Die Verskansende Venters
37. Bure maniere
Die Franse het 'n spul bure waarmee hul moet saamleef. Hulle is bure met 'n paar lande. Frankryk grens aan België en Luxemburg in die noordooste, Duitsland, Switserland en Italië in die ooste, die Middellandse See, Monaco, Spanje en Andorra in die suide. Terwyl die langste grens wat Frankryk deel, eintlik met Brasilië is via die Guiana-streek, is Frankryk se langste grens in Europa (of kom ons sê Metropolitaanse Frankryk se langste grens) in werklikheid met België, wat Spanje net-net uitklop.
Die Duitsers is nie hul gunsteling buurman nie. Baie van die Franse het nog nie die Duitsers vergewe vir die bombastiese boeliegedrag wat hulle 'n paar dekades terug afgedwing het nie. Saam is hulle ook die twee kraghuise van Europa. As Frankryk nies kry die res van Europa verkoue. As Duitsland sy toon stamp, is die res van Europa kruppel. Indien hierdie twee lande mekaar in die SPAR sou raakloop, groet hulle mekaar vrek opgewonde…met so skynheilige glimlaggie...al te beleeft. Die een sal voorstel: “Ons moet bietjie braai." "Ja ja, dis 'n blink plan" sal die ander een sê… en dan soos hul wegloop …sê hulle altwee binnensmonds en gelyk: "poepôl."
Ek en my broer het self bietjie drama in ons kinderdae beleef met 'n knorrige buurtannie. Rina was haar naam. Sy het 'n wildernis voor haar huis gehad wat al ons tennisballe opgevreet het...en waag ons net om dit te gaan soek...dan roep sy deur die venster: "UIT!"...asof sy heeldag daar sit en wag vir ons huiskrieket- en rugbywedstryd om te begin.
Ons is al meer as twee maande in ons nuwe huis hier in Carbon Blanc en het menigte kuiergaste oorgehad vir 'n kuiertjie of drie. Ons is maar sku om intelligente gesprekke in Frans met die mense om ons te hê...nie omdat ons nie wil of kan nie maar eerder omdat ons Franse airtime vinnig leegloop. Ons werk kliphard daaraan om ons woordeskat-reservoir op te bou...juis vir oomblikke soos hierdie.
Ons het wel drie van ons bure al ontmoet en vir 'n paar ander gewaai. Bernard bly langs ons. Ek dink hy is 'n groene want hy ry net hybrid karre. Elke middag hoor jy die gehuil van die elektriese motors wat by hul hek indraai. Hulle bly in 'n houthuis en hul blonde labrador blaf gereeld as ons naby die heining is. Bernard het gedog ons is Engels maar ons het dit duidelik gemaak dat ons Suid-Afrikaans is. Ons gooi aspris, so nou en dan, 'n paar Afrikaanse woorde langs die heining verby...soos Voetsêk ...net sodat Bernard onthou ons is nie Engels nie. Ek dink die labrador verstaan wel Afrikaans.
Ons buurtannie in die huis agter ons is oud maar 'n groot tuinnier. Madame Danielle het vinnig vir Lisa vertel waar die suurlemoenboom eintlik moet staan en dat die Camélia die beste aard teen 'n muur wat nie te veel direkte son kry nie. Monsieur Jean dra kruisbande en ons verstaan glad nie wat hy sê nie...hy eet al sy woorde op en dan kom daar net 'n gemompel uit. Hulle was ook eerste om op te merk dat ons 'n trampolien het...seker omdat hulle skrikkerig is vir die gejuig wat gewoonlik saam met hierdie instrument kom.
Dan het ons vir Jacques in nommer 13. Hy is ook al afgetree. Ek ken hom nie goed nie maar ek dink hy is dalk die Klakous van Klawer. Ek is seker hy het 'n blou t-hemp wat sê: "Stem DA" in sy kas. Ek moes hierdie week 'n petiesie teken teen 'n nuwe ontwikkeling naby ons. "Wat gaan ons doen as die straat vol vragmotors staan en die brandweer moet verby?" het hy gesê. Goeie vraag…wat as? Ek dink Bordeaux se weerstasie hou ook Jacques se houtvoorraad dop. As Jacques baie hout bymekaarmaak...gaan dit 'n koue winter wees. As hierdie houtintrige enige waarheid inhou... gaan ons hierdie winter opvries. Hy stap darem elke oggend en aand met Frita...sy Belgiese herdershond. Met 'n bal in haar bek en 'n katrol vir 'n leiband, patroleer hulle die buurt.
Die Freekes (Janco en Niens), nou van Potsdam in Duitsland maar ook ons tjommies van Centurion, het hierdie week by ons gekuier. Niens het aanvanklik almal vriendelik in Duits gegroet en bedank maar hier teen die einde van die week het sy die Oui, Oui… bonjour...s’il vous plait en merci mooi onder die knie gehad. Dit was heelwat sagter op die Franse oor as: JA, JA GUTEN TAG, BITTE en DANKE .
Groetnis/ Salutations
Die Verskansende Venters
Comments
Post a Comment