Die Verfynde Venters
44. Moedertaal
“If you talk to a man in a language he understands,.. that goes to his head. If you talk to him in his own language,.. that goes to his heart”.
Dit was 1991, Desembermaand…’n nat maand…en ons familie het besluit om daai vakansie deur Lesotho te ry. Dit was nog voor die Khatse Dam se dae. Ons is in van die Vrystaatkant deur Maseru oppad Sani-Pas toe in ons blou Peugeot 504 stasiewa. Julle het al ‘n klomp stories gehoor van hierdie kar en moontlik gaan julle van ‘n hele klomp ander ook nog lees. Ek onthou nog goed…potblou, skoon gewas en reg vir hierdie toer deur ons buurland. Ek dink my pa het nog ‘n nuwe vlekvryestaal uitlaatstel ook laat opsit voor ons weg is. Nou ja… in Maseru aangekom…toe rëen dit al…en dit rëen. Lesotho se paaie was maar skraps en my pa hou gewoonlik nie op die hoofpad nie. Met ‘n ou AA padkaart, is ons die land in. Die paaie raak dunner, natter en naderhand net ‘n enkelspoor. ‘’Dit kan tog nie reg wees nie, Tonie’’ sê my ma. Kom ons vra hierdie Basotho op die perd. ‘’Ag ekskuus tog meneer, is hierdie die pad na Mokgotlong’’ vra my ma preuts. Die perd is sopnat en sy ore hang. Die man is toegedraai in ‘n kombers en ‘n grashoed…een met ‘n punt en ‘n ring bo. Nie ‘n woord nie…stom. “Ag sorry. Is this the road to Mokgotlong?’’ skakel sy oor in Engels…maar asof sy klem in die kaak gekry het…haar wange trek styf en kiestande byt op mekaar. Daai tyd kon jy taamlik ver kom met net Afrikaans in Suid-Afrika. Engels is nie my ma se moedertaal nie. Weereens geen geluid uit dié perd se bek nie. Die pad is nou al so glad dat dit veiliger buite die kar is as binne. Ons stap en my pa ry rally. Met kranse links en afgrond regs ry hy soos Sarel van der Merwe deur daai perdespoorpasse. Die nuwe exhaust het ook al afgebreek…en nou brrrrull daai stasiewa eers. Ons voel soos die Voortrekkerkinners…kaalvoet oor die Maluti berge en kort-kort stop ons nog ‘n perd. ‘’MOKGOTLONG ??’’ Lekker hard en duidelik asof almal nou doof geword het...en dan slaan my ma haar hand soos ‘n byl op die ander een in ‘n rigting in. Hier en daar kry ons ‘n knik…en dan ‘n groot verduideliking in Sesotho…en dan staan ons weer tjoepstil.
“Learn a language, avoid a war.”
LES 4: Die mag van die tong (tong in Frans is langue...wat ook taal beteken)
Vir ons Boertjies hier in Bordeaux is Afrikaans ‘n Super-Power. Ons drie gebruik hom ydellik. Niks meer as net rigtingwyser nie…ek kan dit nie by my werk gebruik nie, nie by die kerk nie, nêrens nie. Niemand verstaan dit nie...maar ons doen. Dit is sekerlik van waarde in ander lande maar hier is Afrikaans yl gesaai. Selfs Engels is karig…dis Frans en basta. Geen alternatief nie…net Frans. Die leer van ‘n nuwe taal verander jou denke. Dit bring ‘n dieper waardering vir die kultuur…asof dit jou hart sny. Ek dink almal moet ‘n nuwe taal leer...nog een. Hoekom nie? Ja, jy gaan foute maak. Sommer baie ook. Partykeer gaan jy te skaam wees om te praat en ander kere gaan jy soos 'n dwaas lyk...so what? Glo my...genade is dieper en wyer as wat jy dink. Om 'n nuwe taal aan te leer is nie 'n resies teen tyd nie...dis 'n resies vir konsekwentheid. Die mylpaal is nie om teen 'n sekere datum die taal te kan praat nie, die doelwit is om elke dag 'n bietjie meer te praat ...'n bietjie meer te verstaan as die vorige dag.... elke dag 'n bietjie brawer.
"You can never understand one language until you understand at least two."
Die mag in veeltaligheid, is enorm. Lisa het haar laaste dag van taalskool gehad verlede week. Nege maande se intensiewe taalklasse is vir nou eers verby. Nou moet sy oefen oefen oefen! Fiks word . Ek was weer genooi vir ‘n kursus wat spesifiek in Engels gehou sou word. Seker omdat ek dit verstaan en magtig is, maar die eerste vraag wat die fasiliteerder vir my vra was: “How is your French, Attie?”. "Comme ci, comme ça" (so-so) antwoord ek. Ek is bietjie swaarder ter tale en my waardetoevoeging in Frans is nog beperk. Jos is ook klaar met CM2 (èlèmentaire) en is die volgende stap...Collège (middle school) toe. Sy rapport was goed…in ag genome dat alles in ‘n taal was wat hy tien maande terug eers begin leer het. Selfs die Engels word hier in Frans aangebied…en daarvoor het hy 100% gekry. Die hoogste in die klas. Bietjie kommerwekkend as jy my vra.
Wanneer jy 'n taal leer verfyn jou tong en jy verskerp die lense waardeur jy kyk.
Groetnis/ Salutations
Die Verfynde Venters
Comments
Post a Comment