Die Volk(leurige) Venters
Op 8 Mei 1945 – bekend as "Victory in Europe Day" of V-E Day – het vieringe oor die hele wêreld uitgebreek om die einde van die Tweede Wêreldoorlog in Europa te merk. Die oorlog het byna vyf jaar lank gewoed toe Amerikaanse en Gealliëerde magte op 6 Junie 1944 op die strande van Normandië, Frankryk, geland het. Toe Charles de Gaulle, die hoof van die tussentydse regering, die aankondiging op 8 Mei 1945 gemaak het, het al die klokke van Frankryk begin lui om dit te vier en die nuus te versprei.
Vir baie dekades is Oorwinningsdag afgeskaf en weer as 'n nasionale vakansiedag ingestel. Dit was egter president Mitterand wat die herdenking van die oorwinning van 1945 herstel het en hierdie dag as 'n bankvakansiedag op 2 Oktober 1981 herstel het. In 1982 het 8 Mei 'n amptelike nasionale vakansiedag geword. Deesdae word daar 'n parade langs die Champs Elysées gehou, asook baie ander gedenkseremonies regoor Frankryk.
Tydens die tweede wêreldoorlog het die Franse "Les Chantes des Partisans" gesing en die magte het hierdie wysie gedurig gefluit. Dit het gedien as 'n volkslied vir die Franse Weerstand tydens die besetting van die land deur die Nazi's. Dié bevrydingslied het geïnspireer, kameraadskap gebou en hoop gebring. Jos en sy klas het Maandag die lied by juis so 'n seremonie by die burgermeester se kantore gesing. Hulle het ook ‘n praatjie voorgedra waarvan Jos twee frases oor die mikrofoon moes sê. Hy was die enigste een in 'n kortbroek (nie khakie nie) en het darem skoene aangehad.
Die "La Marseillaise" is die eintlike volkslied van Frankryk en dit is inderdaad geskryf ná die Franse Revolusie in 1792. Net na die dood van Louis XIV en Marie-Antoinette, het die konings van Oostenryk en Duitsland geskrik. Hulle kan nie bekostig dat hierdie anargie onder hulle bevolking ook nog versprei nie. Hulle moet hierdie oproer dadelik smoor…en toe val hulle Frankryk aan. Die nukkerigheid vir die Duitsers het toe al begin. Die “La Marseillaise” het sy naam gekry toe dit deur ‘n klomp soldate van Marseille gesing is tydens hul optog na Parys. Dus kenmerk hierdie volkslied nie eintlik die begin van die Franse revolusie nie (Bastille-dag op 14 Julie 1789) maar eerder dat die nuwe konstitusie aanvaar is in 1791. Die doel van hierdie lied was ook maar om die mense en die soldate op te sweep. Die woorde is nogal rof...gaan loer maar na die vertaling.
Lisa het hierdie week haar residensiepermit gekry. Nou is sy ook wettig...Sy het nie nodig gehad om “La Marseillaise’’ te sing nie…maar eerder ‘’Loof Hom met die tromme, Loof Hom met die harp!’’ Ons gaan wel die volkslied moet leer…vir eendag maar ook vir September wanneer die Rugby Wêreldbeker afskop hier in Frankryk. Hulle is immers ons tweede span al lyk dit asof ons moontlik gaan koppe stamp in die kwarteind of halfeind rondtes.
Ons tuin het ontplof in kleure. Ons het nie geweet ons het soveel rose nie. Geel, pienk, geel met pienk, rooies en appelkooskleuriges. Dit ruik heerlik...dis pragtig!
Groetnis/ Salutations
Die Volk(leurige) Venters
Comments
Post a Comment