Die Verkouerige Venters
16. Snotneus
Die Ventertjies se gesondheid het hierdie week
‘n paar Franse verkoue-houe gevat. Hier was twee pasiente in die huis en dit het weer ‘n nuwe dinamika
gebring. Lisa het bronchitis opgetel en Jos het gevolg. Eers probeer ons
self-medikeer so ver as moontlik, want eintlik probeer ons die Franse dokter
vermy so lank as wat ons kan. Hoe verduidelik jy aan hom, in Frans, “ my neus
loop ”. Hoe sê ‘n mens in Frans “ ek is aamborstig en my stem klink soos Bonnie
Tyler sin? ”. Daar is net sekere dinge wat ons beter in Afrikaans kan beskryf
en Dr. Nadia sal onmiddelik weet wat om voor te skryf. Hier het Lisa mooi al
haar sinne vertaal voor sy gegaan het…sodat die dokter nie hoef te frons as
Lisa proes-praat nie. Nou ja, so gemaak en hulle twee is fort na dieselfde
dokter wat vir my ‘n Pluimbal-toestemmingsbriefie gegee het. Hy kon als
verstaan en kan eintlik baie beter ingels praat as wat hy dink. Die dokter het
bepaal dat Lisa nie antibiotika nodig het nie, net ‘n paar pille en
spuitjies….sy gaan maar net ‘n bietjie langer haar gekug moet verdra. Jos was
okei en die dokter het gesê hy kan maar die volgende dag terug skool toe. Tot
sy teleurstelling. Dis hier waar ons ook vir wysheid gevra het, en hom maar in
elk geval Vrydag by die huis gehou het. Ook maar goed…want toe begin sy bors “
shots ” vat. Hulle is beide beter vandag en ons is dankbaar vir die Here se
genade. Lisa het haar eintlik baie goed van haar taak gekwyt deur als in Frans
vir die apteker te vra. Jos was weer vinniger op die bôl om die regte bedrag
vir haar te sê…hy hoor dié goed baie vinniger as ons oues.
Lisa het
sommer van die geleentheid gebruik gemaak om ook vir ‘n
Pluimbal-toestemmingsbrief te vra. Natuurlik moes sy ook skaal toe en so aan.
Sy het teruggekom met ‘n teorie:…sy is seker dat die swaartekrag in die
noordelikehalfrond groter is as die kragte in die suidelikehalfdrond. Dit moet
die rede wees vir die verskillende skaallesings tussen Noord en Suid. Dit…of
die tweede winter begin nou sy tol eis.
Na drie
maande in Frankryk voel ons soms of ons vir Bakkies in ‘n lekker “half nelson”
kop-klem beet het….en dan ander dae kry ons omtrent miltsteek soos ons soek na
die woorde. Te minste bly ons nie meer stil nie, ons sê iets…al gaan dit
gepaard met 'n klomp klanke. Mathieu se kinders begin ook al meer met ons
gesels en dit klink nie meer soos 'n kattekoor soos ons probeer kommuikeer nie.
Vrydagaand het Jos se tong so vining in Francais-mode in gegaan, toe hy my
vertel dat sy volgende verjaarsdagkoek so moet lyk...in Frans, het ek vir
oomblik stom na Lisa gekyk en toe gesê: “wat dehoeners* het hierdie kind nou
net gesê?”. Dis dinge soos hierdie wat ons opgewonde maak…dit wys deurbraak en
verbetering al kry ons dit reg om nog net een sin in Frans saam met die
Patriat-kinders te bid…“ it is gonna come ”.
Ek kon my
motorfiets by die stoor in Pessac gaan optel hierdie week! Dit was een van ons
vele mylpale wat ons vier. Oorwinnings soos hierdie motiveer ‘n span soos ons,
dit bou diepte, ervaring en dit bring ektra nostagie wat ons Venters nog lank
gaan terugverwys na. Om motorfiets te kon ry terug op ‘n pad wat ek nog nooit
met ‘n “ moto ” gery het nie, het nie net VRYHEID geskree nie maar ook weer ‘n
besef gebring…“ons is nou hier”. Ek twyfel of Mathieu ons motor-saamryklub gaan
wil veruil vir ‘n lift op my bike werk toe. Ons sal maar sien.
Die res van
ons meubels is ook in daai stoor….erns in sulke groot houtbokse. Ons was so
naby aan ons goed maar tog so ver…dit moet maar net wag tot ons eendag in ons
huisie intrek.
Groetnis/ Salutations
Die Verkouerige Venters
Comments
Post a Comment