Die Feestelike Venters
33. Wanneer tyd hardloop.
Hierdie week was alles
behalwe tydsaam en ordinêr. Parys brand, die mense kla, daar is optogte en
winkels in die stad word gesluit. Hugo het die Polisie
gebel en oral sien jy die blouligte flits. Hierdie is Frankryk waaroor ek
skryf, en nie Suid-Afrika nie. Boonop sou Koning Charles ook nog kom kuier het,
maar die publiek se stemme was te dik. Hulle wil nie eers op 64 jarige ouderdom
aftree nie. Dit moet 62 jaar bly...hulle wil ook darem die lewe geniet terwyl
hulle nog jonk genoeg is. Hierdie
Franse stokvel-spaarvarkie loop leeg en Macron moet geld erns anders vandaan
kry. Miskien uit die einste weermag- of polisiebegroting.
Die onnies het nie
Vrydag skool toe gekom nie... juis as gevolg van al hierdie drama. Sodoende,
het Jos ook Vrydag by die huis gebly. In die Fisika101 klas op Tukkies, jare
terug, het ons opgestaan en verdaag as die proffie na vyftien minute nog nie
opgedaag het vir klas nie. Later het van die belhamels in die klas geleer dat
as jy die groot horlosie in die lesingsaal met 'n uitveër gooi...stap die
minute vinniger aan. So het die vyftien minute vinniger verby getik...en dan
staan ons op. Ongelukkig het die prof dit ook geweet en tydens eksamentyd het
hy weer die horlosie met 'n uitveër gegooi.
Vanoggend het die daai
einste Fisika die Franse horlosies met een uur laat aanskuif. Ons is nou op
dieselfde tyd as SA. Ek kon voel ek het een uur minder slaap in gekry...veral
toe ek 'n wedloop vanoggend moes gaan hol. Dit was die " Fête les vins de
Sainte-Emilion " of die Fees van die wyne! Ons het 'n span van vier
ingeskryf maar op die nippertjie het twee onttrek. Ek en
Mathieu was die span op die ou ent en het die 12km deur al die Châteaux en
wingerde van Sainte-Emilion aangepak saam met 3000 ander hollers. Dit was koud en winderig en toe die skoot klap
toe begin dit nog boonop reën ook. YSKOUD! Sainte-Emilion is bekend vir hul
wyne en dan is die pragtige wingerde al teen die hange van die heuwels geplant.
Nou ja...heuwels. Ek weet my lyf is eerde gebou vir afdraendes...ek haal hom
net uit rat uit en vertrou die brieke werk, maar as dit kom by opdraendes, help
my diff-lock nie eers nie. Daar was baie ops en afs...soveel dat die melk in my
bene suur geword nog voor ek die eindpunt gehaal het. As prys dat jy die
wedloop voltooi het, kry jy nie 'n medalje soos ek gewoond is nie...nee
genade...jy kry 'n bottel wyn. Hoe dan anders?
My meisie van twintig
jaar, het verjaar dié week. Dit was Lisa se eerste verjaarsdag in Frankryk en
nou het ons al drie al hier verjaar. Sy het haar sussie ook hier gehad, so dit
was ektra spesiaal. Chicken Burgers was op die spyskaart vir al die maatjies
wat kom kuier het. Nog het ek besef watse aantrekkingskrag sy het. Die Vader
het haar toevertrou met hierdie gawe en Hy gebruik haar elke dag...en sy is
gehoorsaam.
Hierdie week is ek en
Francois weer op reis, so... Lisa en haar sus sal seker die stad rooi
verf...figuurlik gesproke natuurlik.
Groetnis/ Salutations
Die Feestelike Venters
Comments
Post a Comment