Die Vietse Venters
7. Trollie vir trollie
Hierdie
week vier ons 4 weke in Frankryk! Nou al of Nou eers? Wel….Bakkies (die Franse
Taal) smile so nou dan vir ons en dan ander dae maak hy asof hy ons nie ken
nie. Baie wispelturig hierdie Bakkies, maar ons gaan nie ongeduldig raak met
Bakkies nie….op die omblik is hy nog groter as ons. S t a d i g p r a a t
help ook so nou en dan…maar beide partye moet. Die Franse moet s t a d i
g Frans praat en ons moet s t a d i g Engels praat.
Lisa sê
juis nou die dag dat ons moet ook ophou dink ons is nog op vakansie. Ek verbeel
my steeds dat ek in ‘n lekker ATKV vakansieoord se karavaanpark is. Ek het
besef, dat om op die stoep te staan en tande te borsel terwyl die bure skool
toe stap, is nie noodwendig sosiaal aanvaarbaar hierdie tyd van die jaar nie.
Lisa gaan nou vir haar tweede 21dae-gewoonte-veranderings-dieet….want ons bly
in die verkeerde kant van die kar inklim. Ons sal jul op hoogte hou of ons
enige ou gewoontes afskud.
Ek is seker
as Gustave Eiffel sy nalatenskap moet meet aan die ingeneurswerke en
-beplanning wat in gegaan het in die goedkeuring van die Franse winkeltrollie,
dan draai hy net daar om in sy graf. Hierdie trollies bestuur heel goed as jy
net ‘n pakkie camembert , ‘n botteltjie compote de pomme , ses tamaties en ‘n
saucicon in het. Enigeiets meer as dit moet jy die K53 observasie reëls toepas
en begin konsentreer. Die algemene Franse tannie verander op maandeinde in ‘n
ene Nicola Cage . "Gone for 60 seconds" en dan kom daai trollie aan
die ander kant van die gang uit met al vier wiele wat gelyk rebelleer. Sodra
Mev. Cage klaar betaal het en buite in die parkeerterrein kom…verander sy in
Vinette Diesel . Gevaarlik en met nie 'n bang haar op haar kop nie, “drift” sy
tot by haar kar. Na sy al haar groceries uitgelaai het is die dwarstrekkery ook
op 'n einde.
Ons probeer
hard om aktief te bly. Ons gaan stap elke aand na ete en so verken ons die dorp
en ons lywe geniet ook ‘n ligte skud voor slaaptyd. Ek en
Mathieu gaan draf gereeld en so nou en dan ry Lisa saam met die fiets. Dus
speel die sprokieverhaal van ‘’Haastige haas en Vaatjie sy maatjie’’ drie
oggende n week, hom af hier in Carbon Blanc. My swaer sê altyd…"as jy wil dik wees moet
jy slim wees" (...of is dit: "as jy wil lui wees, moet jy slim
wees....?). Daarom moet ek hierdie draffie strategies benader. Ek het twee
wette wys geraak. As ek vir Mathieu moeilike vrae vra vroeg in die oefening,
dan raak sy suurstoftenk vroëer leeg en dan kan ek byhou aan die einde van die
draffie. Tweede ding wat ek besef het is dat kommunikasie in die huwelik
ongelooflik belangrik is. Lisa hoor dat Mathieu so lekker gesels in die begin
van die oefening dat sy ook wil saamgesels ….en dan begin sy my ook ‘n klomp
vrae vra.
Jos se Frans verdubbel weekliks. Dit verbaas
vir my en Lisa geweldig. As
hy so aangaan behoort hy teen Maart volgende jaar ons belastingaanslag te kan
vertaal.
Ons poging
om verblyf na ons “garage-huisie” te kry, het momentum gekry. Dis nog vroeg
maar ons het 'n huis geidentifiseer. Nou moet ons eers oor 'n paar admin
hekkies spring. Hou vir ons duim vas.
Groetnis/ Salutations
Die Vietse Venters
Comments
Post a Comment