Die Vanselfsprekende Venters

46. Pienk Vanilla

            Dis weer vakansietyd,
            Dis rondomtalie draai
                en Jos ry sy fiets
               en hy maak lawaai
    waar die kranse die eggo’s van sy stem hoor sing
        en sy mater, Lèan, is saam
            en hul doen hul ding.
Dit en swem, en trampolien, en playstation…en natuurlik roomys. Elke dag…roomys. Ons roomysbegroting is geweldig onder druk. Lisa en Anel het goedkoper maniere uitgedink om hierdie drie laaities se roomyslus te les. Fait maison (home-made).  Ons weet almal dat kos baie ernstig opgeneem word in Frankryk. Maar het jul geweet daar is selfs streng riglyne vir Franse roomys en sorbet?

Daar is nie net een Franse roomys nie, maar verskeie, afhangend van hoe dit gemaak word en die bestanddele daarin. Die mees algemene woord vir Franse roomys is "glace". Maar jy sal ook "crème glacée", "glace fermière", "glace artisanale" (artisanale roomys), "glace végétale" (vegan roomys) en sorbet of "sorbet végétal" sien. Anders as gewone of Italiaanse roomys, byvoorbeeld, is Franse roomys romeriger en swaarder. Dit bevat meer bottervet, wat beteken dit het meer room. Vreemd genoeg word roomys (glace) en roomys (crème glacée) in Frankryk nie as suiwelprodukte beskou nie, ten spyte van hul melk- of roominhoud. Een bolletjie kos maklik tussen €2,5 tot €3. Twee bolletjies tussen €4,5 en €5 afhangend waar jy is. Langs die see, in die middel van Bordeaux of oorkant die Eiffeltoring. 

My eerste fliek wat ek op ‘n grootskerm gekyk was in ons laerskoolsaal. Dit was waar Sylvester Stalone in sy “Star-Spangled Banner”-broekie die Russiese-reus, Dolph Lundgren pap geslaan het in die laaste paar rondtes van Rocky IV. Dit was ‘n vreeslike klomp begeesterde seuns in daai saal gewees. Net popcorn wat waai en cream sodas wat spat toe Rocky vir Ivan Drago laat steier. Na die fliek wou almal mekaar moker. My eerste fliek in ‘n fliekteater was egter in Sunnyside by Sunnypark winkelsentrum se Sterkinekor. Dances with wolves met Kevin Costner. Ek was twaalf. Sunnyside was die plek om heen te gaan daai tyd. In die mid tagtigs het my pa ons gereeld soontoe geneem op Sondae-aande vir ‘n draai-roomys (soft serve). Sodra elkeen sy roomys het, begin ons window shopping doen deur Sunnypark se winkels todat elkeen se roomys opgeëet is…dan ry ons eers terug huistoe. Niemand het in my pa se kar geëet nie, veral nie roomys nie. Ons was nog klein en oulik. Ons lekkies was bekkig en ons happies min. Die servetjie... deurdrenk, die horinkie... al pap gedruk en die roomys loop trane oor ons vingertjies. Soos Hansie en Grietjie los ons soft-serve spore in Sunnypark agter. Een Sondag, ek onthou nog goed, wou ons almal 'n vanilla draairoomys hê. Ons het nie eers geweet wat vanilla was nie maar dit het lekker oor ons tong gerol en dis al wat ons kon sê. Wragtag... al die kinders wou vanilla hê. “Ons het nie meer vanilla nie meneer…slegs strawberry” antwoord die meisie agter die Wimpy toonbank my pa. Vinnig op sy voete, sê my pa: ‘’hulle het net pienk vanilla vanaand”. Natuurlik was dit reg met ons…solank dit net vanilla was.
Dit is nog vakansietyd, roomystyd, swemtyd, rustyd en braai... braai spreek mos vanself. Ons sien uit na al die dinge wat die franse doen tydens vakansies.

Een van die dae is…
           Nog net ‘n dag oor
          En die blink son sak
   En Jos dink aan die onnie in sy pikswartpak
                     Hy sê
           Staan op, sit stil
       Boeke oop, leer jou les
         Oe lalala oe lalala
        As jy weer laat kom….

Groetnis/ Salutations

Die Vanselfsprekende Venters

Comments

Popular Posts