Die Vallende Venters
Ek het al die storie geskryf oor my eerste fiets…’n drie-spoed Chopper wat ons by Shorty, die tuinman van ons buurt, gekoop het toe ek vyf was. Dit was ‘n moeilike fiets om te bestuur…met sy klein wieletjie voor en die grote agter. Hoë handle bars en ratte in die middel…en dan nog die stywe remme. Daai remme wat my nie betyds kon stop nie en ek reg deur die padpatrollie borde gery het…ek praat van daai fiets. My boetie het weer ‘n back-paddle Raleigh gehad. ‘n Ligbloue. Ons mag nie met mekaar se fietse gery het nie, anders het ons pak gekry. Jy moes verantwoordelikheid vat vir jou eie fiets en vir enige gebreke moes jy verantwoording doen…maar daai fietsie se agterwiel kon so lekker sleep. Elle lange swart strepe, veral as jy lekker spoed gevang het. Die enigste probleem wat hierdie fiets gehad het was, dat as jy te vinnig trap, die ketting afval. Van julle het seker reeds een by een getel en nul gekry. Jip, sonder ‘n ketting kan jy ook nie briek nie…veral nie teen ‘n afdraende af en voor jou die dreigende Braam Pretoriusstraat nie. Wel, dit het met my gebeur. Ek het my boetie se fiets gesteel en my sussie ge-daais teen Koraalboomstraat se bult af. Die ketting het afgeval en ek het besluit om eerder af te spring. Hoe ek dit reggekry het sonder dat die fiets saam met my grond toe sloeg, is vandag nog ‘n misterie. Die fiets het besluit om mooi kiertsregop aan te hou ry…amper soos ‘n selfbesturende Tesla. Ek sien nog hoe die fiets, al op sy eie, verder die bult af ry en effe van rigting verander en na die van Vuurens se Lavenderbos toe neig…maar NEE ! Die fiets besluit toe om lamppaal 13 loodreg te tref. Kon hy nie maar eerder die Lavenderbos getref het nie ? Hy het nie eers die lamppaal skrams getref nie…hy het hom loodreg getref. Bloedneus en blouoog, val hy terug. Bly dat hy nie in Braam Pretorius opgeeindig het nie, loop ek mank-mank terug om die fiets op te tel. My arm is vrek seer en die Raleigh se wiel is so skeef soos ‘n windpomp in die dorre Kalahari.
Nou het ek moeilikheid…my basvelle gaan waai as ek nie hierdie wiel vinnig weer rond kry nie. Ek het dit…’’BID !’’ besluit ek. ‘’Alles wat jy in MY naam vra, sal ek vir jou gee’’ resoneer in my kop. Op my knieë kniel ek langs my bed en bid: ‘’Asseblief Here, maak daai wiel weer reg, asseblief’’, en dan staan ek op en gaan kyk ek. Niks ! Dan bid ek weer langs my bed, en dan gaan kyk ek weer, niks. So gaan dit die hele middag aan. SO bang was ek vir die gevolge van ongehoorsaamheid. Ek het pak gekry en ek het ook my arm gebreek…ses weke in gips. Blerrie lamppaal 13 !
Jos en Lisa het hierdie week met hulle fietse geval. Geen ongehoorsaamheid of waaghalsigheid nie. Net geval. Lisa toe sy saam met my gery het toe ek gaan draf het en Jos oppad skool toe. Dis nie Lisa se eerste rodeo nie...bietjie spoeg hier en ‘n vryfie daar en ‘n soentjie van my…maak als reg. Sy het nog ‘n bloukol en ‘n rooi knieg maar hoef darem nie pak te gekry het nie. Dit was net ‘n randsteenfoutjie wat sy begaan het. Jos het dieselfde foutjie begaan maar hy het sy ervaring bietjie meer ingekleur. Gelukkig was Marie-Caroline by hom en sy kon vir Mathieu bel wat weer vir Lisa kon opspoor. Jos het probeer om homself uit die skooldag te maneuver maar Lisa het die salfie en pleisters byderhand gehad wat selfs daai drama kon aanspreek. Teen die middagtyd was die pleisters al af. Net ‘n geskaafde knieg is al aandenking wat hy oorhou van die gebeure.
Die Wêreldbeker raak al hoe meer spannend soos ons die einde van die uitspeelrondtes bereik. Almal begin voorspellings maak, opinies lig, wyshede kwyt raak. Almal raak ‘n kenner. Ek ook. Namibië se hele span gaan nou têkkelskool toe. Die Uruguay-wedstryd was hul enigste hoop om hul eerste wedstryd ooit in ‘n Wêreldbeker te kon wen, en toe spandeer meeste van hul spelers in die koelkas. Allister sê dit was net swak tegniek in die oomblik. Antoine Du Pont se gebreekte wangbeen is juis as gevolg van ‘n ‘’Windhoek-Half-Nelson’’ en nou wonder almal wat die kleur van sy masker gaan wees tydens die kwarteind. Ek dink hy hoef nie verder as ‘’Phantom of the Opera’’ te soek nie.
Samoa gaan voortaan leer om 80 minute met net veertien manne te speel in plaas van vyftien. Hulle kry dit nog nie heeltemal reg nie…dalk met die volgende Wêreldbeker sal hulle die kuns vervolmaak het. Hulle het reeds gevra of hulle tydens halftyd hul lemoene op die veld kan eet want dis die enigste tyd, naas die volkslied, waar al hul spelers op die veld is. Japan veg soos ‘n klomp Samoerais en ek dink die Argentyne sal moet lig slaap hierdie week. Die einste Argentyne het die Tango gedans en Chilli, die Salsa. Dit was die dance-off van die Latyns-Amerika grotes. Die Tango is meer klassiek en statig maar in die tweede helfde het die Pumas oorgegaan na die Rumba en Chilli kon nie byhou nie. Hoop hulle dansskoene sal die Japanners kan fnuik volgende week.
Die All Blacks het ‘n lang breek gehad en hoe langer hul nie gespeel het nie, hoe swakker het hulle begin raak in die media se oë. So swak, dat selfs Italië (wat spog met die swakste Wêreldbekerrekord teen die All Blacks) dreigemente na hulle kant toe gegooi het. Dit het die REUS wakker gemaak en dit het hom kwaad gemaak. So kwaad, dat hulle Italië eenvoudig uit die pad gevee het. Die manne in swart het gespeel met flair, passie, asof niks hulle pla nie en erns het hul vaste-vyf ook partytjie toe gekom. Hulle het met soveel mag gespeel dat van die Ierse ondersteuners nou saamsweer dat die Bokke aspris verloor het teen die Iere sodat hulle nie die All Blacks hoef te tem in die top-agt nie. Dalk het Rassie iets geweet wat die ander afrigters nie geweet het nie…iets soos…jy nie die All Blacks op hierdie verhoog moet verneder nie…hulle gaan terugkom en jou saggies, op-dons ! Ek dink die Iere druk skaapdrolle.
Fidji moes baklei teen ‘n begeesterde en besete Georgië. ‘n Paar besluite het Fidji bevoordeel…asof Wêreldrugby hulle geskuld het vir die blapse wat die skeidsregters teen Wallis geblaas het. Fidji moet nog stempel afdruk maar die kanse lyk goed om deur te glip kwarteind toe. Hulle kort nog een punt teen Portugal. Die einste hardnekkige Portugal wat Australie se A-span ‘n goeie ‘’skrik’’ gegee het. Die Aussies het al hul rugby-vaardighede verloor…asof iemand met dit weggeloop het. Darem het hul klaar gekwalifiseer vir 2027 (slegs omdat hulle die gashere gaan wees). Die Skotte het ook sirkels om Roemenië gehardloop. Hulle wil die Iere tem en benodig soveel punte aan hulle kant as moontlik.
Dan is dit die Bokke. Die tamaaie Tongane het hul nommer 3 kaptein ('n man wat 151kg weeg en ook vir Bordeaux se Top14-span rugby speel) een lopie na die ander soos 'n kanon na die Bokke se verdediging geskiet. Hulle intensies was duidelik. Hulle wou kom seermaak en die Bokke moes net harder terugslaan tot iets knak. Halftyd was die Bokke voor maar glad nie gemaklik nie. Die bonuspunt was prioriteit maar die punteverskil was net so belangrik...net sodat die Skotte en die Iere nie met hul eie slinkse plan vorendag kan kom nie. Kom ons kyk of dit genoeg was.
Groetnis/ Salutations
Die Vallende Venters
Comments
Post a Comment