Die Versteekte Venters
35. Miltsteek
Miltsteek…almal van
julle het seker al erns in jul lewens te doene gehad met hierdie pynlikheid. Al
gewonder waar hierdie steek in die milt vandaan kom? Die oorsaak van hierdie
steek is eintlik 'n spasma in die diafragma - dit is die spier wat jou
asemhaling beheer. Dis hoekom jy stadiger moet hardloop wanneer jy 'n steek het
– dit laat jou stadiger en dieper asemhaal, en dit veroorsaak dat die spasma in
die diafragma dan verdwyn. Die spier kan beter rek en ontspan wanneer jy
stadiger asemhaal. Daar is ‘n paar faktore wat hierdie steek veroorsaak maar
die grootste een is: Onfiksheid!
Jos het Vrydag aan sy
skool se jaarlikse Landloopresies deelgeneem. Dis eintlik net ‘n een kilometer
baan, uitgelê in die parkie (Parc Flavol) en albei Carbon Blanc skole het deelgeneem.
Een kilometer is nou nie ‘n marathon nie maar vir ‘n spul onfikse kinders is
dit genoeg om somme ‘n klomp milte aan te steek. Nou ja, toe die skoot klap toe
is hulle soos ‘n spul bye wat wegtrek en soos hul gôe begin uitval steek daai
bye die kinders se milte. Jos is nie gespaar nie. Hy het altemits sesde
gekom…ons glo hom…net buite die medaljes blykbaar.
Hier is nie goeters
soos skoolsport nie. Geleenthede om aan buitemuurse aktiwiteite deel te neem is
maar beperk vir die kinders. Hier is nie genoeg grond om atletiekbane,
rugbyvelde of hokkievelde te bou vir elke skool nie en indien die kinders aan ‘n
sport wil deelneem, is dit uit en uit die ouers wat hierdie proses moet dryf.
Klubs is die enigste opsie. In Suid Afrika maak die skole dit makliker vir die
kinders om aktief te wees, al is dit net skaak. Buiten Jos se swem, wat hy drie
keer ‘n week doen en tennis op Woensdae, ry hy darem fiets skool toe en saam
met my elke Saterdag as ek gaan draf. Hardloop en hardloopervaring is nie groot
op sy lys nie en daarom het die milt in die slag gebly. Ons gaan sy draffiksheid
moet opskerp.
Hy is nie die enigste
een wat aan hierdie “miltsteek” verskynsel blootgestel was nie. Ek het die
afgelope twee weke in die Engelsprekende Oos-Afrika gereis. Twee weke weg van
die Franse. Twee weke van geen Franse taalklasse. Ek het ook steek in die milt
ervaar op Parys lughawe toe die immigrasie offisier my ‘n paar vrae in Frans begin
vra het. Dis asof die pyn suutjies inkruip en jou herhinner aan wat skort is. Ek
gaan my taalfiksheid weer moet opskerp.
Lisa se bakbelangstelling
het taamlik toegeneem. Seker maar omdat Mathieu dinge so maklik laat lyk. Hierdie
naweek het sy hamburger bolletjies, ‘n volgraanbroodjie en onderandere “hot
cross buns” gebak. Dis Paasnaweek en hierdie is mos ‘n gebruik wat ons ken. Hot
cross buns is nie ‘n Franse gewoonte nie. Hulle ken dit nie… die Engelse het
dit uitgedink. Die broodjie merk die einde van die Lydenstyd en verskillende
dele van die “Hot cross bun” het 'n sekere betekenis. Die kruis is ’n
voorstelling van Jesus se kruisiging en die speserye binne dui op die speserye
wat gebruik is om Hom by Sy begrafnis te balsem. Dis nie net Jesus se dood en
waarvoor Hy gesterf het nie maar die feit dat Hy opgestaan het, wat ons geloof
definieer. Hy het gesterf sodat ons kan lewe. Mag julle almal ‘n geseende
Paasfees beleef.
Groetnis/ Salutations
Die Versteekte Venters
Comments
Post a Comment