Die Verpaste Venters
34. Batman en Robin
Ons ritme in die
oggende is taamlik sekuur uitgewerk. Ons wekker gaan net na ses af en dan is
dit koffie in die bed. Ons maak Jos so sewe-uur se kant wakker, dan is dit
aantrek, eet teen 7h30, tandeborsel, kuifkam en dan spring hy op sy fiets teen
8h15. Lisa vang bietjie later ‘n stappie na die tram-stop om die 8h40 tram te
vang taalskool toe. Perfek uitgewerk né? Todat Lisa ‘n oproep kry van Mathieu
af wat vra of sy nie gou-gou sy kinders kan gaan optel nie want hulle het weer
hul bus verpas skooltoe. Nou moet Lisa ratte verander en hulle vining
uitsorteer om nogsteeds terug te wees vir die 8h40 tram…maar hierdie keer is
dit nie meer ‘n stappie nie. Met deesdae se protesoptogte weet Lisa ook nie of
sy te vroeg of te laat is vir die tram nie…hy kom wanneer hy wil.
Ek onthou nog toe my
pa bus gery het werk toe. Die busstop was seker so 300-meter van ons huis af
(sover soos Lisa se tram-stop)…so, met goeie beplanning en ‘n spoedige stappie
kon jy die busstop bereik binne drie minute. Nie my pa nie! Tonie Venter het in
die middestad van Pretoria vir Doane en Aksyns (Customs) gewerk. Later het dit
na Departement Finansies verander. Hy het Maandae tot Donderdae bus gery werk
toe en dan weer terug gedraf huis toe. Vrydae het hy met die motorfiets, met ‘n
groot koffer agterop, gery om die week se werksklere terug te bring sodat dit
gewas kan word vir volgende week. So het hy sy oefening vir die Comrades
Marathon ingekry. Ons oggendroetines het anders gelyk. My ma het nagskof gewerk
by die hospitaal en soggens het elke kind (ons is drie) ‘n beurt gekry om vir
almal toebroodjies te maak vir pouse. Daar was nie ‘n wye keuse nie. Dit was of
appelkooskonfyt, marmite of appelkooskonfyt en marmite. Nou en dan kon ons
katjiebotter kry. Jy durf nie kla nie want volgende week kan jy weer kies wat
die flavour of the week gaan wees. Waar pas die bus in? Wel, die busbestuurder
het gesorg vir al die aksie in ons huis. 'n Bus kom nie laat nie…daai jare in
Suid-Afrika was die bus stiptelik en as hy gestop het wag hy net tot almal op
is en dan vertrek hy weer. Ek dink my pa het aspris daai sisteem getoets tot
ons frustrasie…want dit gebeur toe al ‘n paar oggende dat my pa in die gang
afskree: “Attie…hardloop busstop toe en hou die bus besig….Gerrie…kry die fiets
reg!” Dan weet ons, my pa sny dit fyn vanoggend. Soos ek afhardloop busstop
toe, kyk ek kort-kort terug of my pa nie al om die draai kom nie. Intussen loer
ek ook na die grootpad toe om te sien of die bus nie al in sig is nie. Dan
staan ek maar daar soos Piet-Pompies saam met al die ander wit staatsamptenare
rond...met toebroodjies toegdraai in ‘n Checkerssak. Almal oppad middestad toe.
Kerkplein toe, daar waar oom Paul staan, vir werk. Die volgende oomblik sleep
my pa daai agter tire van my ligblou Bomber drie-spoedfiets op die gras tot reg
voor die busstop…net betyds vir daai bus en woeps…spring hy op. “Totsiens pa" soen ek en dan trap ek die fiets terug huis toe en
maak reg vir skool.
Daar was tog een
oggend waar hierdie plan misluk het. Wel, nie heeltemal misluk nie, maar
aangepas is. Dit was die oggend toe selfs ek laat was met die toebroodjies. Ons
het sommer by die huis al weggetrek met die Bomber. Ek sit
op die raam en hou die broodjies vas, en my pa trap. Daai oggend het my pa so swart leerbaadjie aan
gehad en ek was in my groen safaripak van Laerskool Magalieskruin. 200 meter
weg sien ons hoe die bus aankom. "Ons gaan hom mis…of
nie…dalk…urghh…dammit." Ek moet onder jul aandag bring dat daar weer ‘n
bus sou kom ‘n paar minute later. Daar is ‘n skedule. Ons kon die skedule
vertrou... maar wat nie moes gebeur het nie, is die dat die mense op die
agterste sitplek, my pa se vuur aangeblaas het... hulle moes nie vir ons gelag
het, toe ons dit nie gemaak het nie. Nou ja...dis hier waar my pa sy oë op
skrefies trek...soos Clint Eastwood in "The Good, The Bad and The
Ugly". “Hou vas Attie, vandag trap ons daai bus in!” sê hy met so Eastwood
rasper in sy keel.
Vat 'n oomblik en
visualiseer eers hierdie prentjie asseblief…’n man met ‘n swartleerbaadjie aan,
jaag met ‘n seun in ‘n groen safaripak agter ‘n bus aan…op ‘n driespoed Bomber.
Elke keer as die bus by die volgende stop kom en mense oplaai...haal ons in…en
net sodra ons by hom is, trek hy weer weg, en dan lag die mense weer. So
konsertina ons heelpad in die teenoorgestelde rigting van my skool. Op een
stadium is daar ‘n bietjie afdraande. Nou begin ons spoed vang! Ek kan voel hoe
die wind deur my hare suis. My pa se gehyg is nog orraait…hy is mos fiks. Ons
laat waai…soos Batman en Robin op daai fiets…die swart baadjie wat wapper en
die groenklong wat vasklou vir ‘n vale. Moet nie die toebroodjies vergeet nie.
Drie kilometer verder
vang ons eers daai bus. Woeps…spring my pa op, hy knip sy oog vir my en al die
mense op die bus klap hande vir hom. Welgedaan! Oulik nê? Neeee…ek moes die
hele ent, opdraende, terug huis toe trap en toe weer skool toe daarna. Ek sou
dit nie gemaak nie. Gelukkig ry my ma dieselfde pad terug van die hospitaal af
en ek kon haar so halfpad attent maak van haar verlore seun wat die pad byster
geraak het maar darem die bus gevang het. Ek het my fiets in ons 1975 Franse
Peugeot 504 stasiewa inlaai. Ek was darem betyds vir skool.
Lisa het nog nie ophou
verjaar nie. Gisteraand was die Saffas weer by ons vir nog 'n partytjie en ons
kon weer sing en koek-eet. Francois was die braaimeester en die fajitas was 'n
wenner. Die plankievleis en hoender was die basis van die fajitas en die mense
het letterlik hul vingers afgelek.
Ons het heelwat sukses
bereik hierdie week met betrekking tot ons Franse admin. Ek
het my nuwe Franse bestuurlisensie ontvang en Lisa het haar Récépissé de
Demande de Carte de Séjour gekry. Dis
tegnies 'n papier voor die kaartjie. Haar afspraak by die Prefecture is
geskeduleer vir die 11e waar sy moontlik haar vingerafdrukke moet gee. Dis die
laaste stap voor sy haar verblyfpermit sal kan gaan optel. Ons sal terselfdetyd
Jos se aansoek ook dan afhandel. Sy sal daarna ook kan aansoek doen om haar
bestuurslisensie om te swaai vir die Franse een.
Groetnis/ Salutations
Die Verpaste Venters
Comments
Post a Comment