Die Verliefde Venters
13. Wat ‘n sirkus
Die verkoue het nie die Venters gelos soos ons
gehoop het nie. Jos het
nog bietjie gestoei maar Lisa is steeds in ‘n fris boksgeveg betrokke. Ons
vertrou sy sal hierdie week die uitklophou gooi. So gepraat van die koue…ek was
so opgewonde om met my motorfiets te ry dat ek elke droë geleentheid aangegryp
het om te ry….selfs werk toe. Ons gaan mos brandstof spaar! Hierdie was ‘n snerpende
ontnugtering. Twee grade Celsius is nie meer twee grade op ‘n motorfiets
nie…dis heelwat minder. My handskoene en twee baadjies kon
nie hierdie bose koue se lemme stomp slaan nie. My helmet bly ook weliswaar die heeltyd
opwasem…nie eers te praat van my bril nie. Hierdie “ opvoggery ” beteken dat ek
eintlik met my helmet oop moet ry. Dit is net so “onlekker” op die snoet. Dit
het my byna ‘n uur geneem om weer my vingerpunte te kon gebruik. As ek daad by
my woord wil voeg, gaan ek moet “ up-gear ”. Saterdag het ek ‘n reënpak,
winter-motorfietshandskoene en sommer ‘n botteltjie sproei wat glo die
bevogting minder maak, gaan koop. Nou sal ons sien…hopelik.
Ek en Lisa
het ook ons 18e huweliksherdenking Saterdag gevier. 3 Desember 2004 was ‘n
winderige Vrydagmiddag. Lisa se “ veil ” het byna weggewaai voor sy by die
kapel ingestap het. Sy het pragtig gelyk! Amper so mooi soos vandag. Ons het
bruilof en makietie gehou in ‘n markiestent want ons trouperseel het tragies
ses weke voor ons troue, tot op die grond afgebrand. Agtien jaar later het ons
drietjies, op ons troudag, na Cirque sur Glace (Sirkus op Ys) in ‘n markiestent
gaan kyk hier in Bordeaux. Dit was ‘n eerste vir ons…in Frankryk en op ys.
Snaaks dat die skaatsers, hansworse en akrobate almal bekend gelyk het vir ons.
Later het ons besef dat hulle dieselfde mense was wie die popcorn, koeldrank en
MnMs aan ons verkoop het. Tydens pouse verkoop
“Aspoestertjie en die sewe dwergies” van die eerste helfde, sulke goedkoop
speelgoed en snert met liggies en geluide. Dis hier waar al die ouers in ‘n strik gevang
word….want enige liggie wat flikker wek mos ‘n “ MYNE !”-aptyt op by enige
kind. So jaag hul die verkope vir die aand die hoogte in. Twee ure later staan
daar weer 'n tou mense met ‘n rits kinders en al wat ek kon doen was om te
glimlag vir die pappas, wat heel moontlik 'n sokkerwêreldbekerwedstryd op sy
foon dophou. Die enigste rede hoekom hy daar is, is omdat sy vroutjie hom
soontoe gesleep het. "Vanaand wil ons sirkus toe en dit gaan lekker wees!"...sê
sy. Vanaand gaan hy ook euros hoes en in 'n disco huistoe ry.
Sondag het
ons die Porseleingeskenk (blykbaar die 18jaar tradisionele
huweliksherdenkingsgeskenk) gaan vier deur uit die porseleinborde van die
Franse-Spur te gaan eet. Hier naby ons is ‘n Buffalo Grill. Ons kon wraggies
als in Frans bestel en als verstaan. “Burger” in Frans is “Burger”. Ons kon Jos
meer vertel van ons wittebrood. Van die gastehuis op Colesberg tot die laatnag
swem in die Breederivier, van die vis in Jongensfontein tot die Moskou-sirkus
in die Kaap. Erns het die gesprek gedraai dat hy drie weke te vroeg gebore was.
Ek kon sien dat hierdie feit hom effe pla. Hy kom toe met sy interpretasie dat
hy tegnies drie weke langer moes wag vir sy Playstation as wat hy eintlik
bestem was om te wag. Na alles….is dit sy slotsom.
Laasjaar
hierdie tyd was die karavaan al amper reg vir haar tog Drakensville toe.
Hierdie jaar lyk ons kersvakansie heelwat anders. Ons ruil die sonroom vir
serpies, roomys vir raclette. Dit gaan ons eerste kersfees in Europa wees, so
hoekom dan nie ‘n witte nie.
Groetnis/ Salutations
Die Verliefde Venters
Comments
Post a Comment