Die Visionêre Venters

48.  Die ABC van 'n knormoer.

Hierdie week was my terugkeer werk toe en volgende week is dit Jos se beurt. Lisa het al Jos se skryfbehoeftes en boeke bekom en nou is die man gereed vir skool. Dis ‘n nuwe skool hierdie jaar… Collège of “middle school” soos die Amerikaners sal sê. Nuwe dinge, baie meer kinders en nuwe blootstellings. Oooo Here…beskerm hom! Ons was bekommerd dat hierdie twee-maande-lange vakansie en baie Afrikaans sy Frans sou opvreet, maar die biesiepôl het daai bicycle se ratte vinnig gevind. Hierdie jaar begin Jos nog Duits ook leer. Dit sal ‘‘incroyable’’ wees as hy hierdie taal ook kan baasraak. Een van die dae het ons ‘n dubbele-agent in ons midde.

Ek moes weer gaan vir ‘n oogtoets. My eerste ordentlike Franse oogtoets. Nou ja, ek ken die alfabet…dis mos net letters wat jy moet lees. Hierdie “ophtalmologue” het sommer ‘n draaitafel met al die aparate en masjiene op wat gaan bepaal hoe sleg ek sien. Een na die ander spin sy die tafel. Die eerste een ken ons almal. Jy moet ‘n klomp letters lees deur ‘n spul lense. Die eerste ry is gewoonlik maklik. Die dokter bepaal eintlik of jy geletterd is met hierdie ry. Die tweede ry is kleiner maar ek kan lees. My vertroue groei soos ek aangaan…dis nie moeilik nie…en dan eweskielik gooi sy ‘n ry letters op die bord en dis op hierdie moment waar ek besef hoekom ek hier moet wees..daar besef ek hoekom ek meer sig nodig het. Die X lyk soos ‘n K, die D soos ‘n O maar ek is seker ek het reg geraai. Ek is seker ek het 20/20 visie. Na al die toetse klaar is, is daar bepaal dat ek eintlik agteruitboer…ek moet nou multifokale brille kry. Nou het ek nie net visie nie maar insig ook. So van alfabet en toetse gepraat...Lisa het haar B1-vlak Franse taaleksamen met vlieëende vaandels geslaag. Dis die minimum Frans wat sy moet kan praat om vir 'n lekker werk te kan aansoek doen. Sy wil natuurlik meer kan sê...so, eers bietjie volunteer-werk doen erns waar haar tong ordentlik kan los kom.
Wat ek versuim het om te vertel was die feit dat ek ook die oogafspraak als in Frans gedoen het. Hier en daar het die dokter ‘n engelse woordjie ingegooi maar toe ek by die brilmaker kom, toe raak my Frans op. Al die tegniese en mode vrae rondom die brilraam het net te veel geraak vir my woordeskat. Ek kon ver kom met my Frengels. Nog ‘n insident hierdie week was toe die motorwerktuigkundige my skakel vir ‘n regstelling wat op ons kar gedoen moet word. Uit die veld geslaan vir hierdie uit-die-bloute oproep, gryp ek na woorde en probeer ek my bes om sy haastige Frans te verstaan. Ek het geklink soos ‘n 1967 Ford Anglia wat se knormoer gly….gee nie om hoeveel keer ek hom swaai nie en hoeveel keer ek hoop nie, daai Anglia bly koud blaas. Daai moer wou nettie vattie. Knorrig en moerig, frustreerd en moedeloos vra ek nederig: “Pouvez-vous parler un peu Anglais, monsieur ?’’  Met sy gebroke Franglais, verstaan ek daai Ford en ons kon ‘n plan maak. Dit raak beter...so word ek vertel.

Daar is baie dinge wat ons mis…diep dinge maar ook alledaagse dinge. Dinge wat ons nie eers geweet het ons gaan mis nie…todat dit nie meer daar is nie. Nostalgiese dinge. 
Ek mis die rooibokke en blesbokke in ons bosveldgras.
Ek mis John se hande, my tuinwaentjie en my ingeboudebraaier vol as.
Ek mis Lisa se klavier en hoe sy die naggeluide bekoor.
Ek mis Spar se vetkoekdeeg wat in sy sakkie versmoor.

Ek mis die Yogisip waaraan ek en Jos so skelm aan teug.
Ek mis ‘n KFC hoenderboutjie en hoe ‘n cheese bun my hart verheug.
Ek mis hoe my vingers in ‘n pakkie NikNaks rond dans.
Ek mis die Dad jokes in lekker Afrikaans.

Ek mis Jessie, ons varkhond, se sopnat snoet.
Ek mis die straatgroepies waar almal mekaar met 'n emoji groet.
Ek mis die Checkers tannie wat ons pakkies pak.
Ek mis Aya se witpap en Knorr se aartappelgebak.

Om maar net ‘n klompie te noem.

Salutations/ Groetnis

Die Visionêre Venters

Comments

Popular Posts