Die Verligte Venters

 10.       Franse Flikkers

Die son raak al hoe luier om sy kop uit te steek in die oggende. Erns in ons buurt is daar 'n hoenderhaan en dié het ook besluit om eerder hier van tien uur af vir werk op te daag.

 

Enige iemand wat al na Frankryk gereis het weet seker dat die Franse meester-kritici is. Niemand word die vuurlyn gespaar nie, nie eers hul eie landgenote nie. Frankryk is opgedeel in verskeie satiriese afdelings soos gesien deur hul inwoners. Hierdie kartering wys verskeie geopolitiese en kulturele spilpunte soos Parys en Marseilles, Bretagne en Normandie ens. Een duidelike grens is byvoorbeeld die rugbygordyn maar vir meeste soortgelyke skeidings is dit oorwegend Parys teen die res van die land (of andersom). Daar is wel een geveg waar dit die hele Frankryk is teen die Sud Ouest (die Suid-Weste). Die geveg gaan rondom 'n stukkie deeg. Is die korrekte naam Pain au Chocolat of is dit eerder Chocalatine? Julle lees reg….die Franse stry of hierdie lieflike Chocolate Croissant (soos die Britte dit noem), ‘n Chocolatine of 'n Pain au Chocolate genoem moet word. Die verbuiging in die naam het oor die jare gekom na August Zang in die 19e eeu 'n Schokoladencroissant van Nederland ingevoer het. Die Bordelais-e is so passievol oor die Chocolatine erfenis dat 'n klomp studente hulself tot die parlement gewend het om hierdie naam sy eie regmatige plek in die Franse woordeboek te gee. Die aansoek is verwerp en Pain au Chocolat bly maar die verwysing. Dit keer egter nie die boulanger (bakker) van Bordeaux om jou €1 vir ‘n Chocolatine of €1,50 vir ‘n Pain au Chocolat te vra nie.

 

Ek moes die laaste tyd al ‘n paar keer werk toe ry met ons kar en sodra jy die bestuurder is, is jy meer bewus van hoe ander bestuurders "operate". Een geit wat ek opgemerk het, is hul bedagsame manier om vir jou te sê: “hou asb regs, meneer.…ek wil graag verby kom”. My verwysing in SA was maar altyd dat jy van so 200 meter af al jou hoofligte begin flits sonder om spoed te verminder. As die "Slow-Joe" in die vinnige baan nie spoedig genoeg reageer nie, is die oplossing maklik. Jy sorg net dat jy 'n 5meter trefafstand van die bumper voor jou handhaaf...…en dan begin jy daai hoofligte met mening flits….asof jy ‘n extra klomp watts uit die lampie forseer….en as dit nie werk nie, begin jy heen-en-weer swenk en skree jy in gebare taal op die bestuurder voor jou: "£#@ links...genugtig!!". Wel, die Franse is nie so nie. Ooo nee monsieur . Hulle is meer geduldig in hul benadering. Hier gooi hulle vir jou ‘n linker-flikker. Hierdie is die mees aanvaarbaarste, sagste en 'n baie subtiele aanduiding (sonder om mekaar se gevoelens seer te maak) dat die een wat flikkers gooi....vinniger is as die een wat dit ontvang. As jy nie dadelik reageer nie….is hulle nie ongeduldig nie (nog nie). Al wat hul doen is om hul flikker vir 'n wyle af te skakel en 'n paar sekondes later sit hul dit net weer aan met die hoop dat daai oranje LED liggie jou gaan verblind en jy nie ‘n keuse het as om uit hierdie disco te wil ontsnap en dan regs te beweeg nie. Aangesien ons nog die wêreld verken (dit beteken eintlik ons ry nog met 'n GPS rond), haal ons skaars die spoed wat ons die reg kan gee om in die linker baan te mag bestuur.

 

Ons het 'n vreeslike sosiale naweek gehad. Ons was genooi vir ete by 'n mamma wat Lisa by Jos se swem ontmoet het. Sy het Lisa so paar weke terug van versuiping gered....Lisa het byna versuip in haar Franse woordeskat om op die regte woord te kom om vir die afrigter te probeer verduidelik dat Jos wil kom vir lesse. Vandag sou Lisa daai selfde oefening met een asem onder die water kon nail .

 

Raclette seisoen is op ons. Ons het saam met Perle, Mathieu, Marjorie en Céline rondom 'n yslike groot Mont d'Or kaas gekuier. Die kaas word in die oond gedruk en later word hierdie gesmelte kaas met 'n lepel uitgeskep en oor charcuterie (dis varkvleisies soos jambon blanc, jambon cru, coppa en bacon fume ) en aartappels, gegooi. Ons pense het omtrent geblink.

 

Hierdie Woensdag is Jos se tiende verjaarsdag. Sy eerste een in Frankryk. Ons weet nog nie watter emosies om te verwag nie maar ons gaan ons bes doen om dit spesiaal te maak. 

 

Groetnis/ Salutations

Die Verligte Venters

Comments

Popular Posts