Die Versoete Venters

 8. Jam bek

Hierdie was ‘n opwindende week vir die Venters. Lisa is terug skool toe! Sy is nou ‘n student by ‘n Skool vir die Franse Taal ( New Deal Institut ). Sy het haar nuwe vrolike blourokkie aangetrek, pragtige lippies opgesit en met bietjie emosie het sy die publiekevervoer tot by die skool in La Bastide geneem. Die emosies wat gerol het, was meer dat hierdie ‘n massiewe sprong is wat ons geidentifiseer het na ons nuwe lewe maar ook ‘n stappie verder weg van die lewe wat ons agtergelos het. Sy is ‘n yster! Net soos Jos, het sy die eerste week uit die park geslaan. Sy is hoofdogter van haar groep…..ek het niks minder verwag nie!

 

Jos het begin toetse skryf. Eintlik het ons begin toetse skryf. Ek, Lisa en ene Google. Gelukkig is van hierdie toetse slegs net nog ‘n Franse toets oor Aardrykskunde of Geskiedenis. Verder speel hy ‘n bars hou, tennis en swem soos ‘n vis elke week. Dis maar steeds ‘n stryd om sy skoene aan te hou. Hy kry dit al by die skool reg maar dit bly een van die nuwe besienswaardighede vir die Carbon Blanaises. Kaalvoet is net te verregaande vir hulle.

 

Ons het gister Erfenisdag gevier saam met ons Franse vriende. Francois (ons swaer van SA) was ook hierdie week by ons (vir werk) en kon die vieringe saam geniet. Natuurlik het ons vir die menu gesorg. Lekker steak en wors met braaibroodjies! Hulle was gek oor hierdie braaibroodjies (met Mrs Ball’s Chutney nogal). Ons het soveel Afrikaans in hulle geploeg dat Celine sommer Afrikaans gepraat het aan die einde van die aand. Die beste frase wat Lisa vir Celine kon leer was: “ ’ n Boer maak ‘n plan maar ‘n Boervrou maak twee ”. Ek weet nie wat dit regtig beteken nie…seker omdat die Boervrou weet dat sy ‘n opvolg plan moet maak vir haar man se plan. Celine het dit vreeslik geniet om dit te kon sê.

 

Ons was vandag in St. Emilion….nie vêr van Bordeaux af nie. Dis ‘n baie oulike toeriste dorpie wat menigte Amerikaners, Spanjaarde, Britte en onderandere 4 Afrikaners lok. St. Emilion spog met die Konfyt-Wereldkampioen! Ag asseblief!!!! Ek is onmiddelik skepties….’n Wereldkampioen in Konfytkook. Dit kan nie wees nie! Ken hierdie kokertjie die Barnardt sussies van Suid-Afrika? Ek praat van die Barnardt sussies van onderandere Bloemfontein, Barrydale en Bergsering. Hulle kooksels het my grootgemaak! Ek was ‘n gesiene konfytfynproewer in Centurion gewees. Die beste manier om hierdie pesimisme te kon begrawe, was om hierdie winkel te gaan besoek. Nou ja…..Janick Paytra is ‘n Maitre Confiturier (Master Jam Maker). Ons het ‘n paar van sy jampies geproe……. en ek moet sê…..die Barnardt sussies sou ‘n close second gewees het. Hy voeg ‘n extra korrel spessery en ‘n tikkie geheim by sy konfyte by, en dan verander dit in ‘n gebottelde sirkus van smake. Daarvoor kan hy byna agt euro (R140) per 110gram vra.

 

Ons is stadig besig om hierdie Fransegroet-ding onder die knie (eerder wang) te kry. Ons figure dit nog uit. Sal jul later meer vertel.

 

Groetnis/ Salutations


Die Versoete Venters

Comments

Popular Posts