Die Verwaaide Venters
36. Die Franse-Kaapse-Dokter
Die weer regoor
Frankryk kan in April 'n bietjie wisselvallig wees—die idee van April-buie is
baie werklik hier! Jy kan 'n mengsel van
sonnige en reënerige dae verwag, met 'n gemiddeld van 10 reëndae versprei deur
die maand. Neerslaghoeveelhede kan wissel
na gelang van waar jy besoek: Parys ontvang net minder as 'n duim
reën in April, terwyl hier langs die Atlantiese kus, ons gemiddeld 2 duim kan
ontvang. April bring ook 'n winderigheid saam met hom...net soos Augustus daar
in Suid-Afrika. As ek die weer in April moet beskryf is dit soos 'n ou oom wat
die dokter gaan besoek vir 'n jaarlikse check-up . "Trek maar uit
oom...laat ons kyk" sê die dokter. Soos die oom kreun om sy skoene los te
maak glip daar 'n paar winde verby. "Oops , jammer dokter...ek weet nou
nie waar daai lawaai vandaan gekom het nie" sê die oom. "Op my
ouderdom vertrou ons mos nie meer 'n poep nie...jy gaan of nuwe klere moet
aantrek of jou serp hoër moet skuif." "Hoe gaan dit met die prostaat
oom?" vra die jonge dokter...hy sal mos nie weet nie wat ons oues moet
trotseer nie. "Die prostaat neuk maar soos 'n man ouer raak dokkie."
Hier sukkel die weer ook met die gedoente...dit reën bietjies bietjies...en
sodra jy seker is dit het klaar gerëen en die son skyn...dan sien jy jou broek
is weer nat. Waar de ongeluk het dit vandaan gekom? Waar is my jas? Hoekom loop
my neus eweskielik? Hier moet jy maar vir al die seisoene voorberei elke dag.
Jos het vakansie vir
twee weke (nog een week oor) en ons het 'n paar projekte vir hom uit gedink wat
hom sal besig hou. Een projek was om 'n bo-aansig skets van ons erf te teken
met elke boom en struik op. Dan moet hy elke plant gaan identifiseer. Ek is nie
Keith Kirsten nie maar ek hou van 'n mooi tuin...Lisa ook. Ek snoei baie
goed...en Lisa plant baie graag...maar as dit by aan-die-lewe-hou
kom...struik(el) ons. Hopelik sal Jos inkoop in die groen-idee en ook
eienaarskap neem. Hy het laas naweek gras gesny...hy het wel nog 'n paar
kunslesse van hoe om 'n simmetriese grasperk te skep, nodig. Hierdie week gaan
hy een bedding ('n ou groentetuin) se onkruid moet uitspit...ons is opgewonde
om te sien waarmee hy vorendag kom en watse planne hy gaan beraam.
Groetnis/ Salutations
Die Verwaaide Venters
Comments
Post a Comment