Die Veredelde Venters

 22. Wanneer jy koning kraai…

 

In my vroeë laerskooljare het die Barnardt-familie elke jaar ‘n saamtrek oor Kersfees by ouma Ceres in Ceres gehad. Die kleinkinders het dan elke jaar ‘n opvoering gedoen oor die geboorte van Christus. Dié wat kon lees het uit die Bybel gelees, my sussie was altyd die engel en my neefs van Barrydale, my broer en ek was die vier wyse manne. Ek weet daar was net drie maar in ons storie was daar vier. Al wat ons moes sê was “ Goud, Wierook en Mirre !” Partykeer was daar ‘n echo op die “wierook” deel. Slaapplek vir byna twintig mense en kos vir ewe veel pense was nie ‘n uitdaging vir hierdie familie nie. As daar ‘n kussing is…kan jy slaap. Ek kan niks van die menu onthou nie maar wat ek wel kan onthou was toe ouma Ceres en die klomp sussies malvapoeding gebak het en ‘n klomp een, twee, en vyf sente in die poeding weggesteek het vir ons om te vind. As jy gelukkig is het jy die 50 sent gewen. Ons kinders het bakkie na bakkie ingeryg. Dis mos ‘n resies wie die meeste bymekaar kon maak. Aan die einde van die ete het ons maagpyn gehad en kon ons seker ‘n halwe roomys koop. Dit was nie met elke ete die geval nie…ouma het nie soveel geld gehad nie.

 

Op 6 Januarie van elke jaar is dit “ La Galette des Rois ’’ tyd. Die Koningkoek-gebruik, wat eintlik geassosieer word met die openbaring of besef wat die wyse manne gekry het van wie Jesus is meer as twee duisend jaar gelede, het so effens die crux verloor in Frankryk. Vandag gaan dit meer oor die skattejag en speletjie. Dit werk so: Die jongste kind sit onder die tafel en die ouers sny die koek. Dié kind nomineer dan wie kry watter stukkie koek. Daar is “une fève” (figurine) in die koek en die een wat die “figurine” vind, wen die kroon. Bakkerye het ook al ‘n reeks versamelstukke begin wegsteek in die koeke…seker vir hul lojale kliente. Die kroondraer is dan die koning vir daardie dag of aand. Eeue terug het die Romeine ook so ‘n koek aan die slawe gegee en die slaaf wat die boontjie in die koek ontdek, kon koning vir die dag wees...maar die wenner was ook aan die einde van die dag onthoof. Die tipe koeke is of ‘n Brioche of ‘n skilverkors-gebak gevul met amandelroom (ook genoem frangipane pâte). Brioche kom meer in die Suide van Frankryk voor. Jos was een van die ses konings by sy skool hierdieweek. As Koning was hy maar magteloos. Ek dink die skool weet dat dit nie wys is om te veel outoriteit aan dié konings te gee nie, al is dit net vyf minute.

 

Ek en Jos het vir ‘n properse haarsny gegaan vandag. Saterdae is nie sommer moontlik sonder ‘n afspraak in ons omgewing nie, so, ons moes bietjie wyer soek. Na kerk vanoggend het ons sommer die naaste barbier in die Cenon opgewing opgespoor en gegaan. “Vir Jos moet dit langerig bo wees sodat hy nog ‘n lekker kuif kan kam en korterig aan die kante maar nie te kort nie…’n nommer twee kammetjie asseblief” verduidelik ek, “en vir my….soek ek ‘n George Clooney-snit asseblief. Dit moet professioneel lyk want ek werk mos…dit moet my twee aanloopbane links en regs van my kuif kan toe kam….o ja, en ook net ‘n nommer twee aan die kante…asseblief monsieur” het ek in my beste Frans probeer beskryf. Hy het geknik en gesê “ pas de souci mon chef ” wat beteken “no worries my boss”.  ‘n Paar minute later stap ek en Jos uit die salon en ons lyk soos twee danige sokkersterre. Altwee van ons pronk met ‘n Messi-cut ! Lisa proes soos sy lag…dit lyk nie sleg nie maar dit lyk wel presies dieselfde soos die drie ouens voor ons.

 

Tot op hede het ek nog nie my werkspermit ontvang nie. Ja, die Franse het sedert die Augustusvakansie laasjaar nog nie gereageer op ons aansoek nie en toe kom die kersvakansie. Ons kon nie Frankryk verlaat (selfs vir my werk) nie anders sou hulle ons nie weer toelaat terug in die land in nie. Uit die bloute kry ek ‘n versoek om hierdie komende donderdag by die prefecture (administrasie) te wees vir ‘n onderhoud ten opsigte van my werkspermit. Ons vertrou kliphard dat hierdie die laaste hekkie sal wees. Soveel stappe en dinge hang van hierdie stukkie papier af.

 

Ek gaan jul nog vertel van die melodrama en baie suksesvolle bemarkingsfoefie wat die Franse gebruik om die oorsprong en kwaliteit van verskillende spesialiteite te onderskraag. Dis ‘n baie opgeblase manier om hul koskultuur en identiteit in te kleur. Dit maak dit nie minder waar nie. Daar is 'n storie agter elke smaak. Meer oor dit later.  

 

Salutations/ Groetnis

 

Die Veredelde Venters

Comments

Popular Posts