Die Vrolike Venters


41. Spektakel

Ek was nie veel van ‘n kultuurfriek op skool nie. Daai bloed het nie dik in my are gevloei nie. Nie eers koor gesing nie. Die meeste “kultuur” wat ek op skool beoefen het, wat ek kon onthou, was Volkspele in graad een. Met my gryslangbroek, swartskoene, withempie, groenonderbaadjie en oranjekrawat, het ons gedans en geswaai…ai die Afrikaners is darem plesierig. Die niggies het weer wye rompe gedra met sulke pofmoubloesies… eers het sy gedraai en dan haar ou man… en dan sommer so hand om die lyf, draai ons twee saam. Ons was maar ses jaar oud.

Lisa weer, was meer ‘n bok vir “sports” as sport. Nie dat sy nie sport beoefen het nie, verstaan my reg, sy het aan als deelneem. Swem, tennis, gewigstoot probeer, netbal tot rugby. Op die uiteinde was sy gekies as een van die skool se diregente wat tydens atletiekbyeenkomste die ander kinders aangehits het om te skree…soos ek gesê het…”sports.” Sy het ook deelgeneem aan koorsang, spreekkoor, redenaars, Eistedford, skoolorkes, klavier in die skoolsaal gespeel tydens openinge en selfs revue. Haar beker het toe al oorgeloop.

Jos het baie van Lisa gekry en is ook meer van ‘n kultuurman… ek is okei daarmee. Ek het net nie baie ervaring om met hom te deel op daai gebied nie...miskien net stories aandra...maar dis dit. Hy hou van drama, musiek, sing en voordra…en as daar koorsang in sy skool hier in Frankryk sou wees, sou hy voor gestaan het. Hul klas het wel onlangs ‘n spektakel (petit spectacle) aangebied vir die ouers waar hulle ses Franse liedjies en een Engelse liedjie gesing het. Hul Ingels was maar bra power…maar die Franse wysies was heel beleeft. Die juffie het self maar gesukkel met die Britse taal. Dis nie te sê as jy die liedjie in Engels kan sing dat jy eweskielik die taal kan praat nie. Spektakel is dalk nie die regte vertaling nie maar die dansoptrede die volgende donderdagmiddag kon eerder in hierdie kategorie geval het. Gedurende skoolspouses kon Jos kies of hy sokker wil speel saam met die ander sokkerbeheptes of eerder aan ‘n “petit danse spectacle” wil deelneem. Hy het die dans gekies. Later kom ons agter, hy is boonop die enigste seun in hierdie vertoning en dat al die "moves" deur hulself gechoreografeer is. Dus…’n mengsel van repetererende ongesinkroniseerde hand- en armbewegings met musiek en ligte. Dis nou nie op Laerskool Wierdapark se Revue-standaard nie…hierdie was slegs ‘n petit spectacle. Soos die skouspel aangaan probeer ek agterkom, hoekom die seun van my juis hierdie kultuuritem gekies het. “Het hy nie alleen gevoel toe hy sien hy was die enigste laaitie nie? Moes ek nie maar meer bal saam met hom geskop het nie? Waar kry hy al hierdie moves vandaan?” wonder ek….en toe sien ek dit. Die rede vir sy deelname in hierdie spektakelstuk...die rede hoekom dans cooler was as sokker, het lang bruinhare, mooi ronde bruin oë, ‘n dun lyfie en lang bene. Mélina was haar naam. “Sy is heavy irriterend pa maar mooi” was sy verduideliking. Ons het dit daar gelaat…vir nou.

Ons is nou amper tien maande hier en daar is ‘n hele paar lesse wat ons al geleer het gedurende ons reis, ons avontuur, ons nuwe lewe hier in Frankryk. Van hierdie lesse is belaglik, van hulle is verbasend en van hulle is pleinweg ‘n herhinnering. 

LES 1: Die Franse is 'n spul smulpape.
Hulle hou van lekker eet en elkeen is ‘n fynproewer. Jy kan nie net vertel jy het spek en eiers vir ontbyt gehad nie….Ooe nee. Hulle stop jou vinnig en vra hoe jou eiers was. Ek weet hoe ek van my eiers hou maar om dit te verduidelik vat ekstra verbeelding. Was dit sagte scrambled eiers, ook verwys as omelet? Hulle bak hul eiers oor lae hitte en roer dit gereeld sodat dit nie hard en droog bak in die pan nie... of was dit saggekookte eiers… nog in die dop (les oeufs à la coque)? Kook vir drie minute…nie langer nie en dan doop jy stukkies brood in die saggekookte eier. Ryk mense en aristokrate het dit 'n belangrike kuns gemaak. Geregte is filosofies bespreek. Soveel so dat Frankryk al vir meer as 2 eeue die wêreldleier in gastronomie is. In 2010 is Franse kookkuns op die UNESCO-wêrelderfenislys opgeneem. Kos bring mense bymekaar. Die Franse weet dit, en hulle koester die tyd wat hulle oor 'n ete saam met mekaar kan spandeer. In Frankryk is middagete tipies die hoofmaaltyd van die dag, en Franse mense spandeer meer tyd om middagete te geniet as die meeste mense in ander lande.

Iets wat ons plesierige Afrikaners hierdie klomp Hane kan leer is: “hulle hou van partytjies en dan braai hulle so”. Of jy Louis XIV is of chef Louis is…die braaiers van Suid-Afrika sal hier koning kraai.

Groetnis/ Salutations

Die Vrolike Venters

Comments

Popular Posts