Die Venter Verkasing
Muurklim
(Bouldering) is nou nie ‘n sport wat ek vir enigeiemand sal aanbeveel nie. My
definisie van muurklim was eenvoudig…identifiseer die mees geskikste plek op
die muur met die meeste grip , kyk dan of die bure se hond nie naby is nie,
spring oor, kry die bal en sorg dat jy kan terugkom. Ek en my broer was nogal
goed met hierdie….selfs boomklim. Hier is dit ‘n vining-groeiende sport!...van
computer nerds, tot die ryk “ Boubous ” van die dorp. “Boubous” is die
slang-woord vir die ryk jeug van Bordeaux. Hulle is gemiddeld tussen 19 en 26
jaar oud wie se inkomste gedeeltelik of meestal van pappa en mamma se geld
afhang. Hulle is oorwegend vegan (nie eers vegataries nie,..al dink ek hulle
cheat as niemand kyk nie), hulle beskuldig die ou(er) garde van
wêreld-opgeneukery en respek vir hierdie ouer generasie is nie in hul fondasies
gevestig nie. Hulle verdien mos beter…maar is nie bereid om té hard daarvoor te
werk nie. Dit gesê…daar was baie “boubous” by dié muurklimsentrum en ons was
daar omdat ‘n vriendin verjaar het en ons soontoe genooi het. My eerste
observasie was….ek is dubbeld hulle ouderdom en dubbeld hulle gewig! Net daar
besluit ek…ek gaan hulle nie 'n ding of twee wil bewys nie…dis nie nodig nie…ek
kon muurklim op my dae…en daar was ‘n doelwit. Die doelwit was duidelik...KRY
DIE BAL TERUG. Hulle doelwit is: Kyk na die muur, kyk dan wie kyk vir hulle,
maak jou hande vol wit poeier en hang soos ‘n skildery so hoog as moontlik. Ons
het so drie keer die maklike roete beklim en daarna geweet...enigeiets meer
gaan ek die volgende oggend voor boet.
Hierdie
week het ons 'n baie belangrike vakansiedag gevier. Armistice Day . Op die 11e
uur van die 11e dag van die 11e maand in 1918 het die Eerste Wêreldoorlog tot
‘n einde gekom. Na ‘n vierjaarlange bloedbad tussen die Westelikemagte en die
Sentralemagte van Europa, is ‘n skietstilstand aangekondig en ‘n “ armistice ”
is geteken by Le Francport naby Compiegne . Dit het ook die oorwinning vir die
Verenigdemagte oor Duitsland beteken. Daar is baie teoriee en stories wat
eintlik hierdie oorlog tot ‘n halt gebring het, maar wat ek weet is dat ons
Hemelse Vader sy hand daarin gehad het. Genoeg was genoeg. Frankryk het 'n
groot rol in hierdie verdrag gespeel en wat nie ‘n beter geleentheid om hierdie
dag te vier met ‘n lekker Switserse-dis saam met Franse-vriende nie? Dit was
Lisa se eerste voorstelling aan “ Raclette ”. Raclette is gesmeltekaas wat oor
gekookte aartappels gegooi word. Dit kom van die Franse werkwoord “ racler ”
wat beteken om te skraap. Charcuterie is ook op die tafel en saam met die kaas
is dit ‘n fantastiese kombinasie. Ons het ons vervreet aan hierdie lekkerte.
Elke happie kom saam met ‘n “oee” en ‘n “ahh” of ‘n “mmm”. Soos 'n klomp
beeste.
Saterdagaand
het ons weer gaan rugby kyk by ander vriende. Ook ‘n Franse familie. Hierdie
was nie net ‘n toets tussen Frankryk en die Springbokke nie…ons vriendskap was
ook beproef. Die beste manier om ‘n vriendskap toets is om te leer hoe die
ander party teleurstelling maar ook ‘n oorwinning handteer. Ek is bly om te
noem dat JC en Celine2 (ons het net te veel Celines in ons vriendekring) ‘n
goeie sportmangees koester. Ons Ventertjies met ons springboktruie en die
Maries (hul van) in hul blou Fransetruie….het ons op en af gespring sodra iets
gebeur. Hulle is net so passievol en Lisa hoef darem nie omverskoning te gevra
het vir my gebulder nie. Nou toe… Les Bleus het gewen…al dink ek nog steeds
daai was ‘n dubbel beweging oor die doellyn.
Ons gaan jul nog vertel van ons nuwe
verblyfplanne en die groot bohaai oor 'n broodjie. Tot dan...
Groetnis/ Salutations
Die Venter
Verkasing
Comments
Post a Comment