Die Vernoemde Venters
24. Wat is
jou naam
My oupa was
gedoop Adriaan Jacobus Venter maar sy noemnaam was Attie. Almal het hom geken
as Attie. In sy skool, by die kerk en selfs sy werk. Sy geboortesertifikaat het
wel gelui Adriaan Jacobus Venter. Dis dieselfde met my…ek is ook Adriaan
Jacobus Venter gedoop. My ID sê so en my paspoort ook…maar almal ken my as
Attie. My pa het my net “ ADRIAAN…K-O-M
H-I-E-R! ” geroep as hy kwaad was of dringend my teenwoordigheid verlang
het. Dit was altyd tot my voordeel gewees om my ligging so spoedig moontlik te
verskuif na waar die bulderstem vandaan gekom het. Daar is selfs 'n paar lekker
sê-goed wat my naam saamgebring het, soos “ daai ou is ‘n lekker Attie ” of
dinge wat rym soos “ Attie-karatie ” of “ At-patat ”. Ek het maar die beste van
hierdie assonansies en rymwoorde gemaak, want dis mos oulik. Dit groei op n
man! Dit bring bietjie identiteit. Toe ek Lisa ontmoet het, het dit verander na
“ warm-patat ” of pleinweg “ skat ”. Soos ek ouer geraak het, het my vrinne my
“ Atvies ” begin noem. Ek glo dit was positief bedoel…want ek is steeds vandag
nog pêlle met hulle. Byname is nie ‘n ding hier in Frankryk nie…soos in glad
nie. Byname soos Os, of Bakkies, Tannie Poppie, of Lieliepit vind jy
nie…natuurlik nie, want dis Afrikaans…maar ook nie eers die Franse weergawe
nie. Koernaampies soos Liefie, Lyfie of
Duifie, is ongehoord. Dis reguit...tjoeftjaf en klaar...jy is
Marie-Caroline...of Louis-Mathieu en dêrsit. Niks meer of minder nie.
Jos het
klaar die switch gemaak Joshua toe en Lisa bly Liza maar Attie is al te moeilik
vir die Franse om eerstens te hoor en dan nog te onthou…dis nie ‘n naam wat hul
aldag hoor nie. So, as ek my die dag voorstel, sal ek sê: “ Je m’appelle Attie.
Enchanté ”….en as die ander ou net ‘’ enchanté ’’ sê…dan
weet ek, my naam het oor sy kop gevlieg en hy het nie 'n clue met wie hy praat
nie. Van hulle vra ‘n tweede keer…en dis wanneer ek hom verander na “
A-drie-aan ”...maar ek moet langer stilstaan op die er ...vir 'n rukkie brei en
dan aanbeweeg na die - aan toe. Dis net makliker. Ek het wel gevind dat ek meer slaggereed is elke keer
as iemand my ADRIAAN noem. Seker maar ‘n onderliggende paraatheid.
Ons was
gisteraand na ‘n Vietnamese Nuwejaarsviering toe genooi. Dit val saam met die
Chinese Nuwejaar en hier is ‘n taamlike groot Vietnamese gemeenskap in
Frankryk. Vietnam was eers ‘n Franse kolonie. “ French Indochina ” soos dit
eers bekend gestaan het, het hul Franse status verloor met die Tweede Wêreld
oorlog toe die Japanese dit vir ‘n ruk oorgeneem het. Lang
storie kort…daar was Frans gepraat en ouer generasies het hierdie taal
hier-en-daar oorgedra aan die geslagte daarna. Tweede en derde generasie Vietnamese bevind
hulself in Frankryk en die ouer mense praat nog beide tale. Wat ‘n geselligge
aand! Een ding is nou maar seker…die Vietnamese hou van sing. Die hele aand was
vol items van verskillende gaste wat ‘n liedjie voorberei het om voor almal te
kom sing. Van hulle sing op noot en ander net soms…maar met die aansporing van
die seremoniemeester en ‘n groot handeklap, kom die volgende sanger op die
verhoog. Al te lekker.
Ons het
sneeu hierdie week gekry in Bordeaux. Dis 'n baie selfsame verskynsel omdat ons
nie ver van die see af is nie...en die gerug is dat dit die eerste keer sedert
2012 is dat hier weer 'n paar vlokkies geval het.
Ons het vir
Bakkies by die kerk ook begin raaksien. Baie meer vriendelik as wanneer ons hom
in die straat raakloop of wanneer hy agter die bos uitspring wat ons onkant
vang. By die kerk waai en glimlag hy vir ons. Elke Sondag verstaan ons so effe
meer wanneer hy preek en ons probeer byhou wanneer hy liedjies sing wat ons
ken…net in Frans. Ons is opgewonde. Een van die
dae…..binnekort…bientôt!
Groetnis/ Salutations
Die Vernoemde Venters
Comments
Post a Comment