Die Verbeurde Venters


51. Sewe van die een en een van die ander.

Koning Charles en sy koningin het in Bordeaux kom kuier. Hulle wou mos so rukkie terug maar toe was daar ‘n gestoeiery tussen die Franse regering en ‘n paar lede van die publiek…Verskeie redes. Net na die lug opgeklaar het na 'n reënbui Vrydagoggend, het Charles sy koningin Camilla gehelp om 'n sekere akkerboom, wat bekend is vir aanpasbaarheid by 'n veranderlike klimaat, in die tuin van die Bordeaux-stadsaal te plant. Daai gat was reeds gegrawe…Charles het net ‘n skeppie grond in die gat by gegooi en Camilla het geadviseer.

Plaaslike inwoners het Franse en Britse vlae geswaai, en sommige het "God Save The King" geskree terwyl die koninklike egpaar welwillendes buite Bordeaux se stadsaal gegroet het. Hierdie staatsbesoek was daarop gemik om die alliansie tussen Brittanje en Frankryk te versterk ná jare se geskille wat verband hou met Brexit, migrasie en ander kwessies. Charles se warm Franse-woorde teenoor Frankryk is met 'n staande ovasie in die Senaat ontvang en selfs gejuig van "Lank lewe die koning!", 'n ongewone frase in 'n land wat sy laaste monargie onthoof het. Hy het Frans met ‘n eg Britse-aksent gepraat…net soos ons Frans met eg Pretoria-aksent praat. Alhoewel...Pretoria is ongeveer veertig kilometer van Brits af! Dus klink ons byna dieselfde. 

Die omliggende Aquitaine-streek - 'n Engelse besitting in die Middeleeue waaroor Engelse en Franse koninklikes vir eeue geveg het - is vandag die tuiste van 'n groot Britse gemeenskap, en die koning en koningin het met die trem gery en ander Britte ontmoet wat besighede in die streek bedryf. Daar is ‘n klomp Britse en Ierse kroeë in Bordeaux en hierdie Boertjies in Bordeaux en ons boertjie-maatjies van Duitsland het die uiters belangrike wedstryd in Bordeaux-stad gaan kyk, in juis een van hierdie kroegies. Ons het so Suid-Afrikaans as moontlik aangetrek. Springboktrui, K-Way baadjie en vellies. Ons was reg vir hierdie game…sommer breëbors op die trem gery stad toe. Almal knik hulle kop as hulle ons sien…asof ons beroemd is. Die moontlike Du Pont-lose Franse wou graag gehad het ons moes die Iere klop. Hulle wil nie teen die Bokke in die kwarteind speel nie. 
Geweldige sensasie…opblasery…bohaai…kritiek en lofprysing was aan die orde van die dag hierdie week. Dit als oor die Springbokke se plaasvervangersbank. Die Springbokke se "Bomb-squad" was reg om nukleêr te gaan. Hulle was oppad om Suid-Afrika se energiekrisis op te los…en toe trap Manie, met sy skewe korrel van die kegel af pale toe, hul lont af. Dis al. Het dit gewerk? Sal dit weer werk? Ek dink so. Ouens soos daai moet beloon word want dan gaan hul 110 persent gee en nie net 90 nie. Maar ons het almal geweet dit is ons achilleshiel. Ons het nie ‘n betroubare skopper nie. Nie ‘n Percy of ‘n Morné of ‘n Loftus-liefling nie. Ek dink wel Manie se linkerheup sink as hy met sy regtervoet deurswaai…soos wanneer ek my golfhou haak. Kyk bietjie… Gelukkig is hierdie nog net die uitspeelrondtes en Polly is nie meer in die Paarl nie maar nou in Parys. Net betyds. Sal ons weer die 7-1 kombinasie sien? Dalk later maar met Polly nuut in daai skoene…verwag ek eerder die 6-2 split. 

“But on the other hand, Darren…” soos Naas sou sê. Ons het ander geleenthede ook gehad. ‘n Skewe lynstaan voor die doellyn, angstige aanslane oppad doellyn toe, die Marx-lose afbreekpunte en toe die Iere die toring van Eben probeer bou het. Dit als het ook bygedra tot die ontlonting van ons kernkragsentrale.

Die Franse het ‘n kriekettelling teen Namibië opgestel sonder om ‘n paaltjie te verloor. Die Chillies se gôe was uit na hul rekordtelling teen die Engelse. Portugal en Georgië het vir die eerste gelykopwedstryd gesorg. Beide spanne was teleurgesteld. Die Porras omdat hulle nie die kastaiings uit die vuur kon kry nie en die Oos-Europeërs, omdat hulle die Porras onderskat het. Beide spanne het in die laaste minuut die geleentheid gehad om die wedstryd van die ander een te steel…maar die oomblik was net te groot vir beide. Die Skotland-Tonga wedstryd was aksiebelaai. Die Tongana was soos altyd passievol optimisties. Die Skotte wou, met manne soos Van der Merwe, Schoeman, Steyn en Nel (tipiese Skotse vanne), wen om hul kanse om deur te gaan aan die lewe te hou. Nou wag die Iere. Die Argentyne sal heelwat beter moet speel as hulle verder wil gaan in die uitkloprondtes. Die Samoane was nog nooit regtig ‘n volledige eenheid wat ver kon gaan in hierdie kompetisies nie. Chester Williams het draaie om hul gehardloop in 1995 en dit was die laaste keer dat hulle na die top agt gevorder het. Daar was nog altyd ‘n mate van geluk waarop Suidsee-Eilandnasies staatmaak het om deur te glip en natuurlik, ‘n paar woeste têkkels of skouerstampe wat nou nog deur die tye weergalm. Jy kan sommer weet…die kans is groot dat hulle die wedstryd gaan klaarmaak met veertien manne. Fidji is seker die enigste span wat verby die geluksgodin begin fokus het…ten spyte van die feit dat hulle in 2007 laas die kwartfinale bereik het. Hulle het al hul duime vasgehou vir die wedstryd tussen Wallis en Australië. Eddie Jones se Australië,… dieselfde Eddie wat al die Ozzies afgerig het tot in ‘n finaal in, die Springbokke bygestaan het in hul 2007 beker, die Japanners gehelp het met die skokoorwinning oor die Bokke, die Engelse gevat het tot die 2019 finaal, en nou weer gepoog het om die ‘’Men from down-under’’ oor die lyn te sleep. Hy het onder ongelooflike kritiek deurgeloop hierdie week en as daar nou een wedstryd was wat hom ‘n rustige aftrede in ‘n aftreeoord aan die Goudkus kon verseker het, was dit die wedstryd teen Wallis. Dit sou hom die vernedering gespaar het as die afrigter van die eerste Wallaby-span wat in die poelwedstryde uitgeskakel is. Hulle het hul oomblikke gehad... 'n span wat hier en daar gelyk het asof hulle vir lewe en dood speel, maar als tervergeefs. Eddie se Young Guns is so te sê...uit.

Ek kan verwag dat my volgende paar weke op kantoor baie ongemaklik, selfs koggelend kan wees. Ek en die Franse weet wat kom…en saam met wie gaan ons daai wedstryd kyk? Eerder nou as in die finaal, reg?

Groetnis/ Salutations

Die Verbeurde Venters

Comments

Popular Posts