Die Veeltalige Venters

 30. Jagterstaal

 

Na ses maande se aanpassing in die nuwe vreemde...het ons bietjie teruggekyk na wat ons al bemeester het en wat ons nog begeesterd is om te bemeester. Van die begin af het ons geweet...die Franse praat Frans...en dié perd gaan ons moet opsaal en ry.

 

As ek ons vaardighede met hierdie taal moet beskryf in 'n taal wat meeste Afrikaners mee kan vereenselwig...gaan ek die statuur van 'n jagter moet inneem. 'n Grootwildjagter...jy kry mos verskillende soorte jagters.

 

Jos is soos daai gesoute jagter met die grassie in sy mond...hy het 'n ou Wildebeespet op sy kop, denim kortbroek en 'n John Deere two-tone knopieshemp aan. Hy vat nie khakie! Sy boots is stowwerig en hy dra 'n .45 Magnum aan sy sy en het 'n .375 in die bakkie en 'n haelgeweer onder die sitplek (sy loop is ook sommer korter gesny). Hy skiet als dood met daai kombinasies. Hy ken sy skietgoed...en hy kan dit gebruik. Jos is tegnies vlot in Frans...na 6 maande. Al die mense het ons gewaarsku: "Gee hom net 6 maande"..."jy sal sien...kinders is soos 'n spons...hulle breins absorbeer alles". As iemand dit weer vir my gaan sê...gaan ek in my broek blerts!

 

Nou Lisa is 'n ander tipe jagter....daai jagter wat die blou camo gekoop het...want êrens was daar ‘n artikel waar iemand iets kwyt geraak het dat bokke nie blou kan sien nie. Geweldige klomp bokke moes deur 'n steekproef gaan en vraelyste invul om dit statisties betekenisvol te maak. Lisa het blou camo en sakkies en gaatjies vir enigiets wat nodig is om ‘n bok plat te trek. Sy het .308 geweer met 'n 5-500 teleskoop op. Sy kan nie mis nie! Wanneer dit by bekruip kom is sy suutjies...en dan lê sy aan...en dis hier waar dit suid gaan. Sy wil so sekuur skiet...dat teen die tyd dat sy die sneller trek het die bok weggespring. Sy het darem geleer...sy moet vinniger skiet. Hierdie week moes Lisa by die dokter (dieselfde een as tevore) en ons lokale apteker draai. Sy het die dokter heelpad in Frans beduie...maar die apteker het weer probeer om vir Lisa in Engels te help...so erg dat sy later vir hom gesê het om eerder Frans te praat. Haar Frans was beter as sy Ingels...dis so goed soos 'n kopskoot.

 

Nou Attie, aan die anderkant...is nog nie 'n jagter nie. Hy kom op die jagplaas aan met 'n witkortbroek, wit tekkies (met secret socks) en 'n ligblou Billabong t-shirt. Hy is totaal buite aanvoeling vir die bos. Hy het nie ‘n geweer nie...hy leen Jos of Lisa sin maar hy het darem 'n Leatherman mes...daai een met die tang by. As dit by bekruip kom is dit 'n gemors...hy fluister vreeslik hard en hy trap elke tak en blaar raak met daai wit tekkies. Wanneer hy die kans kry om aan te lê...dan sukkel hy eers om die bok deur die teleskoop te vind en sodra hy reg is om die skoot te trek...kom hy agter die safety is nog aan.

 

Ons raak almal beter...elkeen teen sy eie pas. Sondag het 'n klompie Suid-Afrikaners by ons kom kuier...op ons lieflike stoep. Die weer was fantasties vir 'n Maartmaand Sondag. Hierdie week is ek in Tanzanië. Lisa en Jos gaan vir die eerste keer alleen wees in meer as 8 maande. Ek is seker hulle sal die fort kan hou tot ek terug is.

 

Groetnis/ Salutations

 

Die Veeltalige Venters

Comments

Popular Posts