Die Voortreflike Venters
53. Spanner in die Works
Dis Jos se skuld ! Ons het hierdie perfekte plan gehad…wat baie dinkwerk geverg het. ‘n Plan wat vir die laaste jaar seepglad verloop het. Ek en Lisa brag nie sommer nie, maar hierdie plan was stiptelik…amper so pront soos Rassie se 7-1. Elkeen het ‘n rol gehad om te vervul. Elkeen in ons familie het presies geweet waarop om te fokus en wanneer om oor te sit na die volgende rat. ‘n Goed geoliede masjien…totdat 'n sekere iemand besluit het om vinniger te versnel en die ander agter te los. Dis Jos se skuld ! Hy het ons planne in die wiele gery. Wie kon nou voorsien dat hy so vinnig gaan aanpas en uitblink. Hy het ons eenvoudig nie meer nodig nie…sy tutor sê ook : ‘’Vous n’avez plus besoin de moi’’ (Julle het my nie meer nodig nie). Toe Lisa die juffrou by die skool vra waar sy vir Jos kon inskryf vir extra Franse taalhulp of ektra wiskunde vir die wat nog nuut is met Frans, toe antwoord sy : ‘’Joshua ? Il n’a pas besoin cela’’ (Hy het dit nie nodig nie). Hy presteer in sy Wiskunde. Ek verstaan nie eers die vrae in Frans nie, en hy gee die antwoord in breuke, kommas en syfers.
Hy is ook gekies as ‘’Dèlègue supplèmentaire’’ van sy klas. Dis amper soos onder-kaptein. Hy praat met die ref as die kaptein van die veld af is en dan lig hy die span in van wat die ref gesê het. Hy moes ‘n kort praatjie voorberei het en moes dit voordra in die klas, en gebasseer daarop, het hulle hom gekies. Die praatjie het darem nie gehandel oor Wêreldvrede nie maar eerder speelgrondvrede, verdraagsaamheid, respek en spanwerk. Hy moes ook ‘n vorm invul vir die juffrou waar hy sy huidige en toekomstige projekte bekend moes maak. Ek dink hy het die vraag verkeerd verstaan want sy antwoord was, dat hy tans besig is met ‘n Powerpoint presentation oor Dragons en ander diere.
Hierdie manewales beteken dat ons plan, waar Lisa vir ses maande liggies rondom die huis "hover" vir ingeval Jos haar gaan nodig hê, nie meer van nut gaan wees nie. Die stormsprong na Collège was oënskynlik toe nie sooo groot nie en blyk toe al die tyd ‘n briesie te wees. Dit beteken ook dat Lisa haar CV vroëer aanmekaar moes slaan. Dis nie net haar eerste Franse CV nie…dis haar eerste CV ooit. Sy was nog altyd ‘n baas van ‘n plaas en het nog nooit nodig gehad om aan die ontvangkant van ‘n onderhoud te wees nie. Dis ‘n geskarrel na mooi beskrywende naamwoordjies, opsomming van ervaringe, omskrywing van vermoëens en ambisies. Dan moet diè vertaal word…en dan moet sy in Frans ‘n gesprek kan voer. Lisa is besig om toetslopies te doen met verskeie vriende en kennise en dan gaan sy Toktokkie speel en haarself voorstel aan vreemdelinge wat werk adverteer... net om te oefen om te ‘’interview." Die GROOT stap om bietjie meer spesifiek te wees, volg daarna. Sy moet dan besluit waar en waarvoor sy wil aansoek doen. Dit als is Jos se skuld !
Snorre (Pieter de Villiers) het mos eendag gesê : ‘’Daar is een ding wat elke coach moet weet… hy gaan ge-fire word.’’ Hier is ‘n paar afrigters wat sekerlik die trekpas gaan kry. Eddie miskien, Italië s'n en dan is daar 'n paar afrigters wat sommer voor die aanvang van die toernooi al aangekondig het dat hulle gaan waai. Japan het reeds begin adverteer. Jacques gaan vir Leinster afrig…en die Engelse kyk of hulle eerder nog ‘n afrigter kan aanstel. Hulle het reeds al so baie.
Die All-Blacks was taamlik tydsaam voor hul eers die tellinghouer begin pla het…so stadig dat die Urugyuans amper eerste op die telbord gaan kuier het. Maar, toe die Bloues eers begin foute maak, toe breek die wal. Ian Forster het heelwat te sê vir 'n Nieu-Seelandse afrigter, die laaste tyd. Dis nie gewoonlik die geval nie. Hy klap so bietjie na die dompkrag spel van die Iere en die Bokke. Ek weet darem nie, Ian…ek sal nie Namibië, Uruguay en selfs Italië as maatstaf gebruik vir die aanskoulike vonkelwyn-rugby wat die All-Blacks probeer speel nie. Die fors van ‘n bomb-squat scrum, ‘n rolgemaal in die middel van die veld, ‘n stormloop wat ribbes kraak en skouers verlam…is net so pragtig soos ‘n oorslaan aangee of 'n side-step drie . Die Hane het ook met ‘n vaart weggespring teen die Pasta-pêrre. Hulle het geweet die Italianers is emosioneel nog gekrenk na die vorige naweek se verwoesting…soo…hulle moes ‘n dingendheid bring vandat die fluitjie geblaas het. Hulle wou ook ‘n stempel afdruk en wys dat daar nie te veel ge-phaff hoef te word oor die All Blacks nie.
Die Georgiërs vat nie nonsens nie. Daar was ‘n paar buiteperde wat vir ‘n verrassing kon sorg en die kwarteind kon haal. Groep C het twee sulke spanne gehad. Fidji en Georgië. Hulle moes vir ‘n skokuitslag gesorg het om die groep heel deurmekaar te krap. Fidji het dit reeds reggekry maar die ander spanne wat ook moontlik 'n kans gestaan het, was Japan en Skotland. Georgië se intensies was duidelik…hulle wou weer teen Wallis wen. Wallis se plekkie is wel geboek. Ek is verbaas…in ag genome waar hul hulself bevind het ‘n paar maande terug, kan niemand hulle meer onderskat nie. Al die komplotte is ter ruste gestel. Ierland en Skotland is toe nie sulke groot tjomme nie. Die Iere is sterk…baie sterk. Al wie hulle nou kan pootjie, is hulself. Hoe groot is hul BMT ? Hulle het nog nooit verder as die kwarteind in dié toernooi gevorder nie. Die All Blacks gaan hul daaraan herhinner…elke oomblik hierdie week.
Daar was ook nog altyd ‘n venynigheid tussen Engeland en Samoa…veral as daar ‘n Samoaan in die Rooskleurige kleure speel. Hulle truie is gewoonlik wit maar kort voor lank, bloei hulle en dan verander die truitjie in pragtige kleure. Die Samoane het snaaks-genoeg in koningsblou gespeel, en so ook al die vorige Tualagi-broers. Die Tualagis het ‘n bloeddorstige, beenbrekende bulldozer reputasie in Wêreldrugby en die kleinboetie gaan nie oorgesien word net omdat hy nou God save the King kan sing nie. Argentinië en Japan het nie net rugby gespeel nie, sommer tennis ook. Dan druk die een en dan druk die ander…heen en weer. Die Pumas het genoeg gedoen om deur te dring na die volgende rondte en sal teen Wallis moet speel. Die houtlepel vir Groep B het gegaan aan die Romeine…Tonga was net te sterk. Meeste van Roemenië se punte in hierdie toernooi is in die laaste wedstryd aangeteken. Fidji se kersies was byna te vroeg uitgeblaas. As dit nie vir die verloorbonuspunt was nie, sou die Ozzies, die Flying Fijians by die lughawe gegroet het. Die Porras sorg toe juis vir nog 'n skokuitslag in Groep C.
Hierdie week gaan gespanne wees…ek dink die media gaan nou aspris ‘n klomp goed kwyt raak…net om emosies aan te hits. Ek is optimisties en versigtig. As die Bokke die geleentheid gaan gee vir die Hane om te hardloop…gaan ons dit nie maak nie. Nou is die tyd vir die sogenaamde ‘’boring’’ rugby…en ek vermoed die Bokke is lus vir French Fried Chicken.
Groetnis/ Salutations
Die Voortreflike Venters
Comments
Post a Comment