Die (oor-)Verdowende Venters

56. Oopkantvlank.

Ek was vroeg skool toe gestuur. Daai jare kon jou ouers dit nog regkry om jou op vyf skooltoe te stuur want jy gaan mos ses word in die jaar. Ek verjaar in Februarie, so tegnies, het ek sewe geword die 64ste Desember van daardie jaar en omdat ek so laat in die jaar verjaar, het die skole onder dertien spanne en onder veertien spanne gehad vir die standard sesse. As jy na 30 Junie verjaar, het jy vir die onder dertiens gespeel. Ons het net genoeg spelers gehad om een span vol te maak. Meneer Schreurder was ons afrigter en ook ons Aardrykskunde onnie. Hy was ‘n ywerige driekamp atleet en het altyd ge-brag dat hy saam met Nick Bester, wat die Comrades, Ultraman en Ysterman al gewen het, oefen. So nou en dan het hy ook met rooi oë by die skool opgedaag…seker maar van al die damwater of salpeter. Ons het gewoonlik nie daai dag klas gehad nie want hy moes “recover” in sy stoel agter sy tafel na die naweek se “drie-kamp”. Hy het gereeld ‘n patched-leather baadjie gedra en het langerige hare gehad…'n tipiese 90s cut. Ek is seker dit was ge-perm ook. Nou-ja, hy was ernstig oor die rugby en ons moes maar posisies vul totdat ons 15 plekke vol gehad het. Fiksheid was sy forté. Ons eerste wedstryd was teen Montana...die buurskool. Dit was ook ons eerste wedstryd in toks en dié was reeds ‘n snaaksigheid vir ons. My toks was groot genoeg sodat dit my in matriek eers kon pas. My ma gaan nie elke jaar toks koop nie. Voor die wedstryd ontmoet die twee kapteins en die skeidsregter mekaar. As jy die loot wen, kan jy kies. Afskop of Kant? Ons het daai loot verloor en Montana het gekies om af te skop. Nou kan ons kant kies…ons het nie ‘n clue watter kant is watter kant nie. Links of Regs? Saam of teen die wind? Maak nie saak nie…as ons opdraf…volg ons net die cappie! Ons draf eerste op. Ons gaan saam met die wind speel, maar hoe waai die wind? Ons almal hou nat vingers in die lug…daar waai nie eers ‘n briesie nie.  Ons probeer nog uitvind watter kant is saam met die wind, toe draf Montana op…aan dieselfde kant as waar ons staan. Daar staan toe dertig spelers aan die regterkant van die veld en niemand aan die anderkant nie. “JULLE IS LINKS…LINKS IS JULLE KANT…MOEGOES!!!” skree die spelers van Montana. Ek het oopkant-vlank gespeel…partykeer was ek die toekant ene…wie weet? Ons het daardie dag ‘n groot loesing gekry…so groot dat Meneer Schreurder hande in die lug gegooi het. Hy het nie meer geweet watter kant toe nie, en ons het toe besluit om ons posisies heeltemal te skommel vir die volgende wedstryd. Dis dié dat ek in die nommer nege trui opgeëindig het en dit bly speel het tot na Varsity. 

Hierdie week het net weer gewys hoe belangrik dit is om veeltalig te wees. Tom Curry was aan die verloorkant omdat hy onverstaanbare stories aangedra het. Elke liewe Suid-Afrikaner het soos ‘n predikant opgestaan en vir Bongi opgekom. Tom was onkant en Bongi het hom sy fout uitgewys. 

Vrydagaand het ons drie, oupa en ouma by Mathieu en sy ouers gaan kuier. Van die begin af het ons geweet ons gaan moet bontstaan met die vertalery. Oupa en ouma praat nie Frans nie en sy ouers praat skaars Ingels en nog minder Afrikaans. So…ons moes tussen beide tree en die stories oor en weer in Afrikaans, Engels en Frans oorvertaal. Oom Marc het ‘n swaar aksent. Ek vang net elke vyfde woord. Tannie Josiane praat mooi stadig en duidelik. Ek, Lisa en Mathieu moes ons beste woorde uithaal om te verduidelik. Oom Marc het so nou en dan gefrons as ek probeer oorvertaal…maar aan die einde van die dag het ons lekker gelag en is in ‘n goeie luim daar weg.
Ons uitstappie na die Baskeland was bewolk, winderig, reënerig maar tog te pragtig. Saint Jean de Luz en Biaritz op dag een, en wraggies-waar loop ons ‘n klomp boere van Graaff Reinet in ‘n Deli raak oorkant die huis van Louis XIV (of soos die Hollanders hom sou noem…Lodewijk XIV van Frankrijk). Dinsdag is ons met die Rhune-trein bergop. Vanaf die bopunt van sy 905 meter, bied die heilige Baskeland-berg “La Rhune” een van die beste panoramas denkbaar. So ver as wat die oog kan sien, neem dit die pieke van die Pireneë in, en volg die Baskiese kus wat aan die Atlantiese Oseaan grens van San Sebastián tot by Biarritz en verder tot by die strande van Les Landes. Dit was snerpend koud. Die wind het deur ons gesny, en dank Vader, Lisa het twee kombersies saamgebring. Oupa en ouma was mooi toegedraai en het hul bes probeer om hul van hierdie yskoue wind te verskans. Die volgende dag stop ons by Ibardin (‘n dorpie op die grens tussen Spanje en Frankryk) wat “Duty Free” winkels het. Dit is waar jy...blykbaar... goedkoper klere, kos, drank, parfume en watookal kan koop. Onder andere ook chorizo worsies, ‘n mes vir die worsie, skaapniertjies (vir steak en kidney pies) en 2kg se skaapnek vir ‘n lekker skaapkerrie (teen €6.80 per kilogram). Dit klink amper soos die een jaar toe ek en Lisa aan die Argus fietstoer gaan deelneem het. Ons het 'n klomp gery...per tandem. In Stellenbosch besef ons dat een van die moertjies (‘n “wing-nut”) op ons fietsrak, verloor het. Ons besluit toe om by die naaste koöperasie in te stap om ‘n nuwe moertjie te gaan koop. Ons stap daar uit met ‘n stewige ses-man seiltent, twee vlekvryestaal visrokers en ‘n pakkie “wing-nuts”. Dis hoe ons inkope doen. Oppad terug huistoe, stop ons in Espelette, vir nog ‘n chorizo worsie, chilliesous en trietsige weer. 
Die Finale…wie sou kon dink! Die bronsfinaal was eintlik maar ‘n geleentheid vir net nog rugby. Wat is die punt? Tog was daar ‘n tikkie wraak wat geskuil het en die Pumas wou die Rose kom plattrap. Dit was net nie beskore nie en die trane het ook maar gevloei aan die einde van die wedstryd. Die finaal tussen die Bokke en die ABs was waaroor al die gegons gegaan het. Die droomfinaal! Die beste twee rugbylande ooit…kom ontmoet mekaar weer, maar die keer vir die beker. In 1995 was die laaste keer en meeste (almal behalwe die Franse en die Iere) het hierdie botsing twee jaar terug al voorspel. Hulle het nie teleurgestel nie. Dit was massief, kolossaal, indrukwekkend ….’n titaniese stryd. Die hele Frankryk was bankvas agter die ABs…want dit moes mos eintlik die Hane gewees het, as dit nie vir die ref was nie. Elke bok het sy hart uitgespeel en ons het geweet die ABs gaan glibberig wees. Pieter Steph du Toit het alles gejaag en in die grond geboor. As daar ‘n Checkerssak oor die veld sou waai, sou hy dié ook gejaag het. Dit was ontsaglik intens in ons huis. Ons het vele Suid Afrikaners en Franse oorgehad wat boereworsrolle (boeries) kom eet en rugby kyk het. Ons het dit duidelik gemaak dat die bokke gewen het. Ek dink ons buurt twyfel nie meer oor ons herkoms nie…hulle beter nie.
Nou wat nou? Hoe lank gaan die Franse nog hul wonde lek en die ref beskuldig? Hoe lank gaan die Iere nog wonder…"maar ons was dan nommer 1?" Hoe lank gaan die Engelse nog kapittel of dit speelkant of steelkant was? Rassie het gesê: “Niemand onthou jou tussen Wêreldrugbybekers nie…slegs wie die kampioen is elke vier jaar." Wil jy nommer een wees of wil jy die kampioen wees? Die Bokke is goed om valse hoop te bring aan  spanne wat motivering tap uit die feit dat hulle die mees suksesvolle rugbyland kan klop tussen Wêreldbekers…maar wanneer die tyd aanbreek om vir daai goue trofeetjie mee te ding, dan vat dit meer as net rugbyballe om die oorlog te wen. Ons manne het beide.

Groetnis/ Salutations 

Die (oor-)Verdowende Venters

Comments

  1. Maak nie saak van watter kant af ek lees nie, jou stories laat my altyd hardlop lag, of soms in my mou giggel, hang af waar ek dit sit en lees.
    Dankie ' geniel jou blog só baie!

    ReplyDelete

Post a Comment

Popular Posts