Die Venter Versoening
12. Wangdruk
Ons vra
nederig omverskoning vir ons gereelde lesers wat so pligsgetrou elke sondagaand
wag vir ons brokkie nuus om afgelewer te word en nie laas Sondag hul uitgawe
ontvang het nie. Ons het inderdaad nie laas naweek ons storie ter pen gestel
nie want ons het bietjie in Duitsland gaan kuier. Janx en Niens het onlangs
Berlyn toe getrek en die Van der Banke (Dirk en Suz) moes ook in Berlyn wees
vir werk en plesier. SO…dis mos ‘n perfekte geleentheid vir ‘n reünie. Dit het
ons harte so goed gedoen om ons maatjies weer te sien en natuurlik, het ons die
meeste daarvan gemaak! Met Curry Wurst
in Charlottenburg tot Döners in die middestad, pizzas, Donuts, Landapfel
en room, het ons seker gemaak ons dek die gastronomiese hoogtepunte wat die
land kan bied. Brandenburg, Karl Marx, Eastside Gallery tot Potsdam (op
bicycles nogals) was maar net van die besienswaardighede wat hulself, tydens
ons kuiers, kom bekendstel het aan ons. Ons voete was so gedaan dat buiten die
ongelooflike treinnetwerk van Berlyn, ons selfs elektriese skoeters aangewend
het om van A na B te gaan. Waarookal B was.
Jos het
nuwe gunstelinge ontdek. Ons weet nie of dit regtig 'n nuwe gunsteling is nie
en of dit net die wurm in sy maag is wat roep nie. Hy het
'n liefde vir Saucisse de Toulouse en Ratatouille gekry. Vir die wat nie weet
nie, Saucisse de Toulouse is die naaste aan boerewors wat jy hier kry. ‘n Mooi
dik gestopte worsie…maar vark. Jos sê dat hierdie wors lekkerder is as die wors in Suid Afrika want:
“…hier gebruik hulle vars varke”. Net daar besef ek dat
ons Venters se jagkultuur in Suid Afrika nie hierdie laaitie enigsins
blootstelling kon gee aan SA se varsvarkwors nie. Hy ken nie iets anders as vlakvark- of
wildswors nie. Sy liefde vir Ratatouille (nie die animasie
film van 2007 nie) het ons verbaas. Hierdie is eintlik maar ‘n dis van die
provinsie Provence uit die laat 1700s waar arm boere saam groenteskille en
skraps in ‘n pot gegooi het, en gekook het. Hierdie resep het oor tyd bietjie
meer lyf gekry en vandag bestaan dit uit tamaties, eiervrug, murgpampoentjies,
uie ensovoorts. Nou ja, Lisa het ‘n klompie groente persent gekry en Jos kon
nie genoeg van dié lekker groentemengsel inkry nie.
Jos het vakansie vir twee weke en volgende
week is dit Lisa se beurt. Vrydagaand tydens die swemoefening trek hy toe wraggies 'n tand in die
swembad! Yip…sommer onder water. Tot sy blydskap gee hy toe die tand vir die
coach om te hou en hy verduidelik mooi vir die oom wat gebeur het…..in Frans!
Ek weet wat julle dink.... Ja….ons weet! Met die terugry huis toe, hoop ek en
Lisa in ons binneste dat die tandemuis van Suid Afrika nie saam met ons bagasie
gevlieg het Frankryk toe nie. Wel, ons was verkeerd. Hierdie klein blikskottel
het dit wraggies tot hier gemaak. Nie lank na ons by die huis aangekom het nie,
sê Jos ‘’ek sal seker ‘n eurotjie of twee kan kry vir hierdie tand ”.
Aangesien
Jos nou ‘n week voor Lisa vakansie het moes ons ons dae so effe beplan. Ek het
twee dae van die huis af gewerk en een dag hoef Jos darem net so vier ure op sy
eie “extra werk” by die huis doen totdat Lisa terug is van Taalskool af. Maar
Vrydag is Jos inderdaad saam Taalskool toe en soos die Ingelsman sê….was hy the
talk of the town . ‘n Regte kapokhaantjie onder die klomp
henne. Hy het dit vreeslik geniet om die dosent vrae in Frans te vra en eerste
die antwoorde te gee…in Frans. Ja….ons weet ! Die kersie op die koek was toe hy die dosent vra of sy al
gimnastiek gedoen het (in Frans)… want hy kan die splits doen….en toe doen hy
dit tot almal se bewondering. JAA….ONS WEET!
Een van
Lisa se klasmaats het ons gisteraand omtrent bederf met 'n feesmaal by hul
huis. Sy is van Vietnam en haar man is van Frankryk. Dan was die ander gaste
van Venezuela en ook Uruguay. 'n Lekker pot vol nasies. Hier moes ons weer
bontstaan oor hoe ‘n mens groet in Frankryk. Om die erns van hierdie onderwerp
te verstaan moet ek julle eers ‘n bietjie Franse konteks gee van La bise . Dis
eerder 'n gewoonte of amper 'n refleks. By 'n informele geleentheid ... soen
hul sommer almal maar by 'n formele een, slegs dié wat hul ken. Franse soen op
die wang….maar dit is nie eintlik 'n soen nie….dit klink net soos 'n soen. Jy
moet die geluid maak! Dus is dit ‘n wangplak met 'n geluid. Ons grootste
vraagstuk was: “hoeveel keer en waar begin ‘n mens?” Nou Ja….hier in die
Suid-Weste en grotendeels die res van Frankryk is dit twee keer, ander plekke
soos die Suide en Suid-Ooste is dit drie keer en party areas in die verre
Noorde, slegs een keer. Dan kry jy die spul in die middel wat weer nie kan
ophou nie en vier keer moet soen. Maar Krities om te weet is dat jy begin regs!
Maar in die Suid-Ooste begin jy links!Daarom as jy inkom vir 'n wanggroet, moet
jy eerstens commit . Jy kan nie terugtrek nie…dit gaan die ander persoon van
balans af gooi....en dan voel altwee awkward . Tweedens, moet jy die persoon
nader met so skewe of skeel kop sodat jou regter wang hul regter wang tref…en
dan moet jy jou lippies begin tuit en wanneer jy 1 Bar druk opgebou het, kan jy
liggies “release”, en dit gee vir jou die klank wat nodig is en ook die teken
is, dat daai wang nou gegroet is. Nou vir die linker wang…..
Vir jare
al, in sekere Suid Afrikaanse kringe, is die heupdruk (soos Jandré sal sê) of
selfs 'n handdruk die mees aanvaarbare manier om die dames te groet. Die manne
skud blad maar dan is daar ook van daai ouens wat jou met die palm van sy hand
benader en met so Steven Seagal-move draai hy sy hand en trek hy jou nader vir
'n off-centre druk en ‘n klap op die rug. Partykeer twee klappe. Ek is ok met
daai manier ook. Waarmee ek nog nie vrede gemaak het nie, is wanneer my Franse
vriend voel ons is nou lank genoeg vrinne….en hy verdien ook ‘n stoppelbaard,
Old Spice wanggroet….met daai 1 Bar " pssht " release by. So, vir 'n
oomblik klink ons soos twee stoompotte wat stoom afblaas en vir die res van die
aand kuier ons alte lekker….tot ons weer moet groet.
Nou ja
vrinne, gisteraand het ons 'n uur langer geslaap want vanoggend vroeg het
Europa se tyd bietjie aangeskuif. Ons sal jul volgende week vertel hoe hierdie
uur ons lewens impakteer.
Groetnis/
Salutations
Die Venter
Versoening
Comments
Post a Comment