Die Verkluimde Venters
18. Swem Jannie swem
Die ergste
hitte is seker nou gebreek in Frankryk en die ysmeisie het ‘n paar keer hierdie
week vir ons kom kuier. Ons het wynig minus drie grade in Centurion beleef maar
‘n maksimum van sewe grade...nooit. Dis blerrie koud man, en dit bly koud. My
nuwe motorfiets-gewaad pantser my heel goed teen dié koue. Die “opvogspoegies”
wat die fransmannetjie by die motorfietswinkel aan my verkoop het, is effe….
comme çi-comme ça (so-so).
Jos is
bevorder na die meer kompeterende swemgroep by sy swemskool. Hy het dadelik
besef, hy is nie meer by die see nie. Hier word geswem…met mening! Gister was
dit die Gironde 33 department (die area waarin ons bly) se swemgala. Baie klubs
het by Ambares se binnenhuise swembad opgedaag vir hierdie kompetisie. Daar was klubs van Andernos, Libourne, Lormont, Pessac, Bordeaux en
ander en natuurlik, Carbon Blanc-Bassens. Daar was verskillende kleure kappies
en brille. Almal se naels word gekou en al die maatjies word oorverdowend
aangemoedig: ‘’ ALLEZ…ALLEZ ’’ (a.lê) . Partykeer wil ons na elke lopie net ‘n ..-lujah
byskree. Sommer net… Hier sit die ouers al langs die eenkant van die swembad en
beskou hoe hul kindertjies (ouderdomsgroep 9 tot 11 jaar) van rugslag tot
borsslag, vryslag tot vlinderslag en party versuipslag, probeer swem. Nou, ek en Lisa is nie regtig ‘n kompeterende paartjie nie. Ons is hier om vir Jos te
ondersteun. Jos was ook nooit ‘n groot rugbyliefhebber nie…hy is meer van ‘n
kultuurman. Ek en Lisa is ook nie daai ouers wat langs die rugbyveld op en af
hardloop en waar die mamma skree: “tackle hom…PASS DIE BAL”…en waar die pa so
nou en dan goeters bulder wat glad nie sin maak nie. Goed soos: “Raak
betrokke!...of...Ref! JY MIS ‘n GOEIE GAME”. Oee nee dankie…dis nie ons nie.
Ons is daai ouers wat dit langs die swembad doen. Ja...ons spring uit ons
stoele uit. “Go Jossie…Go Jossie Go!!!...NOU JOS NOU!!”…en
dis net Lisa. Dit is darem nie so erg nie maar so nou en dan kry ons ‘n kyk was
sê: “ Chill mevrou…hierdie is nie die Olympics nie”. “Nog nie” sal ons dink. Soos ek sê...ons is
glad nie kompeterend nie.
Ons was
genooi na ‘n kersete saam met 'n klomp oulike franse vriende (wat ons nie ken
nie) by Celine2 gisteraand. Lisa het lekker
pampoenpoffertjies gemaak en die gashere het blanquette de veau voorgesit. Dit is 'n eg wintersgereg in
Frankryk. Kalfvleis word in 'n wit roomsous saam met wortels en sampioene
gekook. Daar was natuurlik 'n oorvloed van frans gewees en alhoewel ek en Lisa
ons beste gegee het kon ons breine net nie meer byhou teen die einde van die
aand nie. Ons vermoeidheidsgrens het ook sy perke. Ons glimlagte, gehoor en
veeltaligheid is tot hul uiterstes beproef. Dit vat aan ons, maar... 'n
pluimpie dat ons eintlik baie goed vorder vir mense wat slegs drie maande terug
Frankryk toe getrek het, gee ons woema vir nog 'n dag.
Die Franse is 'n baie trotse nasie. Erfenis vloei ook dik deur hul are
maar dit is 'n lekker storie vir 'n volgende keer. Tot dan....
Groetnis/
Salutations
Die
Verkluimde Venters
Comments
Post a Comment