Die Vrye Venters

43. Ruiter van die windjie

Snaaks hoe die sonskyn energie bring. Lewe…die wêreld rondom ons wriemel. Die Venters het self hierdie naweek ons lyfies weer viets gehou deur ‘n ent met die fietse te gaan trap. Ek en Jos op die tandem en Lisa op haar eie. Die motoriste is ook baie meer verdraagsaam met die fietsryers dié tyd van die jaar. Handteer ons asof ons klaar in die Tour de France deelneem. Nêrens het iemand op ons geskree of getoet nie…ek dink hulle doen dit net as jy ‘n geeltrui (maillot jaune) aan het. 
Jos se skool het ook kermis gehou hierdie week…of soos die Franse dit noem: “kermesse”. Hierdie is 'n klein skool (250 kinders) met ‘n klein terrein. Geen rugbyvelde of netbalbane nie…net ‘n groot geplaveide vierkant en daar moet als gebeur. Moet nie merry-go-rounds of waterkastele verwag nie. Geen kerrie en rys of vetkoek en mince nie. Verwag eerder ‘n tombola tafel…of soos die Franse sal sê: “tombola”. Verwag ‘n koektafel, ‘n koeldrankhoek, spookasem, lekkers, ‘n worsbroodjiestalletjie en Bles Bridges. Jou tipiese kermis met kermiskos. Ek moet wel bietjie uitbrei oor die worsbrode. Wanneer jy ‘n harde baguette wat met ‘n stomp bottermes gesny is, ‘n dun varkworsie (chipolata) en ‘n Italiaanse braaier met ‘n bewerige hand meng…dan het jy ‘n resep vir ‘n gemors…volgens my. Ek is ‘n puris en pretensieloos as dit by ‘n boereworsrol kom. Ek hou van 'n lekker boerie en daarom het ek dié kuns probeer baasraak. Die resep begin by die broodjie…’n lekker lang breë ene. Sag en varsgebak. Gesmeer met sagte gesoutebotter…nie te sag nie…net hard genoeg dat die brood nie losskeur van die buitekant nie en hard genoeg sodat jy hom lywig kan smeer. Dan kom die wors. Hy moet dik wees…dunnes en pienkes is vir die kinders wat in elkgeval nie als opeet nie. Die dikkes is vir die pappas. Hy moet amper blou wees van al die duur vleis…bietjie vark in, bietjie vet en genoeg koljander is ook nodig. Hy moet sappig wees. Die vuur kan maar warm (pasop vir te) wees…dan braai jy hom hoog, maar nie so hoog soos hoender nie. Versuim asseblief om hom te veel te draai…jy versteur net die integriteit van die wors. Later kan jy die rooster laat sak vir die laaste twee minute. Medium-rare, dan haal jy hom af. Wag vir vyf minute en dan pak jy vir hom in daai broodjie met ‘n effe soeterige maar warm, tamatie en uie bredie. Die welige botter smelt nou saam. Dis ‘n boereworsrol! Die goed wat hierdie Franssprekende Italianer probeer aanmekaar slaan het, was ‘n skande! Wat is hul verwysingsraamwerk as dit by die dikte van die wors kom in elkgeval? Ek weet wat ons sin is. Ek wou hom naderhand met die plathand bykom. Hy krap daai worsies bo-op daai warmplaat só rond…als is droog en gebreek. Dan moet daai droë worsie in ‘n harde baguette gaan met ‘n spuit mayonaise of tamatiesous. Dit was twee euro. Skande sê ek jou! Die slaptjips was beter…kort net bietjie asyn.

Hier teen die einde van die aand sing die lokale Bles Bridges ‘n paar nommertjies. Om eerlik te wees…hy was meer bles as Bles. Die seremoniemeester roep ‘n klompie getalle uit. Almal hou ‘n kansie vas…’n kansie om ietsie te wen. Die tyd stap aan en die bier raak min, die spookasem raak al hoe skewer en die kinders... al hoe stouter…hoeka hierdie Italianer se laaitie. Ek moes hom vroeër al ‘n pakslae gegee het… dan kon hy die vyfvoudige bediening op sy stoutgat kapokhaantjie ook toegepas het. 

LES 3 : Tel jou woorde
So van respek en dissipline (‘n onderwerp wat ‘n senuwees raakknyp) gepraat. Dis iets waarmee ons sukkel...nie om dit by Jos te koester nie maar eerder om met die gebrek daaraan saam te leef. Verstaan my reg…elke kultuur het maar sy uitskieters…sy belhalmels, maar oorwegend was daar ‘n mate van respek onder die kinders in ons kringe. Dit bly maar ‘n gedurige leerskool. Hier kry jy ook uitskieters, maar hulle is die minderheid. Min wat jou wel groet, in die oë kyk, jou blad skut, vra: “hoe gaan dit oom?” Dit knaag aan ons en die beste manier wat ek kon kry om Jos attent te maak op hierdie gebreke, was om hom terug te vat na die evangelie. Dis hoekom ons groet! In ‘n samelewing waar die normes en waardes so geskoei word op tradisie, is die hart agter die “groet” nie bekend nie…hoekom jy mense ag…hoekom ons lief is vir mense…want so lief het God die wêreld gehad. Tel jou woorde Attie, want hoe gaan hul weet. Hulle weet min…min van Hom.
Saterdag was daar nog fees in Bordeaux met letterlik al die Bordelaises daar. Ons skat seker meer as 200 000 mense. Die groot aantreklikheid? ‘n Vyftien minute gesinkroniseerde drone-vlieg vertoning. Dit was oulik maar wat meer aanskoulik was, was hoe al daai duisende mense gelyk besluit het: “Dis nou tyd om huis toe te gaan”. Dit was chaos. Almal wil in ‘n bus of ‘n tram klim…nou om weer uit die stad uit te kom. Kinders. Prams. Dis laat, al na twaalf (want hier gaan die son mos vrek laat onder). Ons moes oor die brug, oor die rivier…oos. Die beste opsie, en natuurlik tot Jos se totale oortuiging, was om twee elektriese skooters te huur en die ses kilometer huis toe te skooter. Die keer is Jos saam met Lisa en ek op my eie. Ons drie en Bles Bridges. 
Oo o o, Oo o o, 
Ruiter van die windjie wil ek bly. 
Vryer as die voëltjies rondom my.
Op verre lande vertel ek
Goue strande en die see, Oh Oh

Dit was sy hoogtepunt van die aand.

Groetnis/ Salutations

Die Vrye Venters

Comments

Popular Posts