodel, want die hybrids hier is nog te chic (sjiek) en te duur vir ons.

 

Ek het hierdie week my eerste tjek in byna 20 jaar uitgeskryf….vir Lisa se naels nogal. Ek moes eers deur 'n leerskool gaan want “Wie skryf nog tjeks uit….in Frans?” Wel die Franse doen. Dit was vir 30 euro. Lisa sê dit was ‘n baie stil afspraak…die naeltannie het nie veel gesê nie. Toevallig is hier 'n paar huisagente wat ook maar Engels uitsluitlik vir selfverdediging gebruik. Lisa gooi nogal die Engels…want haar Franse airtime is al teen 9h00 op….en dan moet die Ingelse kontrak inskop. Hier en daar kom nog 'n Afrikaanse karateskop deur….maar sy doen regtig goed. Ek is baie trots op haar.

 

Jos was maatjie van die week, natuurlik. Daarvoor moes hy voor in die klas 'n praatjie aanbied oor homself, sy troeteldier en waar hy vandaan kom. Hy het dit sommer in Engels en Frans gedoen. Ek is seker dit was gebroke….but who cares! Dit was nou eers week 1. Hy verstom ons. Ons mag hom ook nie meer by die skool kom haal nie….hy kan self terugkom.  Hy raak nou so selfstandig, ek dink juis daaraan om hom op sy eie mediesefonds te sit….net om hom bietjie af aarde toe te bring.

 

Volgende keer vertel ons jul meer oor die huissoekery ....en my Haas en Skilpad teorie. Tot dan…

 

Groetnis/ Salutations

 

Die Vermaaklike Venters

Comments

Popular Posts