Die Verjaarde Venter(s)
26. Pannekoek en Patties
Dit was my verjaarsdag hierdie week en
alhoewel die Franse administrasie se geskenk nie opgedaag het nie, het Lisa en
Jos darem opgemaak daarvoor. Dis
die eerste keer in 45jaar dat ek in die winter verjaar. Ons was so gewoond aan
‘n buitelug verjaarsdagete soos …Bolognese met bistro ligte onder die bome of
Gourmet hamburgers of om kaasboerewors-rolle op die stoep te braai. Hierdie
jaar moes ons ene Meneer de Weer ook ingedagte hou.
Die 2e Februarie merk nasionale Crêpe-dag (
fête des crêpes ). Dit is maar als
gekoppel aan die katolieke gebruik van candle-mass , wat 40dae na kersfees is. Hulle vier ook sommer die draai van die dagliglengte. Die dae word weer
langer en ons kan uitsien na die lente. Daar is ‘n bygeloof dat as die weer nie goed is op die 2e Februarie nie,
dan behoort die lente vroeër sy gesig uit te steek….maar as dit mooiweer is,
dan gaan daar nog baie koue dae wees voor die bome begin bot (klink soos die
“Indiane-wat-hout-bymekaarmaak grappie”). Dit was ‘n lieflike sonnige dag
gewees. Ons wou so graag ‘n klompie vriende oornooi maar ons verskoning moet
maar deug vir eers…ons wag tot ons in die nuwe huis is. Lisa het wel pannekoek
gebak….nie heeltemal crêpe nie….maar iets wat beide die Afrikaanse en Franse
soeweniers prikkel. Lisa sê die pannekoeke lyk en proe baie anders hier as daar
in Suid Afrika…die resep is dieselfde maar die bestandele praat ‘n ander
taal….sy betwyfel hul integriteit.
Die Venters en burgers loop diep spore. Dié
van julle wat al by ons kom Hamburgers eet het oor 'n naweek of sommer net deur
die week, weet dat dit gaan nie net oor hoe lekker daai Blouwildebees-pattie
met kaas en sampioensous in jou mond smelt nie…maar dit gaan oor die stories
wat om daai tafel vertel was. Die
stories, die kuiers, die mense is wat daai hamburgers so lekker gemaak het.
Hierdie Franse vriende van ons hou nie van Amerikaanse kos nie, al probeer ek
hul verduidelik dat Amerika nie Blouwildebeeste het nie. Hulle eet oesters,
vlou pasta, hoender op Sondae, baie slaai en brood. Ons gaan ons vriendekring
nuwe blootstelling moet gee….en ons gaan moet leer hoe om ons eie patties te
maak. Hulle het nog nie al ons stories gehoor nie. Saterdag na Jos se swemgala
is ons drie na Sabora Burgers in Libourne. Dit is ‘n piepklein restourantjie
wat heerlike burgers maak. ‘n 4.85 keuring op Uber Eats nogal. “ Le meilleur burger de ma vie ” (die beste burger in my lewe) sê Jos
vir die verbaasde vroutjie. ‘’
Vraiment!’’ (really !) antwoord sy. ‘’Rustig yster…jy kan hulle nie soveel
krediet gee nie’’ dog ek. Hierdie outjie kort ‘n nuwe herhinnering aan die ou
ritme. Vrydagaand burgers en koekies en tee na kerk. Ons gaan dit weer moet
instel….sommer nou!
Ek het opgemerk dat
die Franse motorfietsryers ‘n moto-salut (biker-groet) het. Net soos die
Landrover Defender-manne wat hul elmboë vir mekaar lig. Hul elmboë rus almal
buite die kar op die venster want daar is nie plek om dit binne te hou nie. Die
Range Rover ouens merk weer hul gebied deur ‘n blerts olie vir mekaar te los by
die verkeersligte maar die Land Cruiser-manne hou 'n twee-sekonde oogkontak, en
dan knik hulle hul koppe effe…asof die een ou vir die ander een sê “Wyse
besluit broer…kom ons gaan maak oorlog!” So gee die bikers hier ook so ‘n salut
…’n groet wat sê “goeie werk my vriend…vasbyt…ek kry net so koud”. Dis ook hier
dat ek besef het dat my motorfiets eintlik ‘n regterhandstuur is. Ek ry aan die
regterkant van die pad met ‘n regterhandsestuur-BMW GS800. Om die moto-salut te
doen moet jou linkerhand los wees. Die regterhand bly op die versneller (sodat
jy die oor kan draai as jy moet) maar die linkerhand is daar vir groet. Jou
hand gly vinnig van die handvatsel af en dan met die duim dwars, die wysvinger
effens gelig, en die ander drie nog in ‘n krulposisie…gooi jy dit na die ander
biker…. grasieus..respekvol…ten volle in beheer. Hierdie tel nie vir scooters
nie…hulle is nie in ons liga nie.
Ons het nog nie ons
verblyfpermit nie. Ons is darem nie op risiko nie (volgens ons prokureurs)…dis
net die Franse wat lekker aan die slaap is. Ons sal maar
net ons storie moet ken as die polisie ons dalk ‘n paar vrae wil vra.
Groetnis/ Salutations
Die Verjaarde Venter(s)
Comments
Post a Comment