Die Voorsiende Venters

 21. Kwartels uit die hemel


Die wegbreek berge toe het ons goed gedoen. Die kuiertjie saam met die Freekes in Orcières-Merlette was die beste doepa wat beide ons gesinne nodig gehad het. Net bietjie tyd saam met ons hartsmense. Dit was Jos se eerste keer dat hy sneeu gesien of gewaar het…hy kon nie genoeg kry nie. Van ysskaats, sneeubalgevegte, slee-gly, “tube-gly” tot effense ski, het hy die sneeu tot hul maksimum probeer troef. Ons het geswem, crêpes en roomys geeet, raclette en sjokolades ingeryg asof ons nooit weer sal kry nie. Die tyd was net te min. Die Alpe dra paljas, veral in die winter. Dit bekoor jou siel en jy kan nie anders as om terug te kom nie.


Ons was nie haastig terug Bordeaux toe nie. Met die pad terug het ons een aand in Alès geslaap en die ander aand buite Toulouse. Lisa se gunsteling roete was deur die skilderagtige Parc naturel regional des Baronnies provençales …dis amper soos die asemrowende Meiringspoort, maar net groener. Formidabel ! Ons het ook by Carcasonne gestop oppad…ongelukkig net vir ‘n rukkie. Carcasonne is seker een van die mees bewaarde middeleeuse stede vandag. Op dié historiese handelsroete tussens die Atlanties en die Mediterreense see, het die Romeine destyds al die hierdie stad as baie strategies gemerk (100 BC). La Cite het by die 53 uitkyktorings en is ook die eerste fort of vesting wat skutte gebruik het tydens gevegte. Hierdie tydelike houtplatvorms met vierkantige gate, is teen die mure aangebring wat nie net beskerming bring aan die verdedigers nie, maar ook hul weer toelaat om projektiele op hul aanvallers te laat val. Vandag is daar verskeie winkeltjies wat die toeriste bedien en Jos kon nie terughou om sy sakke vol lekkergoed te stop as herhinnering van dié stad nie.


Ons was genooi om oujaars en nuwejaars saam met Mathieu, Celine, Marjorie en Quentin te spandeer. Hierdie was ‘n profetiese maal vir ons. Na vier maande se swerwing in die onbekende, sparteling met die taal, en verlange huistoe, kom die Here en bedien ons net weer. Hy voorsien in presies wat ons nodig het. Hy voorsien ons met vriende hier wat omgee, Hy voorsien ons met antwoorde...franse antwoorde nogal, Hy voorsien ons met wysheid, met deurnis en uithouvermoë. Hy is genoeg en so herhinner Hy ons elke dag. ‘n Fris menu is uitgedink en almal dra by tot hierdie feesmaal. Dis oesters en fois gras vir voorgereg. Vir die hoofgereg is dit patats, wortels en kwartels…dis hemels. Natuurlik ‘n bord vol kase en dan Mathieu se meesterstuk nagereg. Terwyl die vuurwerke skiet in die verte, sit ons trommeldik en wonder… “ai Here,…ons beker loop oor. Hierdie was ons eerste nuwejaar in Frankryk…hoe gaan ons 2023 lyk?”


Mag ons Here voorsien in als wat jul nodig het vir 2023. Onthou die kwartels en die manna...


Groetnis/ Salutations


Die Voorsiende Venters


Comments

Popular Posts