Die Vlinderslag Venters
11. Eerste verjaarsdag
Hierdie Ventertjies in Carbon Blanc se
hartjies was bietjie broos hierdie week. Laas Sondagaand was ‘n moeilike aand
vir ons. Die realiteit
van ons hoofstuk in Frankryk het naby aan die been gesny. Ons
moes saamtrek en hierdie rouproses identifiseer vir wat dit is. Ons moes
bietjie deur dit stoei en dan weer ons emosies en ons mission vir die Here gee.
Dankie tog vir ons
Vader wat ons optel….want self... sukkel ons.
Jos het ook
Sondag aan sy heel eerste swemgala deelgeneem. Een item was rugslag, ‘n tweede was
vryslag en die laaste item was ‘n borslag/ vryslag combo. Hy het vierde in sy
een lopie gekom en tweede in die ander twee. Ons het besef daar is reëls in
swem ook. Reëls soos; twee hande moet die muur raak voor jy mag omdraai en jy
kan ook nie vir ewig onder die water swem nie. Hey….dis hoe ons leer. Jos het
ook besef hy is nie die beste swemmer in Frankryk nie al was hy die beste
swemmer in sy groepie van drie in Wierda Park, Suid Afrika. Dis waardevolle
lesse wat die man leer.
Woensdag
was sy verjaarsdag en gister was sy partytjie. Lisa het haarself omtrent
oortref. Dit was balonne, smulpakkies, cupcakes en ‘n koek….ook in aggenome die
beperkte hulpbronne wat sy tot haar beskikking gehad het. Sy moes by Mathieu
gaan bak het en met Lemmetjiegroen versiersuiker met crottes de souris (direk
vertaal as muispoef....eintlik net sprinkles) en “Caramel treat” (wat Francois
met sy vorige trip Frankryk toe vir ons ingesmokkel het), het sy smiles op
almal se gesigte gesit. Al die maatjies het vir hom gesing….ons ook. In Engels
en in Frans. Ek moet sê…ek het soos ‘n egte Springbokondersteuner op Loftus
gevoel wanneer die Bokke die Walliesers pak. Die atmosfeer is elektries. Dis
vuurwerke want die Impis het hul verskyning op die veld gemaak, die skare
brrruuulll…dis net rook waar jy kyk…en dan draf die Bokke op. Dis chaos!!! Dan
is daar een of ander celeb wat gekies is om die volkslied te sing. Ek
hhmmm-haaa-sa saam en dan hier erns in die middel… “O se boloke setjhaba
sa…SOUTH AFRICAAAA” want ons almal wag mos vir die Afrikaanse deel om in te
skop…seker omdat dit al deel is wat ek ken. Dis hoe dit vir my gevoel het toe
hulle vir Jos “ Happy Birthday” en “Joyeux Anniversaire” gesing het….ek het net
gewag vir die deel wat ek ken...en dit was die Hiep-Hiep-Hoera deel.
Frankryk is
nie net besig om herfs binne te gaan nie, hulle is ook besig om hul
staakseisoen in volle glorie te beleef. Dit is nie veel anders as in Suid
Afrika nie. Ons weet mos dat hierdie vakbonde ‘n tydgleuf het waarin alles moet
gebeur. Hier het almal mos lekker vakansie gehou in Augustus. Die vakbonde kom
dan in September bymekaar en besluit dan waar gaan ons begin moeilik maak en
die land op sy kniee dwing….Oktober skop alles af en hulle moet vining tot ‘n
slotsom kom want wie hou nou daarvan om in die nat en koue te gaan protesteer.
In Suid Afrika wil hulle ook gewoonlik dinge voor kersfees afhandel. Hierdie
laaste week in Frankryk was dit die brandstof-raffinaderye wat hande gevou het
vir meer geld. Parys en sekere groot sentras was sonder brandstof en dit het
die land taamlik in ‘n paniek gejaag. Indien so ‘n staking die ekonomie
drasties gaan belemmer, kan die president ‘n force majeure aankondig wat dan
die weermag die reg gee om die staking onmmidelik te briek. Ons het darem nie
daardie punt bereik nie, maar hierdie week gaan Jos weer by die huis moet kom
eet want die kantienwerkers gooi dan ook hul potte, opskeplepels en
resepteboeke neer.
Ons gaan
jul nog vertel van die een-wang, twee-wang, drie groetgedrag wat ons moet
aanleer. Ons kry dit nog steeds nie lekker reg nie maar ons leer. Daai ervaring
sal ons nog met jul deel maar tot dan……
Groetnis/
Salutations
Die
Vlinderslag Venters
Comments
Post a Comment