Die Verhuisde Venters

 5.       Skool

Nou ja….nuwe dinge bring nuwe stories.

 

Ons is uit Mathieu se huis en in ons eie tydelike (weet nie hoe lank nie) akkommodasie. Ons bly nou in 4 rue 8 Mai 1945, Carbon Blanc….in die dubbel garage. Yip…35 vierkante meter. Interessante naam vir ‘n straat reg ? Dit is die datum toe die Duiters die witvlag gehys het, wat die einde aan die tweede wereld oorlog gebring het. Terug by die huisie….dis knus! Ons badkamer is so knap dat jy ‘n blerts sjampoo op jou kop moet sit voor jy die badkamer betree en dan moet jy in die stort in reverse , want daar is nie plek vir buk of omdraai nie. Hier is ook geen vensters nie….net 'n groot skuifdeur wat reg in die son se oë kyk elke middag/aand as hy sak….en dan is daar 3 waaiers wat oortyd werk om die lug in dié huisie te roer. Hier is ons dankbaar vir die winter wat oppad is.

 

Jos het sy eerste dag van skool gehad. Die beste ysbreker wat hy kon doen, was om sokkies met die Suid Afrikaanse-vlag op, aan te trek. Die kinders het om hom gekloek….want hy het mos ‘n aksent. Julle het gedog die Franse het ‘n mooi taal. Ons het besef die Franse luvvv ons Afrikaanse aksent veral as hy die Britse (Brits is 50km van Pretoria) Engels ingooi. Jos het sy eerste en tweede dag uit die park geslaan. Hy het al sy huiswerk in Frans afgeskryf en ons hoef net Google Translate nader te getrek het om te verstaan wat hy moet doen. Maklik né?

 

Carbon-Blanc is ‘n klein dorpie met net so oor die 8000 mense. Hulle het hul eie polisiestasie en munisipaliteit. Toe hierdie Carbon-Blanckes (hehe….eintlik CarbonBlanais) hoor hier is mense van Afrique du Sud in die skool, het almal uitgekyk vir ons. Dan kry jy so ektra glimlaggie en dalk ‘n oorpresteerende tannie wat lostrek en met Lisa in Frans verduidelik dat sy ook al in Afrique du Sud was. Die beste wat Lisa nou terug kan sê is Oui, très bien….. en dan een van haar beste glimlagte opsit…en dan is almal gelukkig. Ek het ook al probeer glimlag soos Lisa….maar die mense frons terug.

 

Jos se gunsteling maaltyd is die frikadelle en chips by IKEA. Moet nie vra wat in daai frikadelle is nie (seker iets soos perdelong en tong), want dis baie sag en smaaklik. Ons het ons eie vrieskas aangevul met hierdie easy-to-eat-treats….want Lisa het mos ‘n Airfryer gekry. Oooo…hierdie meisie is so opgewonde oor hierdie nuwe speelding. Ons eet soos konings ! Louis XVI en Marie-Antoinette sal hul wat verbeel. Lisa moet nog net ‘n koek bak.

 

Ons moet jul nog vertel van die GPS-tannie en ons stryd om versekering te kry....maar dit vir 'n volgende keer.

 

Groetnis/ Salutations

 

Die Verhuisde Venters

 

Comments

Popular Posts