Die Vertolkte Venters

 9. Asblik

Hierdie was ‘n effense grys week vir die Ventertjies van Carbon Blanc. Die onvoorspelbare weer het sy kop in ons lewens kom indruk. In Mei het Lisa vir Mathieu gevra of Bordeaux se reënseisoen in die winter is. Hy het geantwoord: “You can’t say that…..”. ‘n Kort en kragtige antwoord en toe wag ons in spanning vir die rede. Geen rede…geen verduideliking nie, want daar is nie. Julle sal dink ek oordryf maar dinsdag en woensdag het die wind vir vyf minute gewaai, toe reën dit vir vyf minute, toe skyn die son vir vyf minute en toe skarrel ek gou om die kar af te droog. Die siklus het homself weer herhaal: Wind vir 5 minute, reën vir 5 minute, son vir 5 minute en toe droog ek die skuifdeur af. Wind 5, reën 5, son 5 en toe mop ek. Julle dink seker regtig ek oordryf….wel julle is reg. Ek het niks afgedroog of gemop nie. 

 

Net soos Ferdinand Porsche die baanbreker was vir die 911 Carrera, kan ons trots wees op ons eie William Venter wat die Venter-waentjie ‘n legende in SA gemaak het. Frankryk het ook menigte sulke nyweraars maar een van hulle was ene Eugene Poubelle . Hierdie man het die asblik uitgevind. Kan jul dit glo? In die laat 1800s was hy in beheer van die besluite om die higiene in Parys op te skerp. Hy het toe hierdie houers laat maak en dit aan die Parisians uitgedeel sodat hulle nie meer hul huishoudelike rommel op die strate hoef te smyt nie. Dit het ook die taak van die rommelverwyderaars soveel makliker gemaak. Tot vandag word ons swart (en groen) asblikke wat ons gebruik om ons gemors weg te gooi, ….”Poubelle” genoem. Poubelle vert (herwinbare rommel) word op Woensdae en Poubelle Noir op Maandae en Donderdae. Hierdie was nou 'n absolute nuttelose brokkie inligting vir julle. Gratis.

 

Ek het met my taalklasse hierdie week begin. Twee aande ‘n week. Ek wil net iets duidelik maak; hierdie Bakkies is ‘n reus!! Daar word geen Engels in die klas gepraat nie….geen! Die enigste Engels wat gepraat word is ek wanneer ek sê: “What??”. Ek het besef dat ek lank op hierdie gemaklike Franse level ge-hover het en eweskielik trek hulle my twee vlakke hoër. Ek het nie goed geslaap hierdie week nie en weet nou dat al hoe ek hierdie reus gaan kan oorwin, is as hierdie Jan die boontjierank klim. Ons moet maar net klim!

 

Jos begin vir Lisa help met sy huiswerk. Sy juffrou is baie beindruk met sy vordering. Sy leerbare gees en sy moed om te probeer, is so verblydend vir haar. Hy is ook uitgenooi na sy eerste verjaarsdagpartytjie. Lisa is vreeslik toegewyd tot haar klasse en vorder baie goed. Ek dink nie hierdie “Bakkies” weet wat vir hom wag as daai boontjierank eers knak nie. Prys die Here vir sy genade…want Hy weet presies hoe Hy ons wil posisioneer. Ons weet wat ons volgende moet doen en Hy sal ons krag gee.

 

Ons gaan jul nog vertel van die groetmaniertjies van die Franse maar ook die geite van die Franse bestuurders. Tot volgende keer…

 

Groetnis/ Salutations


Die Vertolkte Venters

Comments

Popular Posts