Die Verheugde Venters
Hierdie week het Oupa en Ouma Venter (Jos s’n) kom kuier. Al die pad van Suid-Afrika en net betyds vir Jos se verjaarsdag. Opgewonde en ongeduldig, wag ek en Lisa by die busstop waar hul bus moet stop. Eers het die aflaaipunt geskuif en ons moet vinnig ‘n paar honderd meter in ‘n ander rigting gaan. “Waar is die bus dan nou? Het ons hom gemis of is hy laat? Hoekom is hy laat?” praat ons tussen die twee van ons. Ons is angstig. Het die oumense nie dalk by die verkeerde stop afgeklim nie? Ons kan nie bel nie…want oupa en ouma het nie wifi nie…ook nie op die bus nie. Net toe ons alternatiewe planne begin beraam…draai die 743-Bus van Amsterdam by die stasie in. Bekommerd wag ons …is hulle op die bus? Dit was ‘n lang rit via Brussels en sekerlik nie die mees romantiese manier om so ver te reis nie. Toe met eens…sien ons die lang rok en die blou-pers tekkies by die trappe afklim. Hinke-pink van die lang sit, gryp ek sommer my ma en tel haar op. Pa is nie ver agter nie en ons giggel en glimlag van oor tot oor. Ons het hulle gemis! Die laaste keer wat ons mekaar gedruk het, was toe ons gegroet het. Dis meer as ‘n jaar terug. Snaaks hoe die geite, reuke en praatjies net nie dieselfde oor ‘n telefoon as in lewendelywe, is nie. Video calls maak dinge beter maar dis nie regtig nie. Al jou sintuie moet aangeskakel word en dan is die ervaring soveel meer soeter. Hulle is vir vyf weke by ons en sommer uit die staanspoor word daar al beplan wat als gedoen gaan word. Beskuitbak, naaldwerk doen, DIY en sommer rondrits om vir Jos by die skool op te tel. Ons gaan nog heelwat ontdek en beleef.
Dis Jos se tweede verjaarsdagviering in Frankryk en hierdie keer is dit nie meer ‘n “haas-uit-die-hoed” keuse van maatjies nie. Hierdie keer het hy sy tjommies genooi. Akif, Nathan, Gabriel, Louis-Mathieu, Timothy en nog ander. Nou jol hulle in egte Frans en ons sing Joyeux Anniversaire (se korrekte woorde) baie beter as laasjaar. Hy is elf jaar oud en geniet elke dag soos hy kom. Nou is ouma en oupa ook nog hier…so hy is in die wolke.
Die kwartfinale was vol sports en spanning. Ek het drie uit die vier reg geraai. Argentinië het my verras. Die Walliesers het eers nommers weggegooi en toe bietjie naam. Toe die Drake begin foute maak, toe ruik die Pumas bloed. Nie eers Prins William en sy prinsie kon hul motiveer nie. Ek kan net dink wat moes deur die koppe van die Pumas gegaan het…Eye of the Tiger…van Rocky. Die Wêreldbeker het net weer sy strawwe pen ingeslaan. Dis ‘n 33 man toernooi. Na ‘n maand se rugby, gaan die manne seer wees. Biggar is af en Wallis se rooiwangetjies en melkbaardjies op die bank kon nie die druk handteer nie. Die eerste Noordelike Halfrondspan is uitgeskakel.
Die Kiwis het ‘n senuweeagtige begin gehad maar die Iere se kaplyn was mooi skoon. Hulle gaan nie net sommer enigeiemand ongesiens deurlaat nie…totdat die manne in swart met georganiseerde chaos oorgekruip het. “Hoek toe!” was die instruksie van die Ierse afrigtingspan…en die ABs het dit verwag. Die Iere het reeds hul hand teen die Bokke gewys. ‘n Gesuipte speler, genaamd Paniek, het stadig maar seker stelling in geneem. Sexton skop mis, hulle maak hoë risiko moves wat foute forseer en toe knak hulle. Naas Botha het al gesê: “Jy wen nie die Curriebeker in Mei nie.” So wen jy ook nie die Wêreldbeker in die groepwedstryde nie. Om Wêreld nommer een te wees is nie dieselfde as om ‘n Wêreldkampioen te wees nie. Dis waar die ABs en die Bokke die Iere en Franse kom herhinner het aan. Die kwarteindvloek het weer ‘n keer in Ierland se keel gaan vassteek.
Die wedstryd tussen Fidji en Engeland was te naby na my sin. Die Fidjiane was net te strydig regdeur die reeks. Die Engelse het meer ervaring agter hulle gehad maar op die ouend het hulle gespeel om nie te verloor nie in plaas daarvan om te speel om te wen. Daar’s ‘n verskil. Buiten die geboe van die Engelse skare sodra Farrel die bal vat, wys Farrel ook nie goeie leierseienskappe wat gaan maak dat die publiek weer verlief raak op hulle nie. Die disrespekvolle grinnik wat hy elke keer wys as die skeidsregter sy besluit verduidelik, maak my ook sommer krapperig. Daar is ‘n toksiese koggel-kultuur wat heers in daai span en dit is nie karaktertrekke wat jy in ‘n Wêreldkampioen wil sien nie.
Nog voor die afskop tussen die Bokke en die Hane, het die Franse Rassie beskuldig dat hy boonop skaak meng met rugby. Hulle het nog ‘n kasteel oor, ‘n paar pionne en ‘n brawe biskop (DuPont) wat hul koning moet beskerm. Met Libbok en Reinach het ek ‘n haastigheid verwag maar nie so blitsig nie. Die 5-3 split op die bank, het ek meer as back-up opgesom eerder as die groter Rassie-plan. Drie drieë elk na die eerste helfde ? Dis te veel! Dis nie hoe jy knock-out rugby speel nie. Nou ja…partykeer is die beste manier van verdediging…VAL AAN! As die Franse hou van hardloop, kom ons hardloop terug. Net na die draai van die helfde, toe verander die wedstrydplan. Faffie en Polly verander die tempo en toe beide spanne genoeg kilometers gehol het die eerste helfde, toe skop deurnis, uithouvermoë en geweld in. Dis wanneer die Bokke diep grawe…daar waar dit donker is…en gaan hul oor in verwoesting. Die Franse is ‘n goeie span, moet nie ‘n fout maak nie. Hulle het 80 000 mense wat blêr, dis blou, en al intensie wat jy het is om hul Koning te steel. Hulle weet dit nog net nie. Dit was op ‘n mespunt die hele wedstryd deur. Daar was baie ongelukkigheid hierdie week. Die Franse kla oor die skeidsregter. Oral is videos waar hulle die foute uitwys…presies daai goed wat Rassie al ‘n paar maande terug oor gepraat het. “Hy het net suur druiwe,” het hulle gesê. “Swak verloorder.” Ek dink hierdie reaksie is normaal wanneer die skoen aan die ander voet is.
Ek het dit wel goed gedink om Maandagoggend met my Springboktrui, soos ‘n dapper muis, by die werk op te daag. Of hierdie ‘n goeie gebaar was, sal ek nog leer. Hul wonde was nog rou…eers na dag drie het die rofie begin vorm en kon ek soos Adele sing: “Hello…it’s me.”
Groetnis/ Salutations
Die Verheugde Venters
Comments
Post a Comment