Die Flouerige Venters

39. Skouspel

Ek en Bordeaux lughawe het mekaar die laaste paar weke baie goed leer ken. Ek is ‘n gereelde reisiger…’n “frequent flyer”. Dit is nie regtig ‘n status om op trots te wees nie…glo my. Wat dit eintlik beteken is, dat ek baie tyd weg van die huis af is, weg van my familie is, en baie tyd in ‘n vliegtuig en hotelkamer spandeer. Onlangs was ek wel bederf met 'n besigheidsklas "upgrade" op my vlug van Abuja, Nigerië af. Vir die van julle (julle fancy hoity toities) wat gereeld besigheidsklas vlieg sal glad nie weet waarvan ek praat nie, maar ons hoipolois (die gepeupel), sal verstaan as ek sê: "Ek was soos 'n sewejarige laaitie wat in 'n huisbak klim. Ek wou al die knoppies druk en kyk wat gebeur. Dis liggies, laaitjies, sjampanje en ‘n koekie. ‘n Warm kombersie en ‘n tandeborsel met ordentelike tandepasta…en dan nog ‘n stoel wat “transform” in ‘n bed. Lekker!! Dis nie my eerste keer vir so ‘n bederfie nie...'n vorige keer was ek sommer opgeskuif eerste-klas (La Première) toe. Hierdie is 'n heeltemal nuwe wêreld! Daar is net plek vir ses mense en elkeen het sy eie troon. Hier vat die lugwaardin jou paspoort al by die hek en dan begelei sy jou asof jy die president is na die vliegtuig toe. Ek het roosblare verwag...die rooi tapyt moes maar deug. By die vliegtuig aangekom…gee sy oor aan nog ‘n dame wat van oor tot oor glimlag en verskriklik opgewonde is om my te ontvang. Die spyskaart lyk nie soos die klomp daar agter in die vliegtuig nie…dit word sommer in goud gedruk. Springbok-fillet, soeterige rooiwynsous, foie gras, kapokaartappels, kasies, macaroons en Medoc wyn was op die spyskaart....en as jy klaar geëet het, kan jy die pajamas, wat hulle vir jou gegee het, gaan aantrek. Na ete, lê ons soos die ses musketiers, elkeen in sy swartpakkie op sy eie matras en vere-duvet. Ek is seker, as ek mooi gevra het, sou hulle vir ons 'n slaaptydstorie ook gelees het.

So het ek ook die ander uiterste ervaar met my vlug terug van Ethiopië af. Die vliegtuig was propvol en ek het nie ‘n “wye” keuse van sitplekke gehad om uit te kies nie. Die sitplek wat ek kon kry was oorkant die toilet. Jip, buiten die konstante aroma wat in my omgewing gehang het, het ek my kort-kort boeglam geskrik elke keer as die toilet gespoel word. Ek kan sommer voel hoe suig daai toilet my nader. ‘n Lastige buurman en ‘n slaappil meng ook nie lekker nie. Konstant moes ek uit my sluimering ontwaak en soos ‘n zombie orent kom sodat dié weer kan in en uitskuif. Nog ‘n rede hoekom ek eerder langs die gang sit…is omdat ek my een been in die padjie kan afgooi. Ek is seker toe Ethiopian Air moes bepaal het hoeveel sitplekke hulle in hul vliegtuig kan inprop, het hulle die gemiddelde 10 000 meter langafstand atleet se hoogte, breedte en gewig geneem as maatstaf. Hoekom sal hul die vleisvreters van die suide wil akkommodeer? Hulle missie was duidelik…die nalatenskap wat elke reisiger na Ethiopië moet ervaar moet tot op die laaste nippertjie ‘n duidelike ervaring wees. 

Hierdie week was ‘n kort week in Frankryk gewees. Donderdag was Hemelvaart en Vrydag sommer ‘n afdag by die werk. Lekker lang naweek. Snaaks dat baie Franse die Christelike vakansiedae geniet maar geensins in die rede daarvoor glo nie. Tipies ‘n kultuur en tradisie-ding…glad nie ‘n oortuiging nie. Tydens sulke langnaweke gebeur daar mos heelwat dinge om die mense van die omgewing besig te hou. Baie jare terug was die Pretoriase Skou en die Randse Paasskou die in-ding gewees. Ek het as kind ‘n paar van hierdie skoue bygewoon. Al wat ek as kind kon onthou was die pal gestappery…van een saal na die ander. Dit was vreeslik sieltergend vir ‘n kind. By elke stalletjie wil iemand iets verkoop of jy moet iets proe, beleef of voel. Verimark op steroids. Dis Kreepy-Krawleys, the Big-clean-green-machine en ander stofsuiers, Lazy-boys en houtmeubels, AMC Classic potte wat nie aanbrand nie, borrelbaddens met super jets, merry-go-rounds wat jou maag laat skommel, roomys en spookasem…als waaraan jy kon dink was daar. Dan was daar diere. Ponies, papegaaie en poenskop skape. Beesmis en perdebolle…jy moes jou trap ken. Die Stoetbul van die Jaar en die Melkkoei van die skou het elkeen ‘n roset gekry en volgende jaar doen hulle dit weer.

Hierdie week was dit die “Salon Agriculture” by “Parc des expositions’’ hier in Bordeaux. Tot ons verbasing…is al daardie items van 30 jaar terug steeds topverkopers. Hulle is almal nog immers in sirkulasie. Dit was nou nie so groot soos die Randse Skou nie maar dieselfde herhinneringe het homself herhaal. Jos wat kla oor die baie loop, almal wat aan my iets wil verkoop asof ek die beursie dra en Lisa wat stap met mening. Ons is daaruit met een roomys vir Jos (ons het gevind dat dit hom tydelike geheueverlies gee...hy vergeet van die seer bene vir ‘n paar minute), drie hamburgers vir middagete en twee brosjures. Een vir ‘n motorafdak en ‘n ander vir ‘n fancy braaier.

Groetnis/ Salutations 

Die Flouerige Venters

Comments

Popular Posts