Die Vernuftige Venters

 28. Ses van die een en ‘n half dosyn van die ander

 

Dit was 1989 en ek was nog op laerskool en seker maar net 11jaar oud. Die wekker het 6h00 een Saterdagoggend begin skree. Dit was elke Saterdag die geval. My pa was gewoonlik vroeg op en het reeds begin mieliepap maak. “ Opstaan, opstaan…die son trek water!” sê my pa toe hy ‘n koppie koffie (met een teelepeltjie suiker) langs my bed neersit. Met ‘n rits, trek hy die gordyne oop. Dit moes diep somer gewees het want daai son het my ook uit daai bed help boender. “ Baie dinge om te doen, seuns….opstaan ” roep my pa in die gang af. Ek en my boet stoei teen die slaap...maar weet dat dit voordelig vir ons voortbestaan sal wees as ons dadelik reageer. Dis Saterdag en dan word daar rondom die huis gewerk. Ons het als gedoen…self…van huisverf tot plaveisel lê…van staalwerk tot tuinwerk…van karwas tot kardiens. Ons het alles SELF gedoen. Pieter Nel was my vriend op laerskool gewees en hy het daai Saterdagoggend by ons huis in Pretoria opgedaag met sy skateboard onder die arm. Dis die dae toe skateboard-ry en “shocking-neon-klere” lekker mode was. Die son het al hoog gesit toe hy eers daar opdaag en vra of ek nie saam met hom wil gaan skateboard ry nie. Nou, ek het nie regtig eers durf vir my pa vra of ek kon gaan nie want ek het geweet wat die antwoord sou wees. My pa het my eintlik uitgedaag om sommer self vir Pieter te antwoord. “Jammer Piet…maar Saterdae is werksdae. Miskien later vanmiddag as ons uitgeklok het” antwoord ek. Teen daai tyd was ek ook al “uitgeclutch” never mind – klok.

 

Ons eerste week in die huis is agter die rug en die meeste goed is in hul plek. Bietjie rondskuif hier en daar maar ons is 95% daar. Lisa was ‘n ystervrou gewees hierdie week. Elke aand as ek by die huis kom…is daar nog ‘n paar leë bokse in die garage. Planne en maak van lysies van wat gekoop en gedoen moet word, is aan die orde van die dag. Onmiddelik skop my en Lisa se “organisatoriese ratte” in wat vir ses maande dormant was. Saterdag was werkersdag! Jos is 10 jaar oud en hy het ‘n vriend, Léan Potgieter, wat Saterdag wou Playstation speel, reg in die middel van werkersdag. Hierdie was 'n gulde geleentheid om vir Jos 'n paar dinge van die lewe wys te maak....Franse dinge. Ek moes Jos mooi vertel en leer dat alhoewel ons vir John (ons tuinier) in SA gehad het, ons nou dinge self moet doen. Die Jeans hier in Frankryk is op ‘n ander vergoedingsskaal en buite ons begroting. Ons sal moet self. Hy moes maar dieselfde boodskap aan Léan oordra as wat ek destyds vir Pieter moes gee. Ons moes onderandere die heining snoei wat taamlik ‘n uitdaging was. Pootuit na die dag se tuinwerk, sê Jos: “Ek mis vir John’’. Toemaar Jos ek weet. Ons is 'n span…ek mis hom ook.

 

Vandag het ons ons eerste gaste oorgehad vir ete… of eerder braai. Wie dan anderste as om ons getroue vriend en sy kinders (die Patriat gesin) te nooi. Die Weber is afgestof en die rooster gewas…reg vir een van ons spesialiteite. Hoenderbraai en Lisa se paptert (Polentatert)! Vir die van julle wat al van my gebraaide hoender geëet het, sal weet…hierdie was BON ! Die van julle wat nog nie het nie, julle weet waar ons bly. Dis blykbaar een van Lisa se top drie redes hoekom sy met my getrou het. Seker omdat ek weet dat hoenderbraai ‘n geduldige proses is en dat ek die geduldige tipe ou is…vining om te luister en traag om kwaad te word. Lisa het ook ‘n paar Suid Afrikaanse vriendinne oorgenooi en hulle kon klets rondom koffie en melktert. Sy was in haar element.

 

Hierdie week vier ons ons ses maande merker. Ses maande na hulle al ons meubels by ons huis in Wierdapark kom oplaai het…kom laai hulle dit by ons nuwe huis af in Carbon Blanc. Ses maande gelede het ons op die vliegtuig geklim met al ons tasse…min wetend hoe hierdie ses maande gaan uitspeel. Ses maande later, Donderdag, kry ek wraggies ‘n sms van die Préfecture wat sê my Titre de sejour (Verblyfpermit) is reg om afgehaal te word. Ons is in ekstase en so dankbaar. Ek het moreoggend 10h05 ‘n afspraak in Bordeaux om die kaartjie op te tel. Nou moet Lisa se proses begin…hopelik is dit vinniger.

 

Groetnis/ Salutations

 

Die Vernuftige Venters

Comments

Popular Posts