Die Verjaagde Venters
13. Jagvat
Asof ons klomp
nie koud genoeg kry nie, het ons drie besluit om die pad te vat na die kouer
deel van Frankryk vir twee weke. Eers Dijon se rigting en
daarna af na die suide van die Alpe. Ons Desembervakansie begin die jaar met mussies en baadjies. Niks
ge-swembroek of ge-roomys nie. Die Dijon stop is nie net “vinger-in-die-wind”-stop
nie…Mathieu se ouers bly daar en Saterdag is daar ‘n jag in die omgewing. Jip, ons jag mos in die winter! Jag
in hierdie deel van Frankryk is ‘n groot tradisie en ons het diep in die Franse
kultuur gedelf hierdie naweek.
Met al ons
jagklere wat ons geleen het en die extra “wessies”, handskoene en “long-johns” wat
ons gekoophet, is ons fort. Lisa lyk asof sy ‘n tent aangetrek het en ek voel soos die Oros-man. ‘n
Piepie of meer, gaan vandag ‘n uitdaging wees. As dit by daai nommers kom, gaan
ons moet bontstaan en mekaar ondersteun. Half agt Saterdagoggend lees die termometer van
oom Marc se kar, minus tien grade. Als is wit en gevries! ‘n Halfuur later vat ons
‘n padjie wat die woud binnegaan. Die grade val met nog twee. Ons kom by ‘n ou
steenhuis aan. Geen ligte….net vure….twee binne en een buite. Die honde blaf en
huil…hulle weet iets. Daar is ‘n paar jagters… “bonjour, bonjour” gaan ons
rond… “ons soek net hitte, monsieur”. Gelukkig was daar
swartkoffie en croissants om die harte op te warm. Die jagpresident roep almal nader en die reels
word uiteengesit. Daar is jagters en jaagers. Ek en Lisa was deel van die
jaagspan. Wat dit eintlik beteken, is dat ons saam met die honde gaan blaf. Almal
trek ietsie oranje aan…die jagters moet nie kan twyfel nie. Die jagters word
uitgeplaas op sekere plekke en as daar ‘n “sanglier” (bosvark) of ‘n
“chevreuil” (bokkie) verby kom, gaan hy moet wakker wees. Amper soos ‘n
voorsitjag in die Vrystaat.
Ons word
twee-twee opgedeel. Ek stap saam met Damian en ons vat vir Neige (sy hond). Ons
drie en Damian se trompet is ‘n span. Lisa stap saam met
Mathieu en die het ook ‘n trompet. Een harde blaas beteken die begin van die
stap. Dis ‘n geklingel en ‘n geklangel soos die klokke rondom die nekke van die
brakke lui. Suutjies
trap is verbode maar ook onmoontlik met al die gevriesde blare en takke…die
plan is om geraas te maak. “ALLEZ…WHAA…BAAH” en as jy ‘n bosvark sien moet jy
“HALAOU” skree…aanhoudend. Die bevel maak die naaste jagter bewus dat ‘n vark
in sy rigting oppad is. Vir ‘n bok, skree jy “Taiaut”. Jy kan nie deurmekaar
raak nie…dit gee jou jagstatus weg. So gaan ons aan tot middagete want hier in Frankryk
kom die land tot stillstand teen middagete-tyd. Nou gaan die manne kyk na wat
ookal geskiet is en die stories begin rondom ‘n piekniekmandjie. Dis kase,
saucisons, patees, baguettes en natuurlik ‘n bottle wyn….oe jitte…die
Cholestrol. Later begin ons weer maar die keer blaas die trompette vals en die jaagspan
klink al hoe luidrugtiger. Wonder hoekom? Teen laatmiddag raak die honde
stiller soos die koue terugkeer. Vyfuur is almal terug by die steenhuis, slegs drie
bosvarke en vier bokkies later. Die vure is aangesteek en nou is van die
vrouens ook by. ‘n Dennetakkie word op elke dier gesit as teken van lewe. Die jagters
respekteer die gebaar. Die jagpresident kondig die uitslag van die dag aan. Nou
begin die verskonings en geskertsery. Die ops en die afs word bespreek. Hoeveel
skote is getrek om sewe diere plat te trek, wie het ‘n sog of ‘n ooi geskiet en
wie het die grootste een laat val…en dan word die aand afgesluit deur ‘n
liedjie te sing wat eg is aan Bourgogne. Die La-La-La van
die “Ban Bourguignon” is nie moeilik nie maar net die Bourguignons kan dit reg
sing.
Nou word daar saam geeet en daarna is dit weer
huiswaarts na ‘n baie moee en koue dag. Die gasvryheid van die Patriat-ouers is
vuurwarm en vinnig is ons terug op temperatuur. Jos kuier al te lekker saam met
die Patriat-kinders by hierdie franse ouma en oupa. Ek en Lisa het besluit dat ons
eerder ‘n vierde taal moet begin leer want Jos kan reeds spel, hy het klaar ons
kodes ontsyfer, hy kan reeds engels praat en sy frans is ons verby. Hoe kan ons oor dinge praat wat nie
vir sy ore bedoel is nie? Die probleem is hy mag moontlik dit ook voor my onder
die knie he. So, dis beter dat hy eerder ‘n salaris begin verdien en bydra tot
die huishouding.
Dinsdag
gaan ons weer suid-oos… in die rigting van Annecy, dan Grenoble om later in die
Gap omgewing op te eindig. Meer oor dit later.
Tot dan…
Groetnis/
Salutations
Die
Verjaagde Venters
Comments
Post a Comment