Die Verlosde Venters

 20. Wit Kersfees

Ek onthou nog die dae toe ek as laerskoolknaap op vakansie saam met my ouers gegaan het. My pa en ma het soveel moeite gedoen om ons dinge te wys en te leer. Dinge wat die geskiedenis oopbreek vir ons….dinge soos die Taalmonument in die Paarl, die Kasteel de Goede Hoop,  die Kruger Wildtuin, stories rondom die Groot Trek, die Anglo Boereoorlog en natuurlik waar hulle as kind groot geword het in Winburg en Brackenfell. Interessant ne? Natuurlik, maar op daardie ouderdom het ek dit nog nie besef nie. In my dae was daar nie goeters soos “tegnologie” wat die kinders kon besig hou nie…die meeste tegnologie wat ons in ons kar gehad het was die elektriese vensters…en net my pa mag dit beheer het. “KYK jy uit, Attie?....Wat sien jy?” sal my pa kort-kort agtertoe vra. “Nog bosse pa” sal ek antwoord want wat anders sien ‘n laaitjie soos ek in die Karoo raak. Hierdie vrae was meer gerig om te bepaal of ek wakker is. Vandag se kinders het toegang tot tegnologie…want dan is hulle mos stil. Ons pad na Orcières-Merlette was 'n mengel tussen tegnologie en “KYK jy uit, Jos?” Soos ons die Alpe en die sneeu bekruip sal Lisa eweskielik net roep ‘’JOSSIE….kyk die sneeu…kyk die berge!” Jos het al geleer hoe om sy ma gerus te stel van agter af….vir ‘n split-sekonde leef hy homself in haar oomblik in… “Wow mamma….dis amazing” en dan is die kop weer af na die foon. Ai… tegnologiebestuur is ‘n kuns.

 

Ons kuier saam met die Freekes (Janx, Niens en Deoné) van Duitsland in ‘n berghuisie omring deur ‘n panorama van wit gesneeude berge. Vandag is Kersdag en hulle is ons naaste familie om hierdie feesgety saam te vier. Saam met kersfees gaan eet…en ons het reeds onsself oortref met allerhande lekkernye hierdie week. My ma en skoonma het ook elke jaar die voorneme dat ons net ietsie ligs vir die kersete moet beplan…“ons kan ons nie weer so ooreet soos laasjaar nie” sal hulle sê. Net kouevleis en slaai,… dis mos ietsie ligs**. Wel, kouevleis is nie ‘n paar snytjies polonie of ‘n paar bleek stukkies ham nie. Slaai is ook nie net ‘n paar blare, tamatieskywe met feta nie. Dis aartappelslaai…daai een met ‘n hele blik kondensmelk in. Die gestolde komkommerring blink van die gelatien. Drieboneslaai, wortelslaai met pynappel, en ‘n fancy mengelslaai met ‘’peanut brittle” en granaatpitte. Die kouevleis is skaapboud, varkboud en beestong – ‘n beestong met soet mostert. Dan het ma Leentjie hoenderboudjies….koue hoender is ook nie lekker nie…so, ma maak eerder haar warm gebakte hoender met pampoenpoffertjies. Witrys is so eentonig. So hoekom dan nie eerder geelrys met rosyntjies nie. Ma Elsie berei haar befaamde beesstert voor in so souserige sous. Poedieng is ‘n keuse van roomys, geblikte koejawels en vla, of al drie in een bakkie. Knuppeldik, sit almal in die middagsonnetjie en bak. Net voor ons wil slaperig raak, dra ma Leentjie dadelbolletjies en fudge saam met die koffie aan. Ons eet, en ons lag en gesels. “Ooo gits…die waatlemoen” sal ma Elsie roep. Die waatlemoen lê hoeka al van eergister af onder ‘n nat handoek in die wasbak. Soos ons die waatlemoen wegpak sal Lisa sê: “ons kan nie volgende jaar ons weer so ooreet nie. Volgende jaar eet ons iets ligs soos kouevleis en slaai.”

 

Ons kersete hierdie jaar in die berge is wel lamsboud met witrys, gemengde groente en 'n gravy . Ons het ‘n kaasbord met Epoisse, Camembert en Morbier kaas. Nagereg is “bûche de Noël”. Amper soos ‘n Swiss-roll koek maar dik van die sjokolade. Ons het nie baie afgewyk van ons voornemens af nie, né?

 

Mag julle ‘n lieflike kersfees vier saam met julle families. Mag Jesus se liefde nie net gedurende hierdie tyd ‘n werklikheid vir julle wees nie, maar die ander 364 dae ook.

 

Groetnis/ Salutations

 

Die Verlosde Venters

 

**Bietjie inspirasie van Dana Snyman

Comments

Popular Posts