Die Fabelagtige Venters

 32. Die Idus van Maart

 

Ons het die tegnologie-belt van Jos bietjie stywer ingetrek. Die weer is besig om te draai en hy moet meer dinge buite begin ontdek….eintlik net ander dinge doen as skermtyd. Vir een of ander rede het hy ‘n legkaartbou-bevlieging gekry. Eers die klein boksies met katjies en transformers op en nou is dit die grotes met al die dinosaurs. Natuurlik kan Lisa ook nie net terugsit en kyk nie…nie Lisa nie. Sy wil ook help. Die koffietafel is ons spot en Jos moes al die legkaarte bo-op mekaar begin stapel om plek te maak vir die nuwe een. Ek kan ook net so lank loer na ‘n gaatjie en as die stukkie, wat almal ontwyk, lewensgroot voor my oë lê, gaan ek hom mos indruk….en toe druk ek hom in…en nog een. So wil ons Jos bed toe jaag, want more is skool, maar vir een of ander rede het slaaptyd by die venster uitgevlieg. Ons sal eers daai legkaart klaar bou. Ons het nog ‘n paar om te gaan.

 

Ek was nie ‘n vreeslike ywerige student op skool nie. Skool was nie besonders lekker vir my nie. Ek dink meeste laaities dink vandag nog so. Huiswerk en somme meng in met ons speeltyd. Ek dink dis geneties want Jos vra ons ook kort-kort: “Hoekom al hierdie huiswerk!” Lisa, uiteraard, het meer op akademie gefokus. Sy is die voorbeeldige en verantwoordelike een in ons verhouding. Sy was op die leerlingraad, die redaktriese van die skoolkoerant, sy was aangewys as mejuffrou Dinamiek (t) en sommer as Dux Student gekroon op Tegnikon. Ek dink sy is onoffisieel maar ongetwyfeld die Hoofmeisie by haar Taalskool. Ek kan nie by haar kers vashou nie…. maar daar is een prysie waarop ek wel baie trots is, en dis my Geskiedenisprys wat ek in standard twee gewen het. Ek onthou nog goed, hoe ek elke oggend, voor skool, vir my Pa moes lees in sy kamer terwyl hy regmaak vir werk. As ek nie ‘n nuwe leesboek gehad het om te lees nie, moes ek sommer my geskiedenisboek voorlees. Dit het meer gegaan oor die lees dink ek. Later moes ek oorslaan na Engels-lees. Nou ja…wie kan nog vir Wolraad Woltemade onthou en die name van Jan van Riebeech se drie skepe wat die Kaap binnegevaar het? Racheltjie de Beer en die Slag van bloedrivier. Later was dit Barney Bernato en die Engelse wat hul Moses teegekom het op Jagersfontein. Die middeleeue en die tweede wereldoorlog het eers in die latere standards gekom. In my dae was Nelson Mandela nie deel van die curriculum nie…maar hy is deel van ons geskiedenis. Die ding van geskiedenis is…jy kan dit nie verander nie…dis geskiedenis, dis verby. Ons kan wel leer daaruit…of nie. Geskiedenis is amper soos ons GPS. Die vertrektyd en -punt is bekend maar die aankomstyd en bestemming word herbereken…en herbereken.

 

Jos het ook ‘n liefde vir geskiedenis en aardryskunde ontwikkel. Sy blootstelling is meer Europese geskiedenis. Hy vertel ons elke dag interessante feite soos: “Het pappa geweet dat Julie eintlik na Julius Ceasar vernoem is en dat hy vermoor is deur sy eie vriende?” Ek moes eers bietjie gaan oplees. Wraggieswaar…. Augustus is weer vernoem na die eerste keiser van Rome daardie tyd. Die Romeine is te danke vir al die name van die maande van die jaar. Die name het maar baie te doen met die kultuur daai jare. Wat nog interessant is, is dat William Shakespeare in sy verhoogstuk (Julius Ceaser) verwys het na ‘n profeet wat wat vir Julius gewaarsku het. “Pasop vir die Idus van Maart” het die profeet gesê, maar Julius het hom laat verwyder…’n paar hoofstukke later is Julius Ceaser 23 keer met ‘n mes gesteek op die trappies van die senaat. Sestig van sy naaste senators het almal saam gesweer om hom te vermoor. Die Idus van Maart verwys na die 15de Maart (hierdie afgelope week)…dit was ’n noodlottige dag vir Julius gewees, presies 2067 jaar (44 B.C) terug. William Shakespeare skryf ook in dié verhoogstuk waar Cassius vir Brutus sê: "The fault lies not in our stars, but in ourselves." Dit is nie die noodlot wat die mens verdoem nie, maar eerder die gevolge van ons besluite. Ek ken nog ‘n "Julius" wat eerder Julius Ceaser op skool moes leer as Macbeth .

 

Ons eerste kuiegaste van die suide kom volgende week vir ons kuier. Lisa se kleinsus en haar man (Francois en Né). Lisa trippel al die heel week soos ‘n Lipizzaner-perd rond…vreeslik opgewonde en reg om te onthaal. Natuurlik is daar baie pakkies en briefies wat saam met hierdie posduif opvlieg…onderandere Biltong- en boereworsspeserye. Ek is gretig om biltong te maak maar ek gaan ‘n goedkoper snit in die hande moet kry. Ek kan nie oor die R500/kg vir my eie biltong betaal nie!

 

Groetnis/ Salutations

 

Die Fabelagtige Venters

 

Comments

Popular Posts