Die Vreugdevolle Venters
27. Tekens van die tye
Die tyd het aangebreek. Dinsdag is ons drie
Ventertjies prokureurs toe om die laaste handtekeninge aan te bring op ons 259
bladsy koopkontrak. Jip…elke
bladsy is weer vlugtig bespreek. Van termietsertifikaat tot munisipaliteitreëls
is uitgelig. Ons mag geen hoenders aanhou of `n besigheid van ons nuwe huis af
bedryf nie. Die “ cluster ” waar ons gaan bly het selfs voorgeskrewe reëls oor
watter kleur jou huis geverf moet wees. Die reël is seker nie meer afdwingbaar
nie maar die mense frons taamlik as jy buite die standaardkleure beweeg. Wie
hou nou van ‘n Groen en Goud-geverfde huis ? Met hierdie handtekening onderneem
die verkopers selfs dat die rede vir die verkoop van hulle huis is nie omdat
hulle raserige bure gehad het nie. “Ons nuwe buurt hoef nie meer te wonder wie
raserig is nie…ons sal sommer daai rol inneem” het Lisa gesê. Ons gaan nog lank
feesvier en ons kan nie meer wag vir almal wat moet kom kuier nie. Dit was ‘n
yskoue Dinsdag en wraggies besluit ‘n klomp oumense om ‘n protesoptog (Grève)
te hou teen die nuwe besluit van President Emmanuel Macron se regering, dat die
nuwe aftreeouderdom nou aangeskuif het na 64jaar en dit nie meer 62jaar is nie.
Derduisende mense het opgedaag….baie van hulle is al ver oor die 64jaar (so ek
weet nie waaroor hulle huil nie) en ander van hulle is skaars 34. Van die vlae
wys sommer “55 ans” en ander weer 60…dis duidelik…hulle is ontsteld en dreig om
amok te maak. Die musiek was heel plesierig…amper soos ‘n buitelugsokkie…hier
en daar ‘n drom of twee maar oor die algemeen... lekker gesellig. Niks brand af
of word stukkend gegooi nie, maar die hele stad kom tot stillstand en ons moes
‘n paar koue kilos stap om by ‘n stasie uit te kom waar die trams weer loop. Met die sleutels van ons nuwe huisie in ons sakke en ons warm harte,
kon ons nie wag om die deur te gaan oopsluit nie.
Lisa het hierdie week gesukkel om te fokus in
die klas…die opgewondenheid vir die aankoms van ons meubels was net te groot.
Vrydagoggend kwart voor agt bel die manne al… "nous sommes prêt,
monsieur" (ons is reg vir jou meneer). Ons is so in ekstase …ons hardloop soos spul
afkophoenders in ons woonstelletjie rond. “Komaan kom kommmm…ons moet ry…hulle
wag”: giggel ons. Hierdie is die dag waarna ons die meeste uitgesien het….ons
goed ! Dis soos kersfees…elke boks wat oopgemaak word gaan saam met ‘n “Ahh,
hier is jy” of “Haai, ek het nie geweet jy het saamgekom nie” of “ek het byna
van jou vergeet.” Dis net glimlagte oral. Vir die manne wat aflaai is van die
goed seker maar gemors …maar dis ons gemors.
Dis ook
hier waar ek besef het ons leef in die eindtye. Die tye waarvan die Bybel
praat. Ons moes eerstens kan hoor wat hierdie manne vir ons vertel en dan moes
ons kon terug kommunikeer. My tong voer oorlog met my kop, my lippe gaan aan te
bewe soos ek spartel om die regte volgorde van die woorde uit te kry en dan
voor ek my kry, versuip ek byna in al die speeksel wat ek in die proses opgebou
het. Dis asof my Frans reeds weggeraap is! Teen vieruur was ons klaar en kon
ons ‘n lekker koppie koffie op ons eie sitkamerbanke geniet. So, ons het
besluit - ONS SAL daai selfde nag nog in ons nuwe bed slaap, in ons nuwe
huis…en ons het. Ons het sommer ‘n kaggel gemaak net om die oomblik soveel
groter te maak. KFC is gewoonlik ons “spesiale-okkasie-viering-ete” en hoekom
dan nou nie hierdie gebeurtenis ook vier nie.
Ons is so
te sê 90% gevestig…dis nog net die studeerkamer en dan al die fotos van ons
geliefdes wat moet opkom. Daar is nie genoeg mure vir als nie…maar wat ons wel
weet is, is dat hierdie huis herberg ‘n Leeu …en Hy brul Genade, Liefde en
Familie. Julle is almal welkom!
Salutations/
Groetnis
Die
Vreugdevolle Venters
Comments
Post a Comment