Die Fotogeniese Venters

50. DIE FOTOGENIESE VENTERS

BOK-DEAUX
 
Bordeaux was nog nooit so groen nie! Nog nooit was daar so baie Afrikaans soos hierdie naweek nie. Jy loop vir Afrikaans sommer in die Super U raak, op die tram, by die busstop...sommer oral. Bakkies (my noemnaam vir die Franse taal) moes maar beskye en versigtige glimlaggies gegee hierdie week. Asof hy geweet het...ek beter nice wees...nou-nou donner hulle my. 

Ons tjommies van Berlyn is hier en so ook my swaertjie. Reg om die stad groen te verf. Lisa het 'n fantastiese geleentheid gekry om deel te wees in 'n Suid-Afrikaanse toergroep se logistieke, voor en na die Bokke versus Roemenië-wedstryd. Min wetend dat hierdie toergroep by dieselfde hotel slaap as die Bokke. Sy het selfs toegang gehad tot baie vertroulike "inside info". Lang-storie-kort...ons het uitgehang saam met die spelers by die hotel en restourant asof ek een van Rassie se raadgewers was, Lisa die dieetkundige, en Jos het al Rassie se verkeersligte aan en af gesit. Jos het ook geposeer vir vele fotos. Hy wou eintlik net 'n foto saam met Siya, Mapimpi en Faffie hê. Hy kon hulle almal kry om saam te werk en ander ook. Dis net Mapiemps wat ons ge-side-step het. Jos is nie regtig 'n Bokke-kenner nie... ek bedoel, hy ken die verskil tussen ‘n blesbok, ‘n koedoe of ‘n springbok…maar die verskillende SPRINGBOKKE is hy nie heeltemal vertroud mee nie. Ek moes hom voor elke foto eers gou inlig wie hierdie breker(s) is saam wie hy staan. Arme Schalk Burger en Jean de Villiers! Toe ek vir Jos sê hy moet gou by hulle staan vir 'n foto...toe vra hy eers: "Wie is dit, pappa?" Hard genoeg dat Skalla dit hoor. Ek dink hulle egos is al so gewoond aan die oorpresterende pappas wat hul kinders as verskoning gebruik om 'n fototjie te kry. Schalk het net geantwoord: "Moet nie worry nie...Ek is 'n ou oom." Nou ja...daai manne het 'n Wêreldbeker gewen nog voor Jos gebore was. Hulle was my helde...hy moet sy eie helde nou verantwoordbaar hou.
Ons het die wedstryd in die Matmut Bordeaux stadion gaan kyk...saam met meer as 38 000 ander mense. Dit was 'n groensee van juigende fanatici. Rugby loop dik deur hul are. Ek het een ding besef...nie alle Springbokondersteuners praat Afrikaans nie en nie alle Springbokondersteuners is Suid-Afrikaans nie. Daar was baie Franse in daai stadion en kon jy hoor dat hulle nie net liefhebbers van rugby is nie, maar ook passievolle Franse-ondersteuners. Die La Marseillaise was 'n paar keer gesing...en duidelik ook. Hulle is hoopvol...hierdie jaar is Frankryk se beurt. Ons het saam probeer sing...met ons eie woorde in....amper soos daai middelste deel in Nkosi Sikelel’ iAfrika. Die Bokke het soos 'n kanon weggetrek en nog voor die dertiende minuut, pronk 'n bonuspunt al op die telbord. Toe begin dit reën. Die veld is nat...die bal is nat...en die drieë droog op. Maar toe die sluise weer bedaar na halftyd...toe reën die drieë weer. Die Romeine het verbete geveg. Ek kan net wonder,... wat het daai Romeinse kaptein na elke Springbok-drie vir die "Oaks" gesê het? Hoe motiveer hy hulle weer om terug te gaan halflyn toe? Ek is seker die praatjie het heelwat anders geklink na die twaalfde drie as na die eerste drie. Die eerste een het seker so geklink: "Kom boys...dis niks. Dit was net luck. Basics boys!" versus die laaste een van: "Manne, amper klaar...dan kan ons almal ons jerseys uittrek en ruil vir 'n Springbok ene...sommer ons broeke ook….ek deps Ox se trui!"
In die tagtigs het Zandberg Jansen altyd die naweek se Currie-beker wedstryde ontleed en baie te sê gehad oor die dag se spel...en dan afgesluit met: “Nag ou grote’’. Party het gespekuleer hy het verwys na Wahl Bartman…maar eintlik was "Ou Grote" die oud-Springbokstut Frans “Domkrag” Erasmus. As oom Zandberg hierdie week se wedstryde moes kritiseer, sou dit seker so gelui het. Die Franse het mooi gewys dat hulle net een span het. Hul tweede span moes maar eerder eers ‘n ken-mekaar-aand gehou het voor die wedstryd. Uruguay het amper nuggets gemaak van hulle. Namibië moes die magtige All Backs takel en ons almal het geweet wat kom…dit was net ‘n kwessie van hoeveel. Portugal het die Walliesers groot skrik op die lyf gejaag met daai koelkop-wegkyk-lynstaan move. Nie wat Warren Gatland se broek nodig gehad het nie. Die Samoane en die Chillies het nou al bepaal wie die houtlepel gaan vashou in hulle poel. 

Tonga het weer vreeslik tande gewys en dreigemente gegooi na Suid-Afrika, Skotland en Ierland…en toe kom hul agter dat hulle in die verkeerde buurt begin blaf het. Jy kan nie net wil blaf in hierdie poel nie…jy moet toestemming vra. Eddie Jones het weer verantwoordelikheid aanvaar vir die slag van Saint-Étienne. Wie dan anders? Dit was nie net Fidji se eerste oorwinning oor Australië ooit nie, dit het ook Poel C (Complicated), moontlik, deurmekaar gekrap. Die Fidjiane was reusagtig…en Eddie... paniekerig. As die Ozzies enige hoop oor het, gaan hulle die Drakies se vlammetjie ordentlik moet blus. Fidji het nog werk om te doen as hulle as hierdie Wêreldbeker se verrassingpakkie gekroon wil word…Japan gaan dit nie weer doen nie. Die Engelse het die nodige gedoen maar glad nog nie oortuig nie. Hulle stry nog oor wie de-F tien of twaalf moet speel. Ford of Farrel? Faffie speel losskakel, Marco haak, Polly is in en Marx is uit. Dit klink soos musical chairs en Rassie is die DJ. 

Nag ou grote.

Groetnis/ Salutations

Die Fotogeniese Venters.


Comments

Popular Posts