Die Verstommende Venters

42. ‘n Hoed agterna gooi

Laas week het ek ‘n “Lys van Lesse” begin wat hierdie Boertjies van Bordeaux onderandere herhinner is aan, verbaas is mee en selfs nuut bygeleer het tydens ons inburgering hier in Frankryk. Uit die staanspoor het ons geleer dat die Franse ‘n spul smulpape is. ‘n Vreeslike klomp kenners op die gebied van kookkuns, smake en kombinasies…elkeen van hulle. Hulle kan ure lank praat daaroor. Ons Afrikaners ook…maar ons gaan net vinniger oor in die "eet" van die onderwerp waaroor hulle so praat. Genade…ons bekke kan ook net so lank water voor ons gedehidreerd is. Ons eet…hulle peusel…van apèratif tot hoofgereg, 'n kaasbord tussen-in tot nagereg. Elke gang is ‘n nuwe bewondering , ‘n kritiese analise van vertoning, geure en proewery. Klein happies...mmm....aah...en dan die vertolking. Als tot groot kompliment vir die kok. Ek het aangeleer om meer te "proe" op ‘n slag. Nie noodwendig 'n goeie gewoonte nie...vir my was dit nog altyd ‘n volume-storie teen tyd. Ek sal later proe…nie nou nie. Ek sukkel met die stagiger eet hier…maar ek pro(e)beer.

Nog ‘n vaardigheid wat ons opgeskerp het…net omdat ons hierdie aspek reeds baie goed ken, is:
LES 2: Met die hoed in die hand, kom jy deur die ganse land.
Vriendelikheid, beleefdheid en ‘n glimlag, spreek meer woorde as enige taal. Dit was ons “go-to” taktiek van die begin af…nog steeds eintlik. Frustrasie gaan jou net nêrens bring nie. Geduld, nederigheid en ‘n groot glimlag met baie tande…iets wat Lisa en Jos sakke vol van beskik, is aan die orde van elke dag. Ons moet eenvoudig daai besluit neem elke oggend en met die Here se genade, pak ons die dag aan. My glimlagte het naderhand “awkward” begin lyk. Soos ek sê…hierdie gesig het elke Fansman ontmoet, hoofsaaklik gedurende kommunikasie met hulle. Ons is nou feitlik tien maande hier en ek dink dis tyd om jul weer terugvoering te gee oor ons Franspraat-vermoëens. ‘n Paar episodes terug het ek gepraat vanuit ‘n grootwildjagter se ervaring. Ek gaan ander voorbeelde moet gebruik waar alles gepaard gaan met ‘n glimlag... un sourire.

Jos is deesdae soos ‘n gemengde-vegkuns-vegter ('n MMA fighter). Deel klappe uit …left, right en centreback-hand ook. Hy is nog nie suiwer met sy houe nie maar dit tref…en die ander ou is versigtig. Anything goes! Aan die einde van die geveg gee hulle 'n hi-five en glimlag hulle vir mekaar…met mouth guards en al. Jos het in tien maande se tyd nog nie Frans bemeester nie, maar hy is sterk oppad. Tale is iets waarvoor hy ‘n aanvoeling het…sommer onlangs ‘n Spaanse gedig ook opgesê in die klas. Ons doen ons bes dat hy nie sy Afrikaans en Frans meng nie en die Engels druk ons ekstra werk in want sy maatjies is so ver agter…hy het hulle al drie keer ge-lap.

Lisa is weer soos ‘n byeboer. Sy is nie bang vir die bye nie…nie meer nie. Sy het al die kleredrag, handskoentjies en netjies. Sy is deesdae kalm en weet presies hoe om hierdie bye te handteer sodat hulle nie kwaad word nie. Sy weet waar om die heuning te kry...watter korf om oop te maak. Met haar hoed en net wat haar gesig beskerm…werk sy rustig voort…todat daar een verdomde by besluit om onder die net in te kruip…dan is dit ‘n gewaai, ‘n geklap en ‘n geblaas. Byna chaos! Dit gebeur selde…bitter selde…maar dit het al. Na als bedaar het…skater sy van die lag en gaan aan asof niks gebeur het. Verstommend of soos die Franse sal sê: “incroyable”! So nou en dan, met haar pragtige glimlag en al, is sy in gesprekke met die Franse betrokke en dan lyk dit asof jy ‘n Netflix fliek deur ‘n twee megabyte lyn kyk. ‘n Kort pouse, asof die lyn bietjie hang, tussen die scenes…maar so skraal dit pla jou nie eintlik nie.   

Ek aan die ander kant is soos ‘n swaargewig-bokser (eerder oorgewig swaargewig). Ek beweeg nie baie nie. Ek fokus eerder op twee kern bokskombinasies en ek gebruik net hulle. Akuraatheid is allerbelangrik. Bah-Bah-Boef of Boef-Bah-Bah…maklik, onfeilbaar. Genoeg. As ek en Bakkies (die Franse-taal) in die bokskryt sou klim…weet ek presies waar ek hom gaan moker. Ek het dit geoefen, ek ken sy moves. “Net een rondte, dan gaan hy planke toe” dink ek. Die klok lui…ek kom versigtig vorentoe…ek beloer vir Bakkies…ek moet eerste swaai en net voor ek hom pot, skop hy my tussen die bene! Daar lê ek…met ‘n huigelagtige glimlag op my bek. “Pouvez-vous parle plus lentement, s’il vous plait?” is al wat uit my mond kan kom. (Kan u asseblief bietjie stadiger praat?). Dit klink so poëties vir die Franse as ek dit sê, dat hulle ook sommer saam met my skaterlag. My laggie is vroom. Hulle weet net nie hoe hard daai skop was nie. Met ons gebroke Frenglish of selfs net gebroke Frens, kom ons reg…meeste van die kere.

Ons is darem nie meer op die punt waar ons ons hoede onder ons arms vasdruk nie… ons haal hom eerder af. 

Groetnis/ Salutations

Die Verstommende Venters

Comments

Popular Posts