Die Veelbewoë Venters

55. Jakkals trou met Wolf se vrou

Die weer en kos is nie kleinpraatjies (small talk) in Frankryk nie. Dis ernstige sake. “Hoe lyk die weer daar by julle?” is ‘n doelgerigte vraag. Dis nie ‘n ysbreker nie…dit is kritiese inligting wat die Franse graag met mekaar deel sodat elke Fransman die meeste uit die dag kan put. Kyk maar net vir Antoine DuPont en Siya Kolisi…hulle het eers oor die weer gepraat voor die loting van die wedstryd tussen die twee lande. In 'n land waar die weer so wisselvallig en tog voorspelbaar is, praat hulle graag voor die kwartfinaal daaroor. Dit kan lewe en dood beteken. 

Ons weer by ons het begin verander en dit is die begin van die reënseisoen en alhoewel die rëen bietjie laat is hierdie jaar, wyk dit nie af van die tipiese patroon wat ons hierdie tyd van die jaar moet verwag nie. Dit rëen bietjie, dan skyn die son ‘n bietjie en dan waai die wind ‘n bietjie en dan reën dit weer katte en honde…vir ‘n rukkie, en so herhaal die patroon hom elke dag. Oupa en ouma hou hierdie veranderinge dop, want hulle wil uitkom. Ons moet bietjie gaan stap en die sambrele kom saam, net ingeval die wolke hul nat hare skud en ‘n sjor-water afstuur aarde toe. Oupa het ook besef, dat hy tog ‘n paar Franse woorde moet aanleer en gebruik. “Bonjour” is ‘n goeie begin. “Hallo” kry nie baie aftrek nie al is dit met die grootste liefde bedoel. Die snaaksigheid om met Afrikaans te begin gesels en dan oor te skakel Engels toe…het nie impak nie. Die humor verskil en die mense hier praat een taal. BAKKIES-taal ! Handgebare, snaakse gesigsuitdrukkings en ‘n paar mondgeluide vat hom verder as Engels in baie gevalle. Welkom in ons lewe.
Ons vyf gaan hierdie week in Pays Basque (Basque country) of Baskeland, rond rits en die wêreld daar verken. Biaritz, Saint Jean de Lutz, San Sebastian en die Rhune gebied, wat aan die westekant van die Pirenëe gelee is, is op ons besoeklysie. Ons smag na die berge…die majestueusheid daarvan. Ons wil bietjie uitkyk, die verte in en die beste plek om dit te doen, is op ‘n berg. Dis skoolvakansie en ons gaan platteland toe…om te gaan rus. Hoop ek.

Die finaliste van die Rugby Wêreldbeker is laas naweek onoffisiëel al aangekondig en Vrydagaand was net ‘n formaliteit. Almal het gedink Argentinië en Engeland moet eintlik maar net die punte stuur. Die groen- en swartmasjiene het, volgens die publiek, reeds hul plek in die finaal bespreek. Ek het meer verwag van die Pumas. 'n Punteverskil van vyftien tot twintig maar nie byna veertig nie. Die ABs het hulself geniet en almal het geweet dat die Kiwis hierdie een maklik sou wen. Die semi tussen die Bokke en die Rose…het glad nie uitgespeel soos ons verwag het nie. Ek dink Rassie het ook nie dit verwag nie…asof hulle reeds een hand op die trofee gehad het. Dit het gerëen en die bal was nat en glad. Die Engelse het geskop en nogmaals geskop. Hulle het die Bokke frustreer en geforseer om by hul wedstrydplan aan te pas. Hulle het dit reggekry, vir byna 75% van die wedstryd, en dit het die Bomb Squad geneem om die span onder daai beswyming uit te pluk. Die Engelse se missie was duidelik, hulle wou onder ons velle inklim, hulle wou die heeltyd by die skeidsregter klik, en dan was hulle ook hierdie vroom pligsgetroue ja-broertjies wat die skeidsregter heeltyd besig gehou het sodat die Bokke nie “airtime” met hom kon kry nie. Wat het dit geverg? ‘n Viking, ‘n Kwagga, een Branna met ys, ‘n Blond en ‘n Ox. Die lynstane het begin werk, die skrums het begin domineer en die koelkop Polly het die bal sekuur deur die pale gejaag. 
Hierdie was ‘n wekroep. As die Bokke effe geslaap het hierdie naweek, gaan hulle moet wakker skrik voor Saterdag. Dis die finale en dis waarvoor hulle voorberei het. Die Franse gee steeds die skeidsregter die skuld en nou sê hulle dit is dieselfde skeidsregter wat ons deur hierdie wedstryd ook gekry het. Die enigste manier om daai score te settle is om die Kiwis te klop. Die hele Frankryk gaan natuurlik die Kiwis ondersteun… hulle het mos niks met die Franse se vertoning by hierdie toernooi uit te waai nie. Die Franse-, Iere- en nou die Engelse spanne gaan ook die finaal kan meemaak…hulle moet net kaartjies koop.

Groetnis/ Salutations

Die Veelbewoë Venters

Comments

Popular Posts