Die Vergenoegde Venters

45. Hoogtevrees 

Ek moes my stories en tikmasjien-vingers vir ‘n rukkie wegbêre. Ek toer al die laaste paar weke in Afrika rond en moes eers ‘n paar belangrike take daar gaan voltooi voor ons somervakansie hier in Europa afskop. Dakar, Kampala en Nairobi… sommer op ‘n streep. 

Ek was ‘n paar keer al in Senegal, eintlik net Dakar, en ek het gevind dat Senegal vir die Franse is soos wat Namibië is vir ons Suid-Afrikaners. Senegal is Franssprekend en, volgens die Franse, die veiligste Afrika-land waarheen hul gereeld reis. Die mense is vriendelik, nederig, glimlag graag en is glad nie vyandigheid nie. Senegal is warm, by die see, het lekker vis en is weg van die geraas wat woed in jou gedagtes wanneer jy in Frankryk sit. Dis ook Afrika…dinge lyk maar rof…maar die frenchies hou van dit so. Hulle het begrip vir die Afrika reuke…al vrot dit hier en daar om elke hoek en draai, hulle geniet die geselsies en gesprekke met die locals…want hulle praat dieselfde taal (wel met ‘n RRR-aksent versus ‘n GRR-aksent) en hulle waardeer die bekostigbaarheid en gevoel van sekuriteit. Amper soos Namibië se Swakop of Walvisbaai. Ook teen die Atlantiese oseaan en in Afrikaans, 'n 4X4 en ‘n hardehoutvuur, visvang en vreesloos. Dis wat dit lekker maak. Dis dit wat jou tuis laat voel al is dit nie jou land nie. Jy ontwikkel ‘n sagte plekkie…’n hartsnaar… en wanneer die Springbokke teen Namibië in die wêreldbeker speel, is jy meer opgewonde as hulle ‘n drie druk as die bokke. Dis Senegal! 
Maar dit kan tog nie al wees hoekom die toeriste juis Dakar kies bo enige ander Wes-Afrika land nie. Buiten die night vibe wat daar heers, staan daar ‘n allemintige en hoogs-kontroversiële 52 meter hoë standbeeld… die brons Afrika Renaissance monument is die hoogste standbeeld in Afrika wat miljoene dollars gekos het. Nog iets om te sien is die slawe-eiland, Gorée. In 1621 het die Nederlanders 'n nedersetting gebou om hul slawehandelbesigheid te beskerm. Later is Gorée verower deur die Franse wat dit tot die onafhanklikheid van Senegal in 1960 oorheers het. Die klein eilandjie het vanweë sy strategiese posisie 'n veilige hawe gebied vir die ankerplek van bote, vandaar die oorsprong van sy naam "Goede Reede" of Goeie Hawe.
Ons het al ‘n rits kuiermense gehad en nog ‘n hele klomp wat kom en een van die besienswaardighede sommer hier naby ons, is ‘n sandduin. Yip, ‘n sandduin. Klink bietjie boaring né? Europa se hoogste sandduin, Dune du Pilat, is 'n emmer-lys-topper wanneer dit kom by die grootste sandduine in die wêreld. Alhoewel dit nie met baie van die aarde se hoogste sandduine kan meeding nie, sit hierdie wind-gebeeldhouwde wonder op 107 meter hoog, en sy swaai hange strek 'n magtige 500 meter breed. Met die Baai van Biskaje aan die een kant, en groen bosveld aan die ander kant, het hierdie dreigende sandmuur 'n gewilde plek geword vir toeriste (twee miljoen van hulle elke jaar) wat 'n epiese Instagram-selfie wil hê. Die uitsig is die sweet werd…sit, gesels en luister terwyl die seebries jou kieliebakke droog waai, is die bonus….en dan die verskillende tale wat jy daar bo hoor, is pragtig. Almal wil kyk hoe vinnig hy of sy teen die duin kan afhol. Party tuimel, party sloeg en van die oues trek ‘n kuitspier. Dan raak dit rustiger en al wat jy kan doen is kyk…doer vêr, die see in. Regs lê die driehoek baai van Basin d’Arcachon…met Arcachon en Cap Ferret as die gesogte vakansiedorpies. Huise hier is effe (heelwat) duurder sedert baie Franse die Mediterreense see veruil het vir die Atlantiese oseaan. Net om hierdie duintjie in perspektief te sit…Duin 7 in Namibië is vier keer hoër as Dune du Pilat. Argentinië spog natuurlik met die hoogste een ter wêreld met ‘n duin (Duna Frederico Kirbus - 1230 meter) wat hoër is as Tafelberg. Liewe ouers!

Ek en Lisa is glad nie dobbellaars nie…so nou en dan kansvatters, ja, maar nie in dieselfde konteks as dobbel nie. Ons hou onsself nie vreeslik op met (on)waarskynlikhede, loterye of tombolas nie. Ek het wel al 'n klompie weddenskappe gewen en verloor. My skoonfamilie skuld my steeds 'n paar KFC burgers. Ek moes ook al my vriend Hansie en sy familie een jaar met 'n steak, egg en tjips bederf het... hier het beide families eintlik ge-score. Gewoonlik is daar 'n mate van feite, data, ervaring of waarheid in wanneer ek jou wed...want dis meer sports as sport. Lisa het hierdie week 'n fiets gewen!! Kan jul glo? Sy het haar kassierstrokie van al haar aankope by ons local supermarché in 'n boks gegooi en sy was toe die gelukkige trekker. Dit het nog nooit met ons gebeur nie....maar Lisa was 'n bok vir sports, en toe deelgeneem. Koeldrankpromosie of iets. Sy wen toe wraggies ‘n lekker entry-level 27.5 duim Woodsun bergfiets met 'n liggie en klokkie op, reg uit China. Hulle het fotos geneem van haar en op Facebook geplaas. Ek dink dis die begin van haar Influencer-profiel hier in Bordeaux. 
Die rugbykoors tel ook stadig op. Woensdag toe ek terugkom van Kenia af en deur die instaphek by Parys se Charles de Gaulle lughawe stap, groet die beampte my, na hy my paspoort check: “Welcome Springboks”. Die Bokke en die Welwitschias kan maar kom…die Frenchies is versigtig. Hoop hulle speel beter as vandag.

Groetnis/ Salutations

Die Vergenoegde Venters

Comments

Popular Posts