Die Verkoelde Venters
K53 observering en die hele ritueel van spieëltjies kyk en blindekolle, was seker maar net ‘n jaar of so in die land gewees toe ek destyds moes uitpasseer vir my bestuursliksens. Op daai stadium was daar nog nie eers ‘n riglyn vir die motorfietse gewees nie. Ek het eers in my eerste universiteitsjaar agtien geword (1996) en het die eerste afspraak wat ek kon kry, by die minder bekende Verwoerdburggronde, gevat…Watloo was net te besig. Ek kon bestuur…met my pa in die passasiersstoel, het jy nie ‘n keuse gehad as om te kon bestuur na jou jaar van “learners” nie. Hy het seker gemaak dat jy kan parallel parkeer, teen Mount Everest kan wegtrek sonder om agtertoe te rol…selfs “figures of 8s” met gemak kan doen… agteruit… met toe oë…soos Keanu Reeves in The Matrix. Een ding wat my pa nie kennis van gedra het nie (ek ook nie)…was die K53 ritueel. Ek ken dit nou nog nie. “Hoe maak ons met hierdie observasie-goed, pa” vra ek hom die dag voor ek moet gaan uitpasseer. “Jong Attie, kyk maar net die heeltyd rond” was sy woorde. Nou ja, so gemaak en ek en my ma is fort met ‘n geleende Golfie. ‘n Beidge ene wat ons by oom Rudolf, die buurman, geleen het. So driekwart deur die toets…klop die blanke-instrukteer met sy “clip board” op die dak en wys ek moet stop. “Meneer, ek kan sien jy kan bestuur, maar jy het nie ‘n benul van K53-observering af nie.” Daar pluk ek die eerste rondte. My wêreld val uitmekaar…min wetend dat dit nie die laaste toets was wat ek daai jaar sou dop nie. Ek sorg dat ek sommer dadelik ‘n nuwe afspraak maak maar dié keer maak ek gebruik van ‘n ryskool se kar…een met ‘n yslike “L” op die agteruit en in groot blou letters op die deur staan daar geskrywe: ”K53”. ‘n Vinnige lessie oppad na die nuwe toets, en ek is gereed. Tjoef-tjaf beïndruk ek daai oompie en ek kry my lisensie. Nou kan ek die meisies by die koshuis oppik en uitvat in ons blou Fransestasiewa…’n tipiese studentekar van daai jare…of hoe?
Intussen moes ek ook vir die motorfiets uitpasseer. Dit was krities…dit was my enigste vervoer. Die stasiewa was ‘n leenkar en dit was net om af te show voor die girls maar hy was baie swaarder op brandstof as die motorfiets. Enigeiets meer as die eerste date, moet met die bike gebeur. Hier het ek my eie 1978 Honda CB750K gebruik om die toets te doen. Ek was baie op my senuwees…want die blêrrie bike vrek die heeltyd. Ek moes sy oor die heeltyd draai en die revs hoog hou sodat hy tog net nie vrek nie. Erns het ‘n o-ring in sy vergasser vergaan…dié dat die ding so proes. Dit het die heeltyd geklink asof ek die ander leerlinge in die toetsgronde wil daais. Die beampte het sommer op die stoep van ‘n asbeshuisie gestaan en gekyk hoe ek ry…en toe ek nog dog ek is besig, sien ek hy is lankal nie meer op die stoep nie. Hy het net een GROOT regmerk oor die bladsy gegee. Soos ek sê…K53 in bikes was nog nie van toepassing nie…die enkele vrae wat jy moes beantwoord was: “Kan jy wegtrek teen ‘n bult, gebruik jy jou flikkers en het jy balans.”
Jos moes hierdie week sy fietsrylisensie by die skool aflê. Jos is soos ek … ons ken van fietsry. Dalk nou nie jou tipiese Lance Armstrong nie (ons urinemonsters wys eerder te veel roomys as opkikkers), maar eerder die gemiddelde-Gatiep met twee wiele. Hy moes ‘n toets skryf oor al die padtekens en dan moes hy basiese manoeuvres doen met sy fiets. “Mamma, daar is kinders wat dit nie eers kan doen nie. Dit was soo easy!”. Aan die einde van die dag het hy sy strepe gekry…sy Sebras.
Die fiets-ding in Frankryk blom as dit somer raak. Elke naweek sien jy karre en fietsrakke met fietse op…die buiteluglewe roep. Almal wil erns heen ontsnap. Die winterseekat se tentakels het vir eens sy greep op die stad verloor. Van oud na jonk ry fiets…asof hulle oefen vir iets...nuwe moed het vir iets...die Nuwejaarsvoornemens kom nou tot vervulling. Een van die dae is dit hoeka Tour de France ook nog…en ek is seker dis die blerrie muskiete wat hierdie fietsryvirus oordra. Temperature van oor die 30grade was hierdie week aan die orde van die dag. Ons moet weer gewoond raak daaraan. Laas jaar toe ons hier aangeland het, het ons die einde van die somer betree...steeds warm maar oppad herfs toe. Ons het saam met ons nuwe huis, die vorige eienaars se opblaas jacuzzi oorgekoop en die tyd het aangebreek om hierdie outjie te benut. Dis nie ‘n swembad nie en ook nie regtig ‘n ploeterpoel nie. Dis ‘n afkoelborrelbad. ‘n Lekker koue drankie in die hand onder ‘n sambreel in hierdie bad…is so goed soos om by die see in die sonnige suide van Frankryk te sit…Nice nê?
Groetnis/ Salutations
Die Verkoelde Venters
Comments
Post a Comment