Die Verspeelde Venters

49. Dropit

...en daar skop hy af! Die Rugby Wêreldbeker in al sy glorie...hier in Frankryk. Ek moet sê...ek het 'n paar lekker mis-voorspellings gemaak hierdie week. Ook maar goed daar was nie geld betrokke nie. 'n Mens sal sweer ek is 'n weervoorspeller. "Plek-plek donderbuie met 'n hittegolf wat duur tot Sondag"...en dan sneeu dit. Ek het met my hart gedink en gehoop...gehoop die All-Blacks kon beter speel (want ek sou liewers die Franse in die kwarteind wil têkkel as die All Blacks). Moet tog nie vir my Franse vriende sê ek het teen hulle gestem nie...maar daai Nieu-Seelanders het hulpeloos en onfiks gelyk. Paniekerig. Ek het ook gehoop Argentinië en Fidji kon as oorwinnaars uit die stryd tree. Dis omdat ek met my hart voorspel het...ek moet nie. "Dink met jou kop, Attie!"...ten minste het die Bokke nie teleurgestel nie...behalwe vir die korrel pale toe. Die dag as Frans Malherbe vorentoe tree om die skopwerk te doen...moet jul weet...ons gryp of na grashalms of...Rassie en Jacques het ongelooflike diepte in daai span gebou. 

Toe die Rose se George Ford daai drop-skoppe so een na die ander deur die pale jaag...toe wonder ek: "Ai, ou Jannie de Beer sal darem trots wees. Waar is Jannie deesdae?". Die einste Jannie het teen die einste Engeland in die 1999 Wêreldbeker, vyf droppe deurgejaag wat die Rosies se moed totaal geknak het, en hul huistoe gestuur het. Hy het gesê: “God het vir my die talent gegee maar die voorspelers het vir my die bal gegee”. Stephen Larkham het in dieselfde Wereldbeker, tydens die Semifinaal, Suid-Afrika se moed weer gebreek met ‘n massiewe drop gedurende ekstra-tyd. Frans Steyn het selfs verder, in die 2007 finaal, sommer van die kantlyn af (amper van Betlehem af) ook teen die Ingelse, ‘n drop oorgeklits. So ook Joel Stransky in 1995 en Johhny Wilkinson in 2003. Drop is ‘n moet. Jou loskakel moet oor daai sagteware en vermoëens beskik. Ek dink ons gaan nog ‘n hele paar sien die volgende ses weke. 

Ek moes ook een maal drop vir ons rugbyspan...op laerskool. Ek het wel agsteman gespeel vir ons eerste-span maar moes dié een dag pale toe drop toe ons loskakel seergekry het. Dit was teen Stephanus Roos...en hulle het 10-6 gewen. Dis toe 'n drie nog vier punte getel het. Die bal het die linker regoppaal net-net gemis. Dit was oor...twee punte. Ek het nie eers vir daai paal gemik nie...en daar tref ek hom so ampers. Hoekom moes juis ek dié dag drop? Daar was eendag drop-kompetisie gehou waar almal in die skool kon deelneem. Op die oueinde was ons net drie skoppers oor. Dit was Adrian Sameuls, ons losskakel, Bertus van Dyk, die buitesenter...en ek. Drie posisies op die kwartlyn en drie skoppe vanaf elke posisie. Een ver links, een ver regs en een in die middel. Dus..die beste uit nege. Kaalvoet. Dit was 'n intense Vrydagmiddag...asof elke drop jou die William Webb Ellis trofee kan kos. Eers tjoepstil...uiterse konsentrasie..en dan kop af, land die bal en swaai deur. "Jissss...aaah...yessss, blikkksemm!" is al wat jy hoor na elke skop. Ons toeskouers was maar 'n karige groepie na-skoolkinders wat hul ingeleef het in hierdie vreeslike senutergende uitskop gedoente. Als vir ses blikkies Coke. Ses warm blikkies Coke wat die meneer sommer by die snoepie gekry het. Ek het met die louere en die louerige Coke weggestap. 

Die eerste week se wedstryde is verby. Die Franse se stertvere is in die lug...die All Blacks soek verskonings, die Pumas grom nie meer nie en die Engelse raak nostalgies. Die Italianers het gedans en die Namibiers het gehoop vir meer van “sy ma se spoed”. Die Japanners het die brandrissies oorleef, die Fidjiane is verstom en die Drake is nietemin dankbaar. Die Skotte het geslaap en die Bokke (in hul Checkers-truie) moet hul tog net inhou...dis nou eers een uit ses. Nog heelwat om te gaan. 

Volgende Sondag sit ons Ventertjies in ons groentruitjies saam met die Freekes en my swaertjie in die paweljoene...en vertrou ons die Bokke kan ook 'n weghol oorwinning oor die Romeine behaal soos die klomp Ierse aartappelplanters hierdie week. 
Jos het begin busry skool toe. Net om te toets want eintlik is die weer nog lekker en ideaal vir fietsry. Lisa het wel Maandag saam gery…net om seker te maak hy klim by die regte plek op en af. Sy was die enigste mamma en volwassene op die bus. Al Jos se maatjies was ook op die bus. Baie jolig. Vanoggend het Lisa vir Jos gevra of hy wil hê sy moet weer saamkom of selfs net stap tot by die busstop. “Nee dankie....mamma, ek is okei.” Ai, die kinders word so gou groot. So vinnig onafhanklik. Lisa oortuig haarself dat dit die eintlike rede is. 

Groetnis/ Salutations 

Die Verspeelde Venters

Comments

Post a Comment

Popular Posts