Die Vermomde Venters

 23. Koekies en tee

 

Laatmiddag teepartytjie was nog altyd ‘n luilekker tradisie wat ons drie gehad het toe ons nog in Suid Afrika was. Wat kan dan nou meer plesieriger wees as ‘n paar grappies, ‘n gelag, koekies en tee. Lemon Creams en gewone Engelsetee. Die kuns was altyd om daai koekie net lank genoeg in die tee te druk, sodat hy net genoeg tee kan opdrink, sodat hy nie halfpad na jou mond toe afbreek nie. Dis seker waar die spreekwoord vandaan kom…”van die hand na die mond, val die koekie op die grond”. Doop jy hom te vinnig, kraak hy nog in jou mond en dit was nie die idee nie. Ons gaan ‘n alternatief moet soek vir Bakers se Red Label Lemon Creams . Ons het dit nog nie hier opgespoor nie.

 

Omdat kos so deel is van die Franse se kultuur, word vele items se geografiese en aardse oorsprong, beklemtoon. Koekies kom nie net van die supermark af nie. Goeie koekies kom van die Noord Weste af. Alhoewel Bretagne bekend is vir sy rotsagtige kus en Keltiese tradisies, is dit ook bekend vir sy gastronomie - dit was hier waar gesoute botter gebore is. Koekies en botter loop hand aan hand. Bros en smelt-in-jou-mond-kortbroodkoekies, 'n spesialiteit uit Bretagne, kan enige tyd van die dag geniet word. Aanhangers van hierdie koekies hou daarvan om hulle tydens ontbyt in hul koffie, melk of warm sjokolade te doop. Sien julle hoe maklik is dit om ‘n eenvoudige koekie te bemark dat jou mond water.

 

Die Franse geniet dit om ‘n storie agter artikels wat ‘n aardse oorsprong het, te sit. Het julle geweet dat daar meer as 400 Franse kaasvariëteite in Frankryk gelys is, wat gewoonlik in sewe kategorieë geklassifiseer word. Met meer as 26 kg kaas wat per persoon per jaar geëet word, is die Franse van die hoogste verbruikers van kaas ter wêreld. Hulle waardeer sy smaak, sy verskeidenheid en sy egtheid. Hulle kan selfs sover gaan as om die kaas wat van ‘n spesifieke vallei aan die weste kant van die Alpe waar daar poenskopmelkbokke wei op bergblommetjies wat net daar voorkom, uit te ken. Hulle gebruik ook net die melk wat uit die linker tiet kom om hierdie gesogde stukkie kaas te kan maak. Klink verregaande ne…wel dis amper so erg.

 

Dieselfde met wyn. Ons is nou nie fynproewers nie maar die verskillende streke kompeteer ook vir hul plekkie in die son. Bourgogne se wyn is totaal anders as die swaar Bordeaux-wyne. In Bordeaux kry jy ook verskillende streke links en regs van die rivier….en die wyn proe blykbaar anders. Die Médoc-distrik van Bordeaux is 'n gebied van strandmere, sandduine en dennewoude geleë op die 45ste breedtegraad. Dit is ook 'n wêreldwye wynkragbron, en die tuiste van vier van die wêreld se mees gesogte wyndorpies: Pauillac, Margaux, Saint-Estèphe en Saint-Julien. Die Wyn-Chateaus wat in die dorpies geleë is, produseer van die duurste bottels wyn in die wêreld. Geklem tussen die Atlantiese kuslyn en die breë Gironde-riviermond, is die Médoc effektief 'n skiereiland. Dit strek 80 kilometer noordweswaarts vanaf die stad Bordeaux tot by die Pointe de Grave. Dink net as jy een kilometer verder gebly het…hulle sou dit kon proe!

 

Jos het al drie tande in Frankryk getrek. Die Franse tandemuis (aka Flamingo) is besig om ‘n pragtige klavier te bou met sulke wit ivoorklawers…als van Jos se tande. Lisa moes effe na haar woorde hap toe sy die drie tande vir hom wys. Jos het verward na haar gekyk en gesê: “So…julle is die tandemuis.” ‘n Oomblik van “aarde-sluk-my-in” het op Lisa neer gedaal. “Uhh….nnneee....my sweet heart…. Die tandemuis het net gevra dat ek dit vir hom moet hou. Hy gaan ‘n vragmotor stuur om almal op een slag te kom haal.  Die petrolprys is so hoog…hy kan nie so baie op en af ry nie.” Jos het nie ingekoop in hierdie verduideliking nie. Net daar besluit hy om sy hele boks lego op sy kamervloer uit te gooi…want as dit ons is, sal hy ons hoor as ons oor die lego probeer loop en dan gaan hy wakker word, en dan is die raaisel opgelos. Wel, hy het die volgende oggend €2,15 en ‘n briefie van die tandemuis gekry.

 

Groetnis/ Salutations

 

Die Vermomde Venters

Comments

Popular Posts