Die Verweerde Venters
13. Dokter dokter
Ons het
hierdie week ‘n onverwagse besoeker gekry. ‘n Ene monsieur
F. L'hiver (meneer K de Winter). Hy het ‘n yskoue houding met ‘n papnat
handdruk. Met sy rooi en snotterige neus, snuif hy en maak hy keelskoon, sodra
jy by die huis uitstap. Dis nie dat ons hom nie verwag het nie, dis net dat ons
was nie voorbereid vir sy bewerige lippie nie. Ons het mos gedink dat ons teen
die tyd knus in ons eie huisie, in ons eie bed en in ons eie pantoffels kon
paradeer….maar nog nie. Baie
van ons warm klere is nog in 'n stoor in Pessac en toegang is effe ingewikkeld.
Dis ‘n storie vir ‘n ander dag. Hier sal ons eers moet
vrinne maak met monsieur Jean-Pierre Makaplan . Intussen moes Lisa gaan
warmklere koop vir Jos aangesien sy hemde begin krimp het met die Franse seep.
Lisa moet self ‘n baadjie aanskaf…niks te doen met die seep nie…sy het net te
yl gepak toe ons uit SA weg is.
Ek en Jos
moes ook ‘n dokter gaan sien het hierdie week. Ons makeer niks…die rede vir die
besoek is dat hier in Frankryk ons ‘n doktersertifikaat benodig as ons aan
enige sport wil deelneem. Jos het dus een vir swem- en tenniskompetisies nodig.
Ek weer vir hardloop (as ek aan ‘n wedloop wil deelneem) en pluimbal.
Ja….pluimbal! Carbon-Blanc het nou ‘n pluimbalklub en ek dink dat ‘’pluime’’
net soveel sagter klink op die kniee as "squash". Hierdie Franse
dokter (moet nie dink dokters kan outomaties Engels praat nie) moes ‘n paar
toetse doen soos gewig, lengte, hardklop, bloedruk ensovoorts, voordat hy die
sertifikaat kon uitreik. Dis amper soos ‘n padwaardigheidstoets. Jos was eerste.
Ek het dit al gesê…maar Jos verbaas ons. Kinders oor die algemeen, verbaas ons.
Ons volwasse brein is reeds in boksies opgedeel, waarvan Afrikaans sy eie
boksie het, Engels sy eie en in my geval, is daar al ‘n baie klein boksie vir
Frans. As dit by kinders kom, het hulle net een groot boks en hulle smyt als
daarin. So…soos die dokter vrae vra vir Jos in Frans…antwoord hy en doen hy. Ek
is nog besig om plek te soek in my Franse boksie en as daar nie plek is nie,
probeer ek dit deur my Engelse boks forseer. Dis seker hoekom, as Jos sy kamer
aan die kant maak, hy net als wegsteek in sy speelboks. My ouers moes defnitief
met dieselfde gesukkel het toe ek so oud was. Al wat ek weet is dat “die penny
drop” een of ander tyd…en al ons harde werk sal tot sy reg kom.
Volgende
was my beurt. Die eerste versoek was om op die skaal te klim. Soos enige man
sal maak…haal ek eers alles uit my sakke uit. Skoene ook uit…ek kon nie my
broek en hemp uittrek nie maar dis maklik 'n ekstra 200gram...net ter
inligting. Ek moet ook bysê…dit was
laatmiddag en ek het reeds middagete gehad. Nou ja... toe die syfertjies tot
ruste kom styer die dokter so twee tree terug. Ek is seker hy het net lanklaas
‘n ou met so digte beenstruktuur op sy skaal gesien staan. Lengte was die
volgende meting. Bloeddruk en EKG was normaal. Ons kon met redelike sekerheid
aflei dat ek eintlik net te kort is vir my gewig. Dis al...iets waaraan ek nie
veel kan doen nie. Nou mag ek tot welle lus hardloop en pluimbal speel…want die
dokter sê so.
Laas Sondag se horlosie is mos ‘n vir ‘n uur
uit rat uit gehaal. Ons
was so uitgerus toe ons wakker word. In Frankryk is die horlosie op die
mikrogolf seker een van die belangrikste horlosies in die huis. As jy hom nie
gaan verstel nie, gaan jy moontlik net vir ses maande van die jaar betyds wees
vir werk.
Volgende
week is dit weer terug hok toe vir Lisa en Jos maar tot dan….
Groetnis/ Salutations
Die Verweerde Venters
Comments
Post a Comment