Die Volhoubare Venters

47. Nabetragting

Een jaar! As ons ‘n terugblik werp op ons een jaar lange ervaring hier in Frankryk, dan kan ons trots wees! Hierdie Boertjies van Bordeaux het hul bes gegee. Al ons boksies is “ge-tick”. Als wat ons gemerk het as belangrike mylpale, is bereik. Van hulle was geidentifiseer nog voor ons weg is en ander in die eerste paar weke vandat ons hier aangeland het. Dis lekker om bietjie terug te kyk en die goeie goed te vier. Wie het in ons lewens ingekom, wat ons moes oorkom en hoe vergelyk ons ritme nou met die ou dae. 

Ek was die jaar in matriek toe Nelson Mandela, in sy nommer ses Springboktrui, blad geskud het met die Springbokke en die All Blacks op Ellispark. Die jaar toe die Bokke Jonah Lomu se spoed gebreek het en Joël Stransky die mees befaamde jood na Moses geword het. My tienjaar skoolreunie was natuurlik in 2005…by die skool se klubhuis langs die tennisbane...wat nie daar was toe ek op skool was nie. Jy gaan by die sporthek in en dan ry jy om die atletiekbaan waar jy kon parkeer. Ek het Lisa se nuwe Corolla (uit die boks gekoop) daai middag gewas. Daar aangekom moes hierdie champagne Corolla meeding met Mercedes-Benze (seker pappie se kar), ‘n paar Golfies, ‘n paar double-cabs, ‘n lewensgrote Nissan Patrol en ‘n topless BMW Z3. Ek weet wie se Patrol dit was maar die Z3?      

Voor die klubhuis staan ’n klomp vreemdelinge…van hulle is bekend. Die verwelkomingskommitee was die drie cool chicks van tien jaar terug. Een lyk swanger en die ander twee staan met ‘n glas gin en tonic in die hand. “Wie is hierdie?” vra die een saggies. Ek haal my hoedjie en sonbril af…“Aaaah….dis uhm…” gryp die een na name. “Attie!” roep die ander een. “My genugtig broer…jy lyk lekker dik” kom hier ‘n stem van die kant af. Dis Mossie en hy stap nader met sy hand uitgesteek. Hy het al sy hare verloor. Mossie het die koerante gehaal in 1995. Hy was aangehaal deur ‘n joernalis as Hoërskool Overkruin se eerste gekleurde speler. Mossie is nie gekleurd nie…net baie blas. Mossie is 'n raps ouer as ons…hy moes standard ses oordoen. ‘n Kort bonkige man kom ook nader gestap…sê nie ‘n woord nie…glimlag net breed. Dis Manie…met ‘n goue ketting om sy nek wat stoei met sy borshare, en sy denim kortbroek, gee hy die styfste handruk in my lewe. Hy werk vir die Polisie…sy familie ook. Hy het sommer vroeg getrou en het al enetjie wat rond hardloop en nog een in ‘n pram. By die kroeg staan Poena, Anton, Johan en Pieter. Hulle was die belhalmels van die standard. Tydens die atletiekseisoen het die leerlinge in die oggende op die paweljoen bymekaar gekom en ons kreet geoefen. Ons het daai jaar in die A-bond atletiekbyeenkoms deelgeneem. Aan die einde van die kreet skree almal : “AAI-YAH!!” en dan wag almal dat die Magaliesberge antwoord gee. Hulle vier het die kuns vervolmaak om presies een sekonde ná almal, ....“AAI-YAH!’’ te skree…en dan is die eggo ook daarmee heen. Dan begin ons voor en dan gebeur dit weer.

Soos die aand aangaan begin party se litte los raak. Party gesels oor die ou dae…party brag nog. Hulle praat karre, rugby en beleggings. Martin is ook daar…almal koek om hom soos ‘n spul brommers. Martin ry die massiewe Patrol. Sy pa het Toit’s Nissan in Hatfield besit maar dié is teen ons twintigjaar reünie nie meer in bedryf nie. Stefan staan eenkant en chat met ‘n klomp dames. Dit was ‘n gegiggel en ‘n geskerts. Destyds was hy ons hekkies atleet. Hy het ‘n styf geblaasde kuif gehad en glad geskeerde bene. Die wilde kuif is steeds daar maar hy dra nou skinny jeans. Ek dink die Z3 was dalk syne. Die hoofseun wou ook ‘n paar woorde sê. Hy noem dat Overkruin oor tien jaar verskuif het van ‘n gesiene skool in ‘n rykmans-buurt na ‘n skool met heelwat behoeftige kinders. 'n Aansienlike klompie kinders kan nie skoolfonds bekostig nie. Baie mense het weggetrek ooste toe...en die gemeenskap het 'n skommeling ervaar. Ek dink nie daar gaan ‘n groot opkoms by ons dertigjaar reünie wees nie. Dis bietjie ver...veral vir dié in die Kaap…. Australie…. Nieu-Seeland…of selfs Frankryk. Baie het weggetrek. 
Maar hier sit ons drie nou en ons vier ons een jaar reünie. Ons dink terug aan die sandsteenklippe van die Suid-Weste wat ons moes kou, Bakkies (die Franse taal) se metamorfose, ons dink terug aan ons ou vriende maar ook die genot om nuwe vriende te leer ken. Ons het besef seisoene is nie net ‘n nat herfs of ‘n blerrie koue winter, ‘n pragtige lente of ‘n bloedige somer nie. Seisoene bring wysheid… dit bring tasbaarheid, hartstogtilikheid…verblydende hoop. Ons het besef dat “home is where you hang your hat”…ons drie is huis, al verlang ons na herhinneringe van die verlede, is die nuwes, ‘n avontuur wat ons omhels.

Groetnis/ Salutations

Die Volhoubare Venters

Comments

Popular Posts